DIE GELYKENISSE VAN JESUS (12)

U kan hierdie reeks geskryf deur ds Andrè van den Berg lees by Jesus se gelykenisse

Die Fariseër en die tollenaar

Luk.18:9-14

Benewens hierdie gelykenis, het Jesus tydens sy aardse bediening ook ʼn paar ander oor gebed vertel.   Die gelykenis van die onbeskaamde vriend en dié van die weduwee en die harde regter is voorbeelde hiervan.  Dit was vir Jesus baie belangrik dat mense die belangrikheid en die krag van gebed sou bestaan.

In die Evangelies lees ons dat Jesus dikwels gebid het.  Die hele Joh.17 bestaan uit een van sy gebede.  Jesus wou hê dat dit wat vir Hom belangrik was, ook vir gelowiges belangrik moes wees.  Daar moes by hulle geen onduidelikheid oor die ware karakter van gebed wees nie sodat hulle reg kon bid.  Vandaar dan ook die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar.

Die les wat hierdie gelykenis ons leer, is dat God anders as mense oordeel:  “My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie” (Jes.55:8).  Daarom begin die gelykenis met die woorde: “En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel" (:9).

Wie was hierdie sommige wat op hulleself vertrou?   Niemand anders as die Fariseërs nie!   Hulle was ʼn klas op hul eie wat in die godsdienstige tuin van die Jodedom gekweek is en hul as die bloudruk van godsdienstige volmaaktheid voorgedoen het.

   Hierdie foutiewe opvatting het tot ernstige misstande op godsdienstige gebied gelei wat twee ergerlike sondes laat ontstaan het t.w.v. hoogmoed en ʼn geringskatting van die medemens - godsdienstige snobisme! Hoogmoed en liefdeloosheid is stalmaats.  En waar hierdie twee heers, ontbreek dit aan geregtigheid soos Jesus met hierdie gelykenis aantoon.

Let op hoe die twee mans in die gelykenis dieselfde dinge doen – beide gaan op dieselfde tyd die tempel binne.  Beide bid.  Daarvandaan gaan beide huis –toe.   Tog was dit wat hulle gedoen het nie die selfde nie, maar verskil soos die dag van die nag.  Op die oog af het dit glad nie so gelyk nie.  Een ding moet ons weet: God ken ons soos ons is.  Hy weet presies wat in ons hart aangaan.  In Openb.2:23 sê Jesus vir die gelowiges in Thiatire:  “... en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek...”

In die gelykenis hou Jesus vir daardie tyd ʼn ongewone prentjie voor - ʼn Fariseër en tollenaar gelyktydig in die tempel en dan nog langs mekaar!   Jy kon jou nouliks ʼn groter teenstelling in die eertydse Joodse samelewing as dit voorstel.

Maar wie was die Fariseërs nou eintlik?  As daar vandag van iemand as ʼn Fariseër gepraat word, is dit baie negatief.  In die tyd van Jesus was dit anders.  Die Fariseërs was vrome mense by uitnemendheid en het hoë aansien geniet.  Dit was die gepoleerde kerklui van destyds – onberispelike mense wat die Wet en elke godsdienstige plig probeer nakom het.  Hulle was ook bekend vir goeie dade.  As daar geld vir ʼn goeie saak gevind moes word, is die Fariseërs genader.

Die Joodse godsdiens het op drie pilare gerus – liefdadigheid, gebed en vas.   Hieraan te oordeel, het die Fariseërs kop en skouers bo hul volksgenote gestaan.  Hulle het selfs skoling in die gebed gehad en op vasgestelde tye gebid - sewe maal per dag.  Van Daniël lees ons: “... hy het in sy huis gegaan; en hy het in sy bo kamer vensters gehad wat oop was in die rigting van Jerusalem, en hy het drie maal op ʼn dag op sy knieë geval en gebid en lofprysinge uitgespreek voor sy God...” (Dan.6:23).

In die gelykenis staan die tollenaar as ʼn verstoteling teenoor die Fariseër in die tempel.  Hy voel so ontuis soos ʼn panda in Uganda!   Die Jode het hulle verag omdat hulle in diens van die volksvyand (Romeine) was.  Tollenaars was in hulle oë verraaiers (hans-kakies).  Dit was nie hulle soort nie!

Daarom was die kerklui baie onthuts toe tollenaars saam met Jesus aan huis geëet het: “En toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom saam met die tollenaars en sondaars sien eet, sê hulle vir sy dissipels: Wat is dit dat Hy saam met tollenaars en sondaars eet en drink?” (Mark.2:16).  Tollenaars moes eerder in die geselskap van sondaars, mense buite die kerk, wees!

Die Jode het tollenaars allermins as godsdienstige mense beskou.  Inteendeel!   Daarom was dit vir die Fariseër vreemd dat ʼn tollenaar in die tempel kom bid het.  Die Jode het geglo dat tollenaars eerder geld aanbid het en niks en niemand ontsien het om geld te maak nie.  Baie tollenaars het dan ook op bedenklike wyses geld gemaak.  Hoor wat sê Saggeus die hooftollenaar van Jerigo na sy bekering vir Jesus: “...... Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbeld terug” (Luk.19:8).

As diegene wat in die tempel aanwesig was hierdie mans moes beoordeel, sou die Fariseër as die meer fatsoenlike een met die louere wegstap en die tollenaar skeef aangekyk word.  Maar Jesus keer die sake om; Hy let nie op die uiterlike godsdienstige vertoon nie, maar op die innerlike gesteldheid van die hart.  Ware godsdiens is immers ʼn saak van die hart.  Daarom let Jesus op die aard en die inhoud van gebed omdat dit ʼn spieël van die hart is.   Aan gebed hoor ʼn mens hoe ʼn persoon se hart klop.

Die Fariseër was baie selfverseker en tuis in die tempel.  “En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: O God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry” (11,12).  Sy roem in eie geregtigheid was niks ongewoon nie.  Die Fariseërs was  baie daarop gesteld!    Paulus was ook ʼn Fariseër. Hy skryf aan die Filippense: “Ek is besny op die agtste dag , uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ʼn Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ʼn Fariseër” (Fil.3:6).

Wanneer die Fariseër in die tempel bid, noem hy die openlike, ergerlike sondes van sy tyd by die naam: “...ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers..". en las sommer ʼn stertjie aan: “... of ook soos hierdie tollenaar nie”. Hy sê dat hy van geen ergerlike sonde in sy lewe weet nie.

Daarna rek hy sy gebed uit deur, soos die spreekwoordelike jakkals, sy eie stert te prys want oor homself het hy baie te sê.    Eers dank hy God vir wat hy nie is nie.  Daarna gaan hy voort om die Here mee te deel wat hy wel is; ʼn getroue lidmaat in al die godsdienstige pligte wat hom opgelê is.  Hy doen trouens selfs baie meer as dit wat hom opgelê is.   Die Here moet tog kennis hiervan neem!

Sy gebed beantwoord geensins aan die vereistes van ware gebed nie.  Kyk weer na sy gebed.  Hy wens hom eerder self geluk!  Wat die ergste is, is dat hy glo dat God dit in orde vind!  Maar God oordeel anders.  Hy ken die man se hart dat hy vals is en die tollenaar dat hy opreg is.

Bewus van sy eie onwaardigheid voor die heilige God staan die tollenaar op ʼn eerbiedige afstand: “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: O God, wees my, sondaar, genadig! "

Dit was vreemd vir ʼn tollenaar om in die tempel te wees  omdat almal hom daar verag het.  Wat hierdie man daarheen laat kom het, word nie gesê nie.  Dit moes ʼn baie groot nood in sy hart gewees het.  Ander aanbidders hef die hande op.  Hy kyk nie eens op nie.   Hy weet dat hy niks aan God se voete kan lê nie, nie geld, offers of diensbaarheid nie.  Hy het absoluut niks nie.  Daarom die bede: “... O God, wees my, sondaar, genadig! "

Met hierdie woorde het die tollenaar homself onvoorwaardelik op God gewerp.   Hy het die diepte van sy verlorenheid besef en sy swaar dra aan sonde vir God gegee.  En dis hom tot geregtigheid gereken. “... Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een;” Geregtigheid is God se genadige uitwissing van sondeskuld.   Geen mens kan sy geregtigheid verdien soos wat die Fariseër geglo het nie.  Die uiteinde is dat die Fariseër in sy tergende ongeregtigheid voortgeleef het; ongered en verlore.

Wat leer hierdie gelykenis ons ten slotte?  Dat wie ookal, soos ʼn prins na die Here kom, soos ʼn bedelaar weggaan.   Maar wie soos ʼn  bedelaar na die Here kom, gaan soos ʼn prins daar weg.  Daarom sluit Jesus met die baie bekende woorde af: “... want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word."