Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Pinkster 2014
IN GOD SE OEFENSAAL
Gebed
Skrif: 1 Tim.4:6-16
Sang: Ps.107:1+10; Ges.100:1+4
In 1 Tim.4 vermaan Paulus die jong Timotheüs om geestelik fiks te wees: “Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (:8). Timotheüs was ’n Griek en vir die Grieke was liggaamlike oefening baie belangrik. Griekeland het baie oefensale (gimnasiums) gehad en die plek waar die Olimpiese Spele ontstaan het.
Paulus gebruik die beeld van ’n oefensaal as hy aan Timotheüs skryf. Soos wat liggaamlike oefening ’n mens fisies fiks maak, so maak geestelike oefening jou geestelike fiks. En dis beter as fisiese fiksheid omdat dit “…. die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het”(:8). Liggaamlike fiksheid is slegs van aardse waarde. Na die dood beteken dit niks meer nie.
Geestelike fiksheid het vir beide die lewe voor en veral na die dood ongekende betekenis.Maar wat is geestelike fiksheid? Die daaglikse oefening in die dinge wat God behaag. Let wel: daagliks! Soos liggaamlike oefensessies mense in ’n oefen-saal fiks maak, so maak oefensessies in God se oefensaal mense geestelik fiks. Ek nooi u om die volgende paar dae saam met my in God se oefensaal te oefen sodat ons geestelik fiks kan word en aan God se doel met ons beantwoord.
Die doel van oefening is om jou bestaande vorm deur ’n nuwe gedragspatroon te verander. En om dit reg te kry, moet jy daarmee volhou. Daarvoor het ’n mens ’n oefenprogram nodig. Ook in die geestelike sin. En dit kry ons in die Woord van God. Die Bybel leer ons hoe om geestelik fiks te raak. God voorsien selfs ’n instrukteur - die Heilige Gees! Maar dan moet ons Hom toelaat om ons lewenspatroon te verander en na Hom te luister soos na ’n gimnasium-instrukteur. Jy wil mos fiks wees soos hy: “’n Leerling is nie bo sy meester nie; maar elkeen wat volleerd is, sal soos sy meester wees” (Luk.6:40).
Ek vertrou dat u geestelike oefen-klere saamgebring het want ons gaan aanstons begin oefen. Mag hierdie oefeninge ’n omwenteling in u geestelike lewe bring en ’n gewoonte word wat ons nader aan God sal bring sodat ons waarlik as gesante van God in hierdie bose wêreld kan optree.
Ons oefen-patroon strek oor ses aande en bestaan uit die volgende oefeninge (i) gebed (ii) bepeinsing (iii) sang (iv) geloofsgemeenskap (v) vrygewigheid en (vi) onderrig. As u dié oefeninge baasraak, is u geestelik fiks. Kom ons oefen!
Ek begin by gebed omdat Jesus dit graag beoefen het. En ons wil soos Hy wees! “Maar Hy het Hom in verlate plekke teruggetrek en gebid” (Luk.5:16). Gebed was oefening vir Sy gees. Daarom gebruik Sy volgelinge dit net so baie: “Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging” (Kol.4:2). “Bid sonder ophou” (1 Thess.5:17).
Maar waarom bid ons? Om uitdrukking aan ons bewondering vir God te gee. Die Onse Vader begin ook spesifiek daarmee: “… laat U naam geheilig word” Op sy sterfbed bid Dawid: “Aan U, Here, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, Here, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles” (1 Kron. 29:11). Dit klink byna soos die begin en einde van die Onse Vader!
Daarbenewens vra ons in die gebed dat God se wil in ons lewens sal geskied. Ons eie wil lei so maklik tot selfvernietiging, maar nie God se wil nie. Daarom bid ons in die Onse Vader: “… laat U wil geskied”(Mt.6:10). Gebed is nie ʼn poging om God se wil te verander nie, maar om dit te leer ken. Gevolglik is die doel van gebed ook om Gode se wil te soek en daarna te vra dat Sy wil ook ons wil sal wees.
Vervolgens rig ons ook deur ons gebede versoeke aan God: “gee ons vandag ons daaglikse brood” (:11). Dis uiteraard nodig vir gesondheid want sonder gesondheid sal ons nie leef nie. Wees egter baie versigtig - wanneer ons bid moet ons egter nooit vir God opdragte wil gee nie. Hy is nie ons handlanger nie, maar ons God! Meld eerder vir diens aan. Al is gebed versugtinge wat hemelwaarts gerig word, is dit nie inligtingsessies om God se aandag op ons behoeftes te vestig nie.
Deur gebed bely ons sonde: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh.1:9). In gebed bid ons ook dat God ons oë vir die vangstrikke van die Satan sal open: “en verlos ons van die bose” Ja, die Onse Vader leer ons hoe om reg te bid. Daarom word dit die Model-gebed genoem.
Jesus se apostels leer ons ook baie van gebed. Paulus skryf aan die Tessalonisense: “Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God…” (1 Thess.5:17,18). Gebed is die vernaamste deel van ons dankbaarheid. Gebed maak ’n mens kommervry en rustig: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by god. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil.4:6,7). Wanneer gelowiges hul hande in gebed saamvou, maak God syne vir hulle oop!
Die apostels het ook gereeld vir geleenthede gebid om die Evangelie te vêr-kondig: “en bid tegelykertyd ook vir ons, dat God vir ons die deur van die woord mag open om te spreek van die verborgenheid van Christus” (Kol.4:3).
Alhoewel Jesus en Sy apostels baie saam gebid het, het Hy hulle ook geleer dat daar tye is wanneer hulle alleen moet bid: “En wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; wan t hulle hou daarvan om …. deur die mense gesien te word…. Maar jy, wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is…” (Mt.6:5,6).
Jesus sê ook vir Sy dissipels dat ware gebed nie uit baie woorde bestaan nie. Gelowiges bid meer met hul hart as met hul mond want gebed is meer hart as tong. Dis beter om ʼn hart sonder woorde as woorde sonder ʼn hart te hê!
Jesus leer ook Sy dissipels by wyse van ’n gelykenis om volhardend te bid. Luk.18 - die gelykenis van die weduwee wat by die onregverdige regter om geregtigheid bly aangedring het totdat hy na haar geluister en opgetree het.
Die Bybel het baie voorbeelde van gelowiges wat gebedsfiks was. Dawid, die man na God se hart, het baie gebid: “Maar ek, ek roep God aan en die Here sal my verlos” (Ps.55:17). Daniel is nog ’n voorbeeld van ’n volhardende bidder wat selfs in die leeukuil beland het omdat hy die Babiloniese koning se bevel-skrif veronagsaam het. Hy het proefondervindelik ervaar hoe gebed vanuit die diepste put tot in die hoogste hemel opstyg. Ja, daar is geen afstand so kort as die tussen God en ʼn bidder nie. Gebed beweeg die Hand wat die heelal beweeg.
In die NT word van die profetes Anna gesê: “en sy was ’n weduwee van omtrent vier-en-tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie en met vaste en gebede God gedien, nag en dag” (Luk.2:37). Ja, daar is baie oumense wat gebedsfiks is! In 1Timotheus is daar selfs ’n gebedsvoorskrif vir weduwees: “En sy wat waarlik weduwee is en alleen gelaat is, hoop op God en bly in smeking en gebede dag en nag” (5:5).
Die intree-gebed is net so belangrik. Ons moet vir mekaar bid soos die gelowige Epafras in Kolosse gedoen het: “Epafras wat een van julle is, ’n dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede…” (Kol.4:12). Paulus het ook gereeld vir medegelowiges in ander gemeentes gebid: “Ek dank my God elke maal as ek aan julle dink – en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap” (Fil.1:3,4).
Om vir ander in die gebed in te tree, is ’n bewys van liefde op die knieë. En dit moet ’n gewoonte word want om gebedsfiks te wees, vereis daaglikse oefening. Gelowiges moet so op God ingestel wees, dat hulle nie eers agterkom dat hulle bid nie.
Gebed waarborg geestelike groei. Hoe meer ’n gelowige bid, hoe sterker word hy omdat hy geestelike spiere ontwikkel. ’n Amerikaner het by geleentheid gesê: “Seven days without prayer makes one weak”. Satan vrees niks soos ons gebede nie. Hy spot met ons godsdiens; hy spot met ons kerkgang; hy spot met ons goeie werke, maar hy sidder wanneer ons bid
As jy onfiks is en na ’n gimnasium gaan, begin jy met ’n oefenfiets en daarna beweeg jy aan na ander apparate. As ons geestelik fiks wil word, moet ons by gebed begin. Ons bid verreweg te min!