MAG ONS DIE DOOIES OPROEP?

Dr JP Botha

Of ‘n mens met die dode in verbinding kan tree, is ‘n vraag wat dikwels opduik.  Dan word daar verwys na die heks van Endor wat vir Samuel  “laat opkom” het.  Is wat ons daar in 1 Samuel 28 lees, geregverdig?

Die Skrif leer ons dat daar engele in die hemel bestaan wat God dien en verheerlik.  Hulle is dienende geeste, tot hulp van die mense op aarde, soos toe God vir Gabriël na Maria gestuur het.  Engele kan dus op bevel van God na mense gestuur word, maar ons lees nêrens van mense wat met engele in verbinding getree het nie.

Behalwe die goeie geeste of engele, is daar ook bose geeste of gevalle engele of duiwels, want in die hemel was daar ook ‘n sondeval.

  Die gevalle engele is wel aan bande gelê, maar hulle is in die lug en ons weet hoe maklik hulle ons mislei.  Ons word verbied om van ons kant af met hulle gemeenskap te hou. (1 Kor. 10: 20, 21).

Verder is daar ook die geeste  van die afgestorwenes wat na die dood onmiddellik selfbewus voortbestaan.  Dink aan die Kruiswoord:  Voorwaar, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees. Dink ook aan die rykman en Lasarus.

God belet die mens nadruklik om die dodes te probeer raadpleeg. Levitikus 20 sê God sal die mens wat hom tot ‘n medium begeef, onder sy volk uitroei. In Deuteronomium 18 verbied Hy die volk om hulle nie met spiritisme en goëlery in te laat nie.  Mense wat dit doen word uitgelewer aan leuengeeste wat voorgee dat hulle die afgestorwenes is:  In die Tweede Wêreldoorlog het die ouers van ‘n vermiste soldaat hulle na ‘n séance begeef, waar die medium hulle meegedeel het dat hul seun gesneuwel het., maar na die Oorlog het die jongman uit ‘n Japanse interneringskamp opgedaag!

Selfs die stem of die gestalte van die ontslapene wat herkenbaar is, is geen bewys dat dit hy is wat opgeroep word nie, want Satan het mag om fantome te laat verskyn en daardie ontslapene presies na te boots. (Ons dink hier aan die TV-persoonlikheid wat nog onlangs 'n reeks aangebied het wat van hierdie metode gebruik gemaak het.)

Die Skrif leer ons dat die verlorenes in die verdoemenis bewaar word vir die oordeel.   Daar is ‘n groot kloof tussen hulle en die regverdiges. En Lasarus is nie toegelaat om weer na die aarde terug te keer om die rykman se broers te gaan waarsku nie.  In die geval van Saul en die heks van Endor, het ons met ‘n hoogs uitsonderlike geval te doen waar God wel vir Samuel stuur om Saul sy straf weens sy verregaande ongehoorsaamheid aan te kondig.

Laat die dodes met rus totdat ons self mettertyd by hulle aansluit.  Ek sal aan die duskant van die kloof by Abraham en Lasarus wees, want die Here Jesus Christus is my Saligmaker. Loof die Here!