Ds Kobus van der Westhuizen
Die verhaal van Jona en die komkommerplant interesseer my reeds baie jare. Die boodskap wat dit vir Jona moes bring is beslis vir meer mense as net hy bedoel. Een aspek van die boodskap is dat 'n mens nie selfsugtig en besitlik moet raak ten opsigte van gawes wat die Here uit goedheid aan jou geskenk het nie.
Jona se wonderboom was eintlik 'n komkommerplant wat 'n onverwagte en kortstondige skaduwee oor hom gegooi het toe die hitte van die skroeiende son besig was om hom kapot te brand. Toe die komkommerplant net so vinnig verdroog as wat dit verskyn het, was Jona bitter ontvrede. Sonder dat hy dit verdien het, het hy sondermeer die boom vir hom toegeëien. Hoe kon die Here nou sy boom, wat so gerieflik was, wegneem?
Hoewel 'n mens ook al simpatie met Jona kan hê daar waar hy in die skroeiende son sit, moet jy billikheidshalwe erken dat hy aansprake maak wat hy hoegenaamd nie kan en mag maak nie. Dit was juis hierdie besitlike houding van hom wat die Here laat besluit het om hom 'n les te leer. Die Here neem die gawe van die wonderboom weg en plaas Jona terug in die ellende wat hy vir homself deur sy verkeerde gesindheid geskep het.Wat wil Jona en sy wonderboom vandag vir jou en my sê? In 'n sekere sin sit ons almal op die een of ander manier onder 'n wonderboom. Sommige se wonderbome is net groter en mooier as ander en gooi derhalwe ook 'n groter skaduwee.
As jy nog wonder oor wat die wonderboom in jou geval kan wees, dink net aan al die goeie dinge wat die Here so onverdiend na jou kant toe laat kom het. Die gevaar is groot dat jy dit later as vanselfsprekend aanvaar. So vanselfsprekend dat jy jou eie etiket daarop plaas. So beskou, praat jy later van my gesondheid, my plaas, my geld, my gesin... vul die lysie maar self verder aan.
Nes jy jou gerieflik in die skaduwee van hierdie wonderboom tuisgemaak het, sien die Here jou daar in jou selfgenoegsaamheid sit. Dan sê Hy: Ek gaan die wonderboom van hom/haar wegneem sodat hulle weer erkentlikheid kan leer.
Sit u dalk ook onder u wonderboom sonder dat u ooit daaraan dink om vir God dankie te sê?