WAT MOET EK DOEN OM DIE EWIGE LEWE TE BEÊRWE?
Dr JP Botha
In Handelinge 16 vers 30 en 31 vra die Sipier van Filippi aan Paulus en Silas: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle antwoord aan hom was heel eenvoudig: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
Kom ons vul hierdie groot waarheid aan met nog twee tekste uit Johannes 3 verse 14 tot 16: “...so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Die apostel Johannes beklemtoon hierdie heerlike feit nog verskeie kere. In Joh. 3 vers 36 sê hy: “Hy wat in die Seun glo, het die ewige lewe.” In hoofstuk 6 vers 40 haal hy die woorde van die Here Jesus self aan: “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”
Daar is nog tientalle ander voorbeelde in die Skrif wat die geloof in Christus Jesus stel as die grond en die fondament van ons saligheid. Maar die geloof in die Seun is ook tegelykertyd geloof in die almagtige Vader. Dit sê Jesus weer self in Joh. 5 vers 24: “Voorwaar, voorwaar ek sê vir julle, wie My Woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” Jesus sê ook in Joh. 17 vers 3: “En dit is die ewige lewe dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” I Kor. 12 vers 3 sê “...en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.” Om dus die ewige lewe te kan verkry, moet ons in Jesus Christus glo, maar dit beteken tegelyk die geloof in die Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees.
Hoe glo ons? In Romeine 10 vers 9 is geskryf: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.” In vers 13 staan: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” Wie dan in die Here Jesus glo en Hom liefhet, sal ook sy gebooie bewaar. Dit word ‘n taak vir ons hele lewe, die toewyding van ons lewe deur die geloof, want Mat. 24 vers 13 sê: “Want alleen hy wat volhard tot die einde toe, sal gered word.”