VROU, JOU GELOOF KAN ONS RED!

 Vrou, eer God in hierdie Tyd van Verwarrende Waardes

Ds Petrus Venter

Pinehas se vrou lewer in Ikabod die eer van God in verwarrende tye...: En (sy het) die seuntjie Ikabod genoem en gesê: Weggevoer is die eer uit Israel - met die oog op die wegneming van die ark (1 Sam 4:21a).

Ons ken nie eers haar naam nie. Hierdie skoondogter van Eli het gesterf toe daar op dieselfde dag 'n hele aantal manne gesterf het, ook haar eie man.  Haar man Pinehas, haar swaer Hofni, haar skoonpa Eli, al hierdie manne om haar sterf en sy op haar kraambed, in haar barensnood, sterf ook.

Almal se dood is gehul in wat baie mense as verwarrende tye sou bestempel.  Hoe het die weduwee-Pinehas haar eie huislike lewe moes beleef:

My man en sy broer het daar in die tempel van die offervleis geëet, eintlik het hulle die vleis gesteel wat vir die Here geoffer moes wees. Hoe het die vrou van Pinehas wat ons hier ontmoet baie nagte moes ingaan met die wete ek is nie my man se enigste vrou nie. Dit was geen geheim dat hierdie Pinehas-vrou maar moes saamleef met hoeveel ander vroue daar by die tempel wat deel van haar man se seksuele lewe was. Om haar skoonpa Eli om hulp te moes vra het haar niks sou help nie, want hy het op geen wyse sy seuns wou straf nie. Altyd het hy maar net gewaarsku en gehoop hulle sal later met hierdie verskriklike lewe van hulle ophou, maar self het hy niks daadwerklik wou doen om die orde te herstel nie. Dissipline was daar nie. Die gebrek aan dissipline skep in alle geval die teelaarde vir waardes wat mense verwar. Verwarrende waardes het in alle geval altyd te doen met mense wat verward is.

Eli en sy seuns het beslis nie wou weet wat dit is om in tye van verval en verwarrende waardes God te eer nie, terwyl hulle eintlik die eerstes moes wees wat die eer na die Here moes terugbring. Eli wat hoëpriester was, sy seuns die priesters, daar waar hulle diens direk God se eer moes verkondig, daar gee hulle niks om wat ander manne en vroue aan God doen nie. Maar hierdie vrou was anders. In wat ons van haar hoor het die lewe van verwarring en verval haar in haar geloof eerder gesterk as wat sy saam met haar familie bereid was om onder te gaan.

Die dag het gekom wat hierdie vrou ons baie sterk aan ander vroue sou herinner. Dadelik kan ons dink aan Ragel wat ook op haar kraambed gesterf het. Toe Ragel vir Benjamin die lewe ingebring het, was haar naam vir die kind Benoni, seun van my smarte, terwyl Jakob hom daarmee nie kon versoen nie. Die naam wat God sou moes eer sou eerder Benjamin wees - seun van my regterhand. Nou sterf die Pinehas-vrou ook, haar seun se geboortebed word haar sterfbed, maar in die oomblik van te sterwe en gebore te word, staan sy in haar geloof geteken as iemand wat God wil eer. Al is sy sterwende is sy werklik oor God se eer die meeste gepla. Sy bekla nie haar mense se dood en haar eie pyn in hierdie verskriklike oomblik wat nou oor haar gekom het nie.

Sy is in alles wat oor hulle gekom het oor die ark van die Here die meeste besorg! In haar laaste snik het sy uitgeroep dat die kind wat gebore word draer moet wees van dinge wat hulle geloof en God se eer direk raak. Noem my kind Ikabod, want die eer is weggevoer uit die land. Die feit dat God se ark nou weg was, was vir haar erger as haar mense wat nou ook weg was. Al het haar pa en haar man en haar swaer se dood haar sou aangryp, was die groot verskrikking wat haar lewe sou neem dit wat om haar geloof gebeur het. Die Here laat ons duidelik verstaan, daarom dat dit twéémaal hier staan, dat die naam Ikabod nie betrekking het op Eli of Pinehas se dood nie, maar dit slaan baie duidelik op die wegvoering van die ark deur die Filistyne, wat sy dan self beleef dat weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is....

Die eer wat sy aan God wou bring en waarby sy sou wou lewe, is weggeneem. Haar seun Ikabod sou hierdie getuienis deur sy naam die lewe moes indra. Van hierdie seun hoor ons ook nooit weer nie! Hy wat sonder ma moes grootword, soos dit met baie kinders die geval is. Sonder die troos van 'n ma, sonder die ondersteuning van 'n pa, wat in alle geval hom nie volgens die geloof sou steun nie, 'n pa wat hy nooit sou ken nie. Dalk is dit beter so, maar sy ma is die vrou wat God wou eer. Wanneer ander mense hulle verwarring sou betoon, dan sou die kind kon wys hoe ingrypend is hierdie verwarring.

Sy ma is dood, maar haar woorde leef, want God is die Enigste in Wie die oomblikke van sterwe eintlik die geboorte van andere kan beteken. In die dood van God se eie Seun het Hy die lewe gebring. Die eer wat weggevoer was, het Hy in Jesus Christus teruggebring. Aan die eer van God het Hy voldoen, want het Hy die reg van God volbring. Al kan daar oor Ikabod niks verder geskrywe word nie, kan ons oor Jesus Christus nog baie skrywe!

Die ark wat Israel laat rondtrek het met alles wat binne die ark was en alles wat bokant die ark was, ja daardie afgemete stukke hout wat die Pinehas-vrou as God se eer bely het, was werklik draer van die heerlikheid van God. Daarom dat sy sterwe, want, het sy geweet, as die ark weg is, is dit eintlik maar God Self wat sy heerlikheid van hulle weggeneem het. Om te moet baar in die afwesigheid van die heerlikheid van God is wat dit vir haar verskriklik gemaak het, wat werklik die liggaamlike lewe uit haar gehaal het.

So is die lewe ook uit Christus gehaal, meer as net die liggaamlike, want Christus se dood in die afwesigheid van die heerlikheid van God het Hom ná die geestelike dood laat uitroep, nie waarom die ark weg is nie, maar waarom God weg is, waarom God Hom verlaat het. Dit alles dat hierdie weduwee-Pinehas, en ons saam met haar, nooit deur God verlaat sal word nie. Al leef mense met verwarrende waardes wat die eer van God verlaat het, is die Heilige Gees die Een wat ons nie verwar nie, maar wat ons lei en na die Woord wil teruglei wanneer andere die Woord wil wegneem!