AKTUELE VRAE
Lees reeks by Aktuele vrae
Die Bybel leer ons dat Jesus broers en susters gehad het. "Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? "(Matt 13:55). Matt 12:46-47 en Markus 3:31-32 vertel van 'n tyd toe Jesus die mense onderrig het en Maria en sy fisiese broers buite die skare gestaan het omdat hulle met Hom wou praat.
Die Bybel sê in Johannes 7:5 dat selfs Jesus se broers Hom in die begin van sy bediening verwerp het: "Selfs sy broers het nie in Hom geglo nie".
Die woord 'broers' moet hier na sy fisiese broers verwys. God se Woord sê later vir ons dat sy broers uiteindelik vir Jesus as hul Verlosser aanvaar het. Handelinge 1:14 sê dat, terwyl die dissipels in die bokamer in Jerusalem gewag het, Maria en Jesus se broers by hulle aangesluit het: "Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed saam met 'n aantal vroue, onder wie ook Maria, die moeder van Jesus. Sy broers was ook by."
Een van Jesus se broers het selfs 'n apostel geword: "Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus, die broer van die Here." Gal 1:19.