AS 'N ENGEL VERVEER (8)

Ds AE van den Berg

Lees reeks by As 'n engel verveer

DIE PRIESTERSLAGTING

Ahiméleg skrik toe Dawid voor hom staan.  Hy het gehoor dat Saul naarstiglik na hom soek en dreig om diegene wat hom herberg gee met hul lewens te laat boet.

"Jonatan het my na u vir herberg gestuur" sê Dawid verleë.

"Nee, gaan asseblief onmiddellik weg!  Ons lewens is op die spel!” sê die verskrikte priester en maak die deur hard toe.

"Maak asseblief oop, ek is honger en moeg!" pleit Dawid.

"Nee, gaan weg!  Jy is nie welkom hier nie!" skreeu die priester ongeduldig.

Terleurgesteld draai Dawid om.  Hy sal maar na Adullam gaan waar daar baie spelonke is waar hy hom kan tuismaak sonder om iemand weer te pla.

Toe Saul verneem dat Dawid by Ahiméleg aangedoen het, het hy hom, sy huisgesin en al die plaaslike priesters laat vang en na Gibea gebring.  Hulle is almal van hulp aan 'n voortvlugtige aangekla.   Hoe meer Ahimèleg hom verseker het dat hy Dawid weggewys het, hoe minder het Saul hom geglo.  Saul was daarop uit om 'n voorbeeld van hom te maak.

"Laat die volk môre-oggend vroeg op die stadsplein byeenkom" beveel Saul sy sekretaris en beduie vir die wagte om die aangeklaagdes weg te neem.

"Die Here behoede ons!" gil Ahiméleg en druk sy tenger vroutjie teen hom vas.

Vroeg die volgende oggend is daar 'n groot skare by die stadsplein byeen. Alhoewel daar niks vooraf gesê is nie, vermoed almal wat gaan gebeur.  Wanneer Doëg, die beuel, opdaag, twyfel niemand meer nie.  Dis ‘n openbare teregstelling!

Wanneer Saul en sy gevolg opdaag, raak die rumoerige skare stil.  Die lot van die aangeklaagdes is verseël!

"Bring die samesweerders na vore!" beveel Saul die sipier.

Die tronkbewaarder gehoorsaam en bring Ahiméleg en sy vier-en-tagtig aangeklaagdes tot in die middel van die plein.  Hulle pleit om genade val op dowe ore.

"Laat dit vir almal 'n les wees wat vyande herberg!" waarsku Saul.

"Ahiméleg, jy en jou mede-aangeklaagdes is aan sameswering teen Israel skuldig bevind en word hiermee ter dood veroordeel.  Jy sal eerste onthoof word en daarna die res. Geeneen van die toeskouers verlaat die plein alvorens die laaste kop gerol het nie!" beveel Saul.

"Vader, spaar hulle lewens, hulle is onskuldig!  U begaan 'n groot fout!"  pleit Jonatan ontsteld.

"My woord is my woord en my oordeel onomkeerbaar" sê Saul sonder om in die rigting van sy seun te kyk.

Saul is die laaste een wat kan sê dat hy nie sy woord verbreek nie, dink Jonatan.  Hoe het hy nie sy woord teenoor Dawid verbreek toe hy Merab aan 'n ander man as vrou gegee het nie!  Jonatan het lus om hom hieroor aan te vat, maar besluit daarteen.  Niks wat hy ookal sê, sal Saul van plan laat verander nie.  Daarvoor haat hy Dawid eens te veel.

Wanneer Ahiméleg se kop met die eerste swaai van Doëg se swaard rol, gil die vroue in die skare.   Die priesters betaal almal die hoogste tol vir Saul se onverteerbare haat.  Die skare bly totdat die laaste een se kop in die stof van die stadsplein rol.

"Wie is jy en waar kom jy vandaan?" vra Dawid die jongman voor hom.

"Ek is Abjatar, die seun van Ahiméleg, die priester van Nob" antwoord hy.

"Wat maak jy hier?" vra Dawid verbaas.

"Na die moord op my familie het ek geen ander heenkome nie en wil by u aansluit" sê Abjatar bewoë.

"Is jou vader-hulle vermoor?" vra Dawid geskok.

Abjatar lig Dawid breedvoerig oor die teregstelling op die stadsplein in.  Hy is die enigste wat daarin kon slaag om in die gedrang te ontsnap.  Dawid is so geskok dat hy nie 'n woord kan uiter nie.  Kan 'n mens werklik soveel haat dat hy onskuldiges om die lewe laat bring?

"U verstaan nou waarom ek hier is.  Al my mense is doodgemaak.  Ek het geen familie of vriende oor nie.  Ek wil u dien” sê die ontredderde priesterseun.

"Jy is welkom om te bly.  Ek hoop die primitiewe verblyf sal jou nie afskrik nie" merk Dawid simpatiek op.

"Ek sal selfs onder die blote sterrehemel slaap" sê Abjatar dankbaar.

Nadat Dawid met meer as 600 uitgewekenes na Hores verskuif het, het hy hulle deeglik in die gevegskuns opgelei. Toe Jonatan verneem dat sy vriend in Hores was, het hy hom soos 'n uitgewekene vermom en daarheen vertrek.

"Wie is jy en wat soek jy hier?" vra Dawid die vreemdeling voor hom.

Hy het ‘n krom kierie en vuil lap oor die een oog.

"Ek is 'n vlugteling uit Gibea en wil graag by u aansluit" antwoord die vreemdeling.

"Kan jy 'n pyl en boog hanteer?" vra Dawid en kyk die man wat swaar op sy kierie leun wantrouig aan.

"Ja, u het my al self die boog sien hanteer" antwoord die vreemdeling.

"Waar nogal?" vra Dawid verbaas.

"Saam met my vader by die Jedaspruit" sê hy en verwyder sy vermomming.

"Jonatan, my vriend!  Is dit regtig jy?" roep Dawid oorstelp van vreugde uit.

Die twee ou vriende omhels mekaar.

"Lekker uitgevang nê!"  lag Jonatan..

Dawid kyk sy vriend verbaas aan.  Dis te goed om waar te wees.  Hy het hom gemis!

"Wat maak jy hier in die vreemde?" vra Dawid nuuskierig.

"Ek kom jou waarsku dat my pa 'n taakmag op die been bring.  Hy wil jou opspoor en doodmaak.  Hy is nou, meer as ooit, oortuig dat jy die volgende koning van Israel gaan wees" sê Jonatan.

"Wat het ek gedoen om 'n vriend soos jy te verdien?" vra Dawid aangedaan.

"Ek kan presies dieselfde van jou sê, my vriend" antwoord Jonatan.

Dawid se gemoed skiet vol.

"Ek wil met jou 'n ooreenkoms aangaan.  Indien dit God se wil is dat ek koning word, sal ek jou as onderkoning aanstel.  Ek sal geen besluit sonder jou insette neem nie.  Indien ek voor jou sterf, sal jy in my plek koning word" sê Dawid.

"Mag dit God behaag!” sê Jonatan aangedaan.

Nadat die gebiedsverspieders Dawid in Hores opgespoor en Saul in kennis gestel het, het hy en sy taakmag onmiddellik daarheen vertrek.  Dawid se verspieders het hom egter betyds gewaarsku waarna hy die woestyn Maon ingevlug het.  Toe Saul se manne daarvan te hore kom, het hulle Dawid en sy manskappe laat een middag in die woestyn vasgekeer.  Gelukkig het die donker hul ooral voordat hulle die hande aan Dawid kon slaan.

Teen skemeraand het Dawid alleen teen ‘n hoogte uitgeklim en mismoedig op 'n rots gaan sit.  Saul se kamp was minder as drie kilometer daarvan.  Die vure het hoog gebrand.  Die taakmag het vir die daglig gewag om Dawid en sy manskappe aan te val.

"Here, God van my vaders” begin Dawid bid.  “Ek is tot die dood toe benoud, ja, soos 'n bok wat uiteindelik deur sy jagter ingehaal is.  Het ek vandag die laaste sonsondergang van my lewe aanskou?  Sal môre my laaste dag op aarde wees?  Gaan ek na jare se vlug tog aan die hand van my jagter sterf?  Wees my genadig, o God, en red my van die dood!  Want van watter nut kan ‘n dooie vir U wees ?  Kan 'n dooie oor U volk regeer? Het U my dan nie as koning van Israel uitverkies en as seun laat salf nie?  Waarom moet U gesalfde voortdurend in vrees leef?  Verlos my dat my teëstanders kan weet dat U groot en goed is".

"Wie kom hier so vinnig aangejaag?" vra Saul toe hy die perderuiter kort na dagbreek gewaar.

"Dit lyk na een van ons mense.  Ek hoop nie daar is moeilikheid nie" sê Jeres en hou sy hand oor sy oë om beter te kan sien.

"Die Filistyne val Israel genadeloos aan!" hyg die ruiter na asem en val uitgeput van sy perd af.

"Laat ons onmiddellik teruggaan!" beveel Saul.

"Wat dan van Dawid?" vra Jeres onseker.

"Ons sal later met hom afreken.  Die Filistyne is vir eers nou belangriker" sê Saul.

Toe Dawid 'n uur later teen die hoogte uitklim om Saul se bewegings waar te neem, is daar geen teken van sy  laer nie.  God het gehoor!

Dit het Saul en sy manskappe baie langer geneem om die vyand te verdryf as wat hulle verwag het.  Die Filistyne het verbete geveg en Israel harde bene laat kou.  Alhoewel daar aan beide kante ongevalle was, was dit vir Saul duidelik dat die Filistynse leër sterker geword het.  Waar Israel in die verklede korte mette met hulle gemaak het, het dit hulle nou bykans twee maande geneem om die Filistyne te verdryf.

Terug in Gibea het Saul van verspieders verneem dat Dawid nie meer in die woestyn was nie.  Hy het iewers in die gebergtes van Engedi gaan skuil.   Saul het vroeg een oggend met 3000 man in die rigting van die Dooie See vertrek en twee dae later Engedi bereik.

Saul het die eerste nag in 'n spelonk geslaap, onbewus daarvan dat Dawid en 'n paar van sy manne agter in dieselfde spelonk geskuil het.

"Is dit bloot toevallig dat Saul in die selfde spelonk as ons is?  Is dit nie 'n duidelike teken dat God hom in u hand gee nie?  Maak hom dood dat u rus vir u siel kan vind en ophou swerf" pleit Barug Ben-Elam by sy leier.

"Nee, laat hom rustig slaap.  Geen mens mag die gesalfde van die Here leed aandoen nie!" berispe Dawid hom.

"Ek dink nie die Here sal u daarvoor sal straf nie.  Saul het al soveel leed veroorsaak.  Dit sal 'n goeie ding  wees as u hom doodmaak.  U sal waarlik ‘n werktuig in God se hand wees en u volk verlos" probeer Barug Ben-Elam sy leier oortuig.

"Nee, ek sal hom niks aandoen nie!  As die Here hom wil dood, sal Hy dit op Sy eie manier doen.  Ek gaan niks doen wat God se oordeel oor my kan bring nie.  Daarvoor vrees ek Hom te veel!" sê Dawid ferm.

"U gaan dus niks doen nie?" vra Barug Ben-Elam en snork verontwaardig.

"Nee, daar is ‘n ander vredesuitweg.  Hou my maar net dop" sê Dawid.

Saul is uitgeput en raak gou aan die slaap.  Dawid kruip versigtig nader en sny 'n stukkie van die mantel wat Saul oor hom gegooi het af.

"Dis darem so maklik om hom nou dood te maak" dink Dawid, maar verdryf dadelik die gedagte.

Wanneer Saul die volgende oggend die spelonk verlaat, staan Dawid minder as 'n honderd meter van hom af.  Saul gaap hom sprakeloos aan.

"Waarom soek u my lewe, my heer?  Waarom luister u na leuenaars wat sê dat ek u koningskap wil gryp?" vra Dawid vreesloos.

"Is dit dan nie jou plan nie?" vra Saul verontwaardig.

"As dit my bedoeling was, kon ek u laas nag om die lewe gebring het.  Hier is 'n stukkie van u mantel wat ek afgesny het terwyl u geslaap het.  Indien ek u koningskap begeer het, sou ek u mos doodgemaak het!" sê Dawid en hou die stuk omhoog.

Saul kyk verskrik na sy mantel en gaap Dawid sprakeloos aan.  Waarom het Dawid sy lewe gespaar?  Mense het hom dan gedurig wysgemaak dat Dawid nie 'n oog sou verroer om hom dood te maak nie.  Dan was dit inderdaad leuens soos wat Dawid sê!

"Vergewe my , my seun, en kom nader" versoek Saul hom bewoë.

Dawid kom vreesloos nader.

Wanneer hy voor Saul staan, skiet beide se gemoed vol.

"Laat daar nooit weer vyandskap tussen ons wees nie!" roep Saul in trane uit en omhels vir Dawid.

"Ek wil niks anders as u dienaar wees nie, my heer" sê Dawid bewoë.

"Ek weet dat jy die volgende koning gaan word.  Dis die Here se wil. Ek het jou egter baie leed aangedoen. Belowe my vandag dat jy my nie na my dade sal vergeld deur my nageslag daarvoor te laat boet nie" versoek Saul hom met trane in sy oë.

"Ek koester geen wraakgedagtes nie, my heer.  Ek sal niemand leed aandoen nie" beloof Dawid.

Vervolg...