KINDERS IN DIE BYBEL (5)

JOSEF

Ds. Tjaart Kruger

Lees reeks by Kinders in die Bybel

MISKIEN is daar sommige van ons wat nie baie van Josef as kind hou nie. Want as jy die Bybel net bolangs lees, kry jy die indruk dat hy in sy kinderjare ’n verwaande ventjie was en ’n verklikbek.

Baie dink miskien dat dit nie ’n mooi trek in Josef se karakter was nie om al die slegte dinge wat sy broers gedoen het, aan sy vader te gaan oorvertel.

Wat sy broers presies gedoen het, sê die Bybel nie aan ons nie. Dit maak ook eintlik nie saak nie omdat die Bybel hier die nadruk wil laat val op wat Josef gedoen het en op wat sy houding ten opsigte van sy broers was.

Daar is mense wat wil beweer dat die verklikkery ’n swak eienskap in Josef se karakter was. Dit was vir hom lekker om nuus aan te dra by sy vader en van al die slegte dinge te vertel wat sy broers gedoen het. Hy het daar genot uit geput.

Hy het gemaak soos party kinders vandag nog maak. Hulle vertel graag die verkeerde dinge wat hulle klasmaats of broers of susters gedoen het. Hulle dra graag nuus oor. Hulle doen dit omdat dit vir hulle lekker is en hulle daar genot uit put. Hulle kan dit op so ’n vermakerige manier geniet as hulle sien hoe ander gestraf word. Dit verskaf aan hulle ’n soort bevrediging om hulle in die leed van ander te vermaak.

Die vraag ontstaan nou of dit ook Josef se motief was toe hy gaan nuus aandra het by sy vader? Het hy sy broers gaan verklik omdat dit vir hom lekker was om skinderstories by sy vader aan te dra? Was dit nou werklik ’n swak eienskap in Josef se karakter?

As dit die geval was moes hierdie karaktertrek tog seker later in sy lewe ook tot openbaring gekom het. ’n Verklikbek en iemand wat graag skinderstories aandra, is sekerlik nie iemand op wie ’n mens kan staatmaak nie. Hy het seker ook nie ’n baie sterk karakter nie want daarvoor is sy tong te los. Hy sal van ’n ander persoon by jou kom stories aandra en weer van jou skinder sodra hy by iemand anders kom.

Josef se latere geskiedenis bewys tog dat hy ’n goeie, sterk karakter gehad het. Dit bewys dat hy sekerlik ’n goeie opvoeding moes gekry het. Neem maar die geval van Potifar se vrou en die feit dat hy later bereid was om sy broers te vergewe ten spyte van alles wat hulle hom aangedoen het. Jakob moes seker baie aandag aan sy opvoeding bestee het.

Daarom kan ons wel aanneem dat sy doel met die verklikking nie was om in Jakob se goeie boekies te kom nie. Veel eerder lyk dit asof Josef die verkeerde dinge wat sy broers gedoen het, nie kon verdra nie. Sy hele wese het daarteen in opstand gekom. Dit het ingedruis teen die opvoeding wat hy ontvang het.

Dit lyk veel waarskynliker dat die bedoeling van Josef met hierdie nuusdraery van hom was dat Jakob met sy broers oor hulle verkeerde dinge moes praat. Jakob moes hulle wys op die verkeerde pad wat hulle besig was om te bewandel. Dit druis in teen die gebooie van die Here.

Hyself kon nie met hulle daaroor praat nie. Hy was maar sewentien jaar oud en jonger as al sy ander broers. Hy was die elfde kind van Jakob, op een na die jongste. Dalk het hy met hulle hieroor probeer praat. Maar soos dit maar altyd die geval is, luister die ouer broer mos nie na die jonger een nie. Gewoonlik lag hy hom uit en sê aan hom om hom met sy eie sake besig te hou.

Gevolglik het Josef seker besluit om dit aan Jakob te vertel. Miskien kon hy iets aan die saak doen. As sy vader met sy broers sou praat, sou hulle moes luister.

Josef se bedoeling was dus goed. Hy het nie gaan stories oordra omdat dit vir hom lekker was nie.

Eintlik kan ons Josef dus nie ’n verklikbek noem wat maar net nuus aandra omdat hy dit geniet nie. Sy bedoeling was nie om in Jakob se goeie boekies te kom nie. Hy het dit ook nie gedoen omdat hy sy broers gehaat en verag het nie.

By Josef het alles gegaan om die welsyn van sy broers. Hy het besef dat die Here hulle sou straf oor die verkeerde dinge wat hulle doen. Die straf van die Here kon dalk oor Jakob en sy hele huisgesin kom as daar nie iets daadwerkliks aan die saak gedoen word nie. Josef het by Jakob gaan stories aandra uit liefde vir sy broers.

Wanneer dit gaan om die welsyn van jou klasmaat of broer of suster en jy besef dat jy daar niks aan kan doen nie, is dit seker wel geoorloof om ander se hulp in te roep en aan ander te vertel.

Josef het die welsyn van sy broers voor oë gehad. Hierin is hy die beeld van Christus wat ook ons welsyn voor oë het as Hy vir ons by sy Vader en ook ons Vader in die hemel pleit. Want ons is almal broers en susters van Christus. Sy Vader is ook ons Vader. En dan pleit Hy vir ons en sê: Ek het reeds die straf vir hulle gedra. Ek het vir hulle betaal. Moet hulle nie straf vir die verkeerde dinge wat hulle doen nie as hulle om vergiffenis op my bloed vir U pleit.

En is dit nie wonderlik nie?

As ons op die bloed van Christus pleit, wil die Here ons beskou asof ons net so rein en sonder sonde is as Christus, ten spyte van al ons verkeerde dinge wat ons doen.