GELOFTEVOLK IN ONS GELOFTELAND

Dr JP Botha

"Die Here sal aan ons dink om tog weer aan ons verdrukte geloftevolk in ons gelofteland Suid-Afrika moed te gee en weer vir ons ‘n Josua te stuur wat nie bevrees of verskrik word deur die vyand nie, maar ons van die bose magte oor ons sal help verlos."

Moses wat die volk uit Egipteland en deur die woestyn gelei het, is dood en die Here het vir Josua gekies om hulle uiteindelik die beloofde land binne te lei.  Maar die Here weet dat Josua daarvan bewus is dat dit ‘n geweldige groot taak sou wees, want hy en Kaleb was immers twee van die twaalf spioene wat die land reeds verken het en dat hy weet hoe moeilik dit gaan wees om die heidennasies te verdryf.   Daarom sê die Here weer vir hom: “Wees net baie sterk en vol moed ...   sodat jy met goeie gevolg kan handel, oral waar jy mag gaan.” Josua 1: 7.  Die Here vind dit nodig om hom nog ‘n derde keer aan te moedig deur in vers 9 weer vir hom te sê: “Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan.” 

Josua het moed geskep en onbevrees die baie vyande in die land oorwin en die beloofde land in besit geneem.

Dierbaar Suid-Afrika is ook ‘n gelofteland wat eenmaal in besit was van sy geloftevolk.  Van die twaalf spioene wat vir sy veiligheid moes waak, het net twee kans gesien om die aanslae van die bose magte die hoof te bied en hulle te oorwin, terwyl die ander tien gesê het die oormag is veels te groot.  Daarom het ons nie weerstand gebied nie maar die winde van verandering oor ons laat waai en saamgehelp om ‘n donker reënboognasie te skep.

Die Here sal aan ons dink om tog weer aan ons verdrukte geloftevolk in ons gelofteland Suid-Afrika moed te gee en weer vir ons ‘n Josua te stuur wat nie bevrees of verskrik word deur die vyand nie, maar ons van die bose magte oor ons sal help verlos.