VRYMESSELAAR BEDANK

BEDANKINGSBRIEF VAN GEWESE VRYMESSELAARSMEESTER

Waarom ek die Vrymesselary verlaat het

"Sorgvuldige lees van die rituele van Vrymesselary sal dit ontbloot as 'n volledige en selfgenoegsame morele en geestelike gids deur hierdie wêreld en tot in die hiernamaals. Dit is 'n godsdiens van algehele regverdigheid en opregtheid en fatsoenlikheid  van regverdigmaking deur goeie werke - maar dit is nie 'n godsdiens van heiligheid of nederigheid nie."

Aan die Agbare Meester,
Vrymesselaarslosie.

Lede Broeders,

Byna van die begin van my Vrymesselaarslidmaatskap het ek diep belanggestel in die historiese en Bybelse agtergrond en fondament van die Vrymesselaarsbroederskap. Ek het werke van tans lewende skrywers gelees - werke geskryf deur mense wat tans nog lede van die Vrymesselaarsbroederskap is - werke wat 'n volledige beskrywing  en ontleding gee van elke graad in die Vrymesselary vanaf die Vakleerlinggraad (Enter Apprentice) deur al die vakgrade, die Royal Arch ens., ens. Hierdie studie het my 'n diepe insig gegee, nie net in die geskiedenis van die Vrymesselary nie, maar ook in die geestelike en godsdienstige aspekte van die Vrymesselaarsbroederskap.

Omdat ek 'n belydende Christen is, wedergebore deur die genade van onse Here Jesus Christus, en geheel en al afhanklik van Hom vir elke ademtog; en omdat ek Hom liefhet en dien vir die offers wat Hy op Golgota vir my gebring het; en omdat ek bereid is om rekenskap van my  standpunt te gee voor enige mens - daarom kan ek nie, as gevolg van my bevindinge, langer aan die kant van die Vrymesselary staan nie.

IMMORELE VRYMESSELAARSEDE
Dis waar dat die Vrymesselaarsede afgelê word met die uitdruklike terstandhouding dat hulle op generlei wyse kan bots met 'n lid se morele of godsdienstige pligte nie. Ongetwyfeld neem die agbare Vrymesselaarsmeesters die ede af in alle goeie trou en sien hulle daarin geen moontlikheid van botsings raak nie. Die meerderheid van die Vrymesselaars wat hierdie ede aflê - selfs goeie Christene - is skynbaar nie bewus van enige botsing nie - hoofsaaklik (daarvan is ek vas oortuig) omdat hulle nie die saak logies uitredeneer in die lig van die Christelike geloof nie. Klaarblyklik is die deursnit-Vrymesselaar geen student van die Christelike sedeleer nie en hoewel die grusame strawwe van die verskillende ede dikwels gevoelens skok as dit vir die eerste keer aan hom voorgesê word en hoewel sekere dele van die rituaal onrusbarend verskil van wat hy in sy kerk hoor, verstomp die herhaling daarvan sy gewetens-kwellinge in die loop van die tyd.

VRYMESSELAARSEDE NIE BINDEND VIR 'N CHRISTEN NIE
Maar sodra 'n Christenvryrmesselaar tot die ontnugtering kom dat die Vrymesselary, deur alle gode as gelykwaardig te beskou; of deur vaste gebede na te sê (soos wat dit my baie onaangename taak as Kapelaan van ons Losie vir verskillende jare was) - gebede wat opsetlik die Naam van Jesus Christus weglaat; of deur die naam van God te noem in die benoemingsname van heidense afgode - soos gedoen word in die Royal Arch en ander grade, (onreëlmatighede wat nie aan my geopenbaar is toe ek lid geword het, of op enige tyd daarna nie, maar wat ek self moes ontdek deur intensiewe studie op my eie) verstaan hy, gesien al hierdie dinge, dat sy eed teenoor die Vrymesselary ophou om bindend op sy gewete te wees.

Dit mag redeneer word dat die verpligting tot geheimhouding mag bly, maar as 'n Christenvrymesselaar baie sterk voel dat die Vry­messelary (selfs onopsetlik) sy Christelike geloof ondermyn, deur sy slinkse universalisme (dat alle gode en godsdienste gelykwaardig is en dit direk indruis teen die hoogste majesteit en heerlikheid en eer wat aan Christus toekom, en ook indruis teen die eiesoortige en enige getuie van die Kerk, in sy Naam, dan is dit tog duidelik dat die Christenbroeder in sy gewete gebonde is om te waarsku teen hierdie ondermynende beskouinge, want in die Boek Levitikus, Hoofstuk 5 verse 4 en 5, lees ons: "...as iemand sweer terwyl hy onverskillig met die lippe praat om kwaad of goed te doen -volgens alles wat 'n mens met 'n eed onverskillig kan praat - en dit vir hom verborge was, maar hy dit te wete gekom het en skuldig is aan een van hierdie dinge; as hy dan aan een van hierdie dinge skuldig is, moet hy bely waar hy teen gesondig het."

Ek is daar vas oortuig van dat dit ongeoorloofd is vir 'n Christen om hom te verbind aan 'n godsdienstige of halfgodsdienstige organisasie wat gebede opstuur en God aanbid, maar wat met opset die Naam van ons Here Jesus Christus, die Verlosser, uitsluit. In Hom alleen is verlossing te vind - enige ander beskouing is antichristelik en afvallig. Ek is daar bewus van dat daar baie Christene is, selfs predikante wat nie so dink nie, of omdat hulle dit nie afmaak met die rituele en formuliere van die Vrymesselary nie, of omdat hulle sulke oorweginge soos die goeie werke of die broederlikheid of die morele goedheid van die Vakgrade swaarder laat weeg as die duidelike heidense implikasies van sy leerstellinge. Is dit sedelik reg om jou vooraf met 'n dure eed (gesweer op die Bybel) te verbind tot geheimhouding en getrouheid aan 'n organisasie wat hom besig hou met die geloof en die sedewet op 'n wyse waarvan jy vooraf niks weet nie?

Hierdie ede is die eerste onoorkomelike struikelblok vir elke Christenvrymesselaar wat bekend is met die Woord van God en met die Christelike sedewet.

DIE VRYMESSELARY 'N GODSDIENS!

Dit is aan my gesê dat Vrymesselary nie 'n godsdiens is nie. Tog maak dit daarop aanspraak om godsdienstig te wees. Christenvrymesselaars kan vanselfsprekend nie toegee dat die Vrymesselary 'n godsdiens is nie, want die Christendom is 'n eksklusiewe (unieke) geloof. Hulle weet dat om te erken dat die Vrymesselary 'n godsdiens is, tot gevolg sal hê dat dit die agterdog en ondersoek van die Kerke wat die Vrymesselary nog nie veroordeel het nie sal veroorsaak. Volgens hulle kan dit dan kastig nie 'n mededinger met die Christe­like godsdiens wees nie. Daarom hou hulle aan om te betwis dat die Vrymesselary 'n godsdiens is, nieteenstaande die duidelike implikasies van die Vrymesselaarsrituele en die verklarings van talle Vrymesselaars dat dit wel 'n godsdiens is. Christenvrymesselaars verkies om die Vrymesselary te sien as die diensmaagd van die Kerk - 'n sterk sedelike fondament waarop enige godsdiens gebou kan word -maar nie meer 'n godsdiens as die Padvinders of enige ander kulturele vereniging nie.

Die 'Encyclopaedia of Freemasonry' ('n standaard naslaanwerk van Vrymesselaars wat as gesaghebbend beskou word en ook in ons besit is, noem Vrymesselary "a religious institution non-sectarian, admitting men of any creed to membership" = " 'n godsdienstige instelling, nie-sektaries, wat mans uit enige geloof toelaat tot lidmaatskap".

Dit sê verder van Vrymesselary "it is not Judaism, though there is nothing to offend the Jew" = "dit is nie Judaisme, hoewel daar niks in is wat 'n Jood kan aanstoot gee nie". (Dit is omdat daar geen melding van Christus gemaak word nie, want die Jode het so aan­stoot geneem aan Christus dat hulle die kruis as die enigste regmatige plek vir Hom beskou.)

Verder sê die ensiklopedie "dit is nie Christendom nie, maar daar is niks afkerigs aan die geloof van 'n Christen nie". (Nee, nie as die Christen sy gewete verkrag en toelaat dat sy Heiland negeer, ontken, onteer en verwerp word maar desnieteenstaande lid van sy Losie bly. Die ensiklopedie sê verder: "As Vrymesselary slegs 'n Christelike instelling was, dan kon die Brahmaan, die Boedis en die Mohamedaan nie gewetensgetrou deelgeneem het aan sy verrigting nie; maar sy universalisme (om alle godsdienste gelykwaardig te beskou ) is sy roem; in sy taal kan burgers van alle nasies praat; aan sy altare kan alle godsdienste kniel en sy belydenis kan elke geloof onderskryf."

As 'n Christengelowige kan ek nie so 'n geloof onderskryf nie, want in II Korinthiërs 6 : 14-18 lees ons: "Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: "Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here, en raak nie aan wat onrein is nie en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige."

Hoewel Christenvrymesselaars mag sê dat Vrymesselary nie 'n godsdiens is nie, maar 'n sede- of liefdadigheidsdiensmaagd van die Kerk, is dit 'n feit dat Vrymesselary nêrens so 'n onderdanige of ondergeskikte posisie erken nie. 'n Sorgvuldige lees van die rituele van Vrymesselary sal dit ontbloot as 'n volledige en selfgenoegsame morele en geestelike gids deur hierdie wêreld en tot in die hiernamaals. Dit is 'n godsdiens van algehele regverdigheid en opregtheid en fatsoenlikheid  van regverdigmaking deur goeie werke - maar dit is nie 'n godsdiens van heiligheid of nederigheid nie.

Tog lees ons in Efesiërs 2 : 8 e.v.: "Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie - dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus, tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel."

En in II Korinthiërs 7 vers 1: "Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons van alle besoedeling van die vlees en die gees ons reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring."

GODDELOSE AFVAL
Die Christelike godsdiens is 'n eiesoortige, enige godsdiens. Die kerk bestaan uit hulle wat Jesus Christus aanneem as die Seun van God, hulle enigste Middelaar en Verlosser. Om God te aanbid in formuliere wat Jesus Christus verwerp en om opsetlik sy Naam weg te laat, is 'n daad van goddelose afval waarvoor geen verstandelike voorbehoude kan vergoed nie. Daar mag baie Vrymesselaarsbroeders wees wat anders dink as ek. Dit is verstaanbaar. Maar ek is vas daarvan oortuig dat as enige Christenvrymesselaar die hele saak deeglik en eerlik wil bestudeer, in die lig van die Skrif, hy in sy hart sal weet dat hy verkeerd is en ernstig sy posisie as Christenmens sal betrag, en dan tot dieselfde gevolgtrekkinge sal kom as ek.

My standpunt is nie geïnspireer deur enige kwaadwilligheid teen enige persoon nie. Maar my bedanking uit die Vrymesselary het sy oorsprong in baie ure van studie, besinning en gebed. Ek het lank begeer om 'n Meestervrymesselaar (Master Mason) te wees. Sedert ek 'n Meester geword het en ook u kapelaan, asook sekretaris van u klub, het ek van die beste manne ontmoet om mee om te gaan. Maar ek kan nie gewetensgetrou aangaan met my lidmaatskap van die Vrymesselary nie en daarby bely dat ek 'n gehoorsame Christen is nie. Aanvaar dus asseblief my bedanking uit die Losie...

Ek bedank nie uit 'n gees van meerderwaardigheid of van "heiliger-te-wees-as-julle" nie, maar met die opregte gebed dat die ore, die harte, die verstand en gees van almal van u oopgemaak mag word om die waarheid aan te neem, soos alleen die Heilige Gees dit deur die Bybel kan openbaar. Dit is my opregte wens en gebed vir elke broeder van die Losie, wat voorgee 'n Christen te wees, en wat skade sal ly aan sy onsterflike siel.

Vergun my in liefde aan u die volgende teksverse voor te hou: "Nie op grond van die werke van die geregtigheid wat ons doen nie, maar na sy barmhartigheid, het Hy ons gered, deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser, sodat ons, geregverdig deur sy Genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe" (Titus 3 vers 5-8). Ook Johannes 14 vs. 6: "Jesus sê vir hom: Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe; niemand kom na die Vader, behalwe deur My nie."

Opreg, die uwe, in sy Naam,

(Get.) George C. Schmidt (Snr.)