VRYMESSELAARS

Die mees invloedryke en gevaarlikste organisasie, met die beste bewaarde geheime van alle tye, wat  die Westerse samelewing die afgelope twee en ‘n half eeue geïnfiltreer het, is dié van die Vrymesselaars. Hoe ver terug hulle oorsprong presies lê, is baie moeilik om vas te stel, want onder die lede van hierdie organisasie is baie verskillende menings. Dié van hulle wat aan die Bybelse skeppingsverhaal glo, beweer dat Adam die eerste Vrymesselaar was. Ander sê weer dit was Noag, terwyl ‘n groot groep die tempelbou van Salomo as hul oorsprongdatum  noem. Vanuit ‘n geweldige hoeveelheid inligting het ek gepoog om in hierdie artikel ‘n volledige opsomming te gee van ‘n ondergrondse organisasie wat die Christendom glad nie goed gesind is nie.

Edward Decker is ‘n Amerikaner wat grootgeword het in ‘n familie wat vir geslagte lank  Vrymesselaars was. Hy het sy lewe vir die Here Jesus gegee en tot die besef gekom hoe vals en misleidend  die lering en bedrywighede van die Vrymesselaars is. Sy pa, wat lewenslank ‘n ingeswore Vrymesselaar in een van die hoogste Grade van die organisasie was, het twee jaar voor sy dood ook tot inkeer gekom en alle betrokkenheid daarby bely en afgelê. Decker self beskik oor ‘n baie goeie kennis van hulle gebruike en rituele asook die eed wat deur Vrymesselaars afgelê word. Hy het in kerke daaroor begin getuig en mense daarteen gewaarsku. By verskeie geleenthede het van die gemeentes se ouderlinge en ook predikante hom na die tyd kom waarsku om sy getuienis dadelik te staak as hy nie in groot moeilikheid wil beland nie. Decker het ‘n hele aantal boeke oor hierdie onderwerp geskryf en vir homself baie kritiek en teenstand op die hals gehaal.

Volgens Decker het die Vrymesselaars hul oorsprong in die laat sewentiende en vroeë agtiende eeu gehad toe ambagsmanne in stede en dorpe na werk sosiaal begin kuier het. Hulle het hul vriende, wat nie ambagsmanne was nie, toegelaat om saam te kuier en dit is wat “sosiale Vrymesselary” vandag nog is. “Geestelike of mistieke” Vrymesselary het egter, volgens hom, ‘n heel ander oorsprong. Hy sê die kruisvaarders het Oosterse mistisisme en rituele vanaf hul kruistogte na die Ooste, na  Sentraal Europa, Frankryk en Italië  gebring. Dit is in die kultuur en samelewing opgeneem. Deur die Ridder Tempeliere is hierdie gebruike die kerk ingebring. Selfs ook die vroeë Christene het te doen gekry met die Esseners wat met hul gnostiese meerderwaardigheid die kerk beïnvloed het. Hulle het daarop aanspraak gemaak dat hulle oor geheime kennis beskik wat net aan die ingewydes toevertrou is. Hulle het bekend gestaan as die Voorskootdraers. Hierdie voorskoot het hulle gedra om hulle te bedek in “God se teenwoordigheid”. Dit is interessant dat die Vrymesselaars vandag steeds 'n voorskoot dra. Selfs in die Babiloniese afgodsdiens vind ons dat die priesters van Nimrod voorskote in die tempel tydens hul rituele gedra het.

Soos Decker sê, is daar, sover dit die duiwel aangaan, niks nuut onder die son nie.  Oor en oor gebruik hy dieselfde metodes, elke keer net met ‘n ander mondering. Telkens  moet die mens ‘n hoër kennis verkry,  een  word met die heelal,  só  een  word met ‘n godheid, dat die mens sommer self ‘n god is. So was dit in die tyd van die Esseners en die eerste Vrymesselaars, so is dit met  Boeddisme en die “New Age”-beweging en so is dit ook alles saamgevat, volgens Decker, in die moderne Vrymesselary. Die vroeë Vrymesselaars het oor geweldige mag en rykdom beskik deurdat hulle aan die Ridder Tempeliere behoort het, en hulle het hierdie mag misbruik.

Die skrywer, Myron Fagan, vertel in sy boek “Die Illuminati-C.F.R.-Komplot”, van ‘n ander geheime organisasie wat op 1 Mei 1776 tot stand gekom het. Dit is georganiseer deur ene Adam Weishaupt, ‘n Rooms-Katolieke Priester en gebore Jood. Die Rothschilds-vorstehuis in Duitsland het die skema gefinansier. Hulle doelwit was om alle bestaande regerings omver te werp en die Christelike godsdiens te vernietig. Dit moes hulle bereik deur beheer te verkry oor mense wat reeds  hoë posisies beklee het op regeringsvlakke en ander terreine van die samelewing sodat hulle in ‘n magsgreep gehou kon word. Hulle uiteindelike doelwit was, om deur van oorloë en rewolusies gebruik te maak, ‘n eenwêreldregering en gevolglik ook ‘n eenwêreldgodsdiens tot stand te bring. Hulle het  ‘n langtermyn doelwit voor oë gehad  en geweet dat hulle dit nie binne een geslag sou kon verwesenlik nie.

In 1784 het hulle planne op die lappe gekom deurdat  afskrifte van die sameswering  aan alle staats- en kerkhoofde in Europa gestuur is. Hulle mag was baie sterk, maar hulle moes nogtans toe ondergronds begin funksioneer. Weishaupt het sy aanhangers beveel om die Vrymesselaarslosies te infiltreer. “The New Bank of England” is in Brittanje gestig en ten volle deur hulle beheer. In Amerika is die “Council on Foreign Relations” gestig, wat letterlik, tot vandag toe nog, elke presidentsverkiesing beheer het.

Ds. F.N. van Niekerk het in 1971 ‘n boekie geskryf nadat hy baie navorsing oor die Vrymesselaars gedoen het en bekommerd was omdat daar soveel kerklidmate en selfs kerkraadslede daaraan behoort.. Hy stel dit onomwonde dat hulle ‘n “Broederskap sonder Christus” is, wat die Skrif misbruik. Ds. Van Niekerk haal in sy boek telkens aan uit “The Masonic Journal”, waarin die redakteur sê dat Christus nie vir hulle die “main spring” van opstandingshoop is nie. Die “Hiram Abiff-figuur” van die Vrymesselaars is hulle bronaar van hoop.

Ankerberg en Weldon, die twee skrywers van die boek, “Fast Facts on the Masonic Lodge,” vergelyk met groot sorg en deernis die lering van die Vrymesselaars met dié van die Christendom. Hulle sê in hulle voorwoord dat daar miljoene lede van die Vrymesselaars is wat soek na broederskap en vriendskap en dit deur hul betrokkenheid by die Losies gevind het. Hulle kan glad nie verstaan waarom enigiemand oor hulle besorg kan wees nie, want hulle doen dan soveel filantropiese liefdadigheidswerk. Die “Round Table Groups”, wat wêreldwyd bekend is vir gemeenskapsprojekte en fondswerwing vir hulle liefdadigheidsbetrokkenheid, word deur die skrywer Gary Allen, in sy boek “The C.F.R.-Conspiracy to rule the World”, aan die bedrywighede van die Illuminati en die Vrymesselaars verbind. Volgens die Binnekring van die Round Table, is wêreldregering ‘n Messiaanse aangeleentheid en moet die Koninkryk van God hier op aarde gevestig word.

Ankerberg en Weldon onderskei tussen drie verskillende groeperinge van Vrymesselaars. Die eerste is die nominale (of net in naam) Vrymesselaars wat eintlik net behoefte het aan die sosiale byeenkomste en die broederskap. Die tweede groep is die Humanisties godsdienstige Vrymesselaars wat toegewyd is aan die ideale van die Broederskap. Hierdie Broeder glo werklik dat hy die geloof van die Vrymesselaars kan aanvaar en nog sy eie godsdiens ook kan beoefen, wat dit ookal is. Hy glo hy kan so dieper betekenis aan sy eie persoonlike geloof toevoeg. Die derde groep is die Mistiese godsdienstige Vrymesselaars. Hierdie groep sien eintlik neer op die eerste twee groepe en beskou hulle as oningelig en naïef. Hulle beskou hulself as “enlightened as to the real nature or Masonry”. Hierdie groep word die “Blue Lodge” genoem met drie intree-Grade waardeur ‘n lid moet beweeg. Daarna kan hy dan opsioneel verder vorder in die “York Rite” of die “Scottish Rite” tot op die 33ste Graad.  Dit is op hierdie vlakke dat die bedrywighede lankal nie meer so onskuldig is nie en lede in verskillende poste en vlakke van die samelewing mekaar só bystaan, dat hulle oor ‘n feitlik Sataniese mag beskik wanneer hulle iets wil bereik of iemand in ‘n betrekking aangestel wil hê of uitgewerk wil hê.

Ed Decker skryf in sy artikel, “Freemasonry and the church”,  dat diegene in die “Graad van die Ridder Tempeliere”, dit is die 32ste graad van die York Rite, ‘n uitrusting moet dra bestaande uit ‘n voorskoot, ‘n lyfband en ‘n nekband tydens hul rituele. Op die voorskoot is ‘n prent van ‘n hand met ‘n afgekapte kop waaruit die bloed drup. Die lyfband en nekband is ook bedruk met allerlei grusame motiewe soos afgekapte koppe, arms en bene, vermeng met messe, kruise en krone. Om ingelyf te word in hierdie Graad, moet ‘n eed afgelê word waar die kandidaat by ‘n altaar kniel, terwyl sy medebroeders met geligte dolke om hom staan, asof hulle hom wil steek. So lê hy dan ‘n bloedeed af waarin hy sweer, in die teenwoordigheid van die “almagtige god”, dat hy die sluipmoord op sy meester, Hiram Abiff, sal wreek. Hy sweer ook dat hy deur die dolke gesteek mag word en sy kop afgekap mag word as hy die geheime van die Graad sou verklap. Na die inswering kry hy ‘n menslike skedel waaruit hy wyn moet drink en dan ook nog al die sondes van die persoon wie se skedel dit is, op homself moet neem.

Decker voel dat dit niks anders as Baälaanbidding is nie. As Christusgelowige moet ek met hom saamstem. Hy glo dat dit die rede is vir die geestelike doodsheid en agteruitgang in baie van ons kerke. Vrymesselaars word doelbewus gestuur om lewe in kerke dood te smoor. Om sy eie woorde te gebruik: “If your church is dying, if evangelism is a foreign word in your congregation, if there is discord within its ranks, if some small clique of people control the board and the decisions, check it out. The Ba’al worshippers may be in control and the Holy Spirit may be going to church down the street.”

Ankerberg en Weldon sluit hul boek, “Fast facts on Masonry”, af met die bemoedigende versekering aan alle Vrymesselaars dat God, uit sy genade, aan elke mens die ewige lewe wil skenk. Ons kan dit egter nooit verdien deur persoonlike regverdiging nie, maar ons kan net vergifnis van sonde verkry deur die bloed en kruisdood van Jesus Christus (Efes.1:7-8). Ons kan ‘n intieme verhouding hê met ‘n alwyse, liefdevolle en heilige God (Joh. 17:3,22-24) en ons kan deur Goddelike krag ‘n nuwe lewe lei (Gal.5:22-23) en uitsien na ‘n ewige lewe saam met ‘n volmaakte God in absolute heerlikheid (Rom.8:17-18).  Wat ‘n voorreg!

 

 

Bibliografie:

 

ALLEN, G. 1969. The C.F.R. Conspiracy to rule the World. The American Opinion Magazine, April,1969.

ANKERBERG, J. e.a. 2004. Fast facts on the Masonic Lodge. Oregon: Harvest House Publishers.

DECKER, E.  2009. Freemasonry and the church - a Christian Worker’s Perspective. Artikel geskryf op 9 September 2009 vir die Webtuiste van “Saints Alive in Jesus.”

FAGAN, M.C. 1975. Die Illuminati – C.F.R. – Komplot. Pretoria: Christelike Kultuuraksie.

VAN NIEKERK, F.N. 1971. Vrymesselary – ‘n Broederskap sonder Christus. Bloemfontein: Sacum Beperk