KULTUUR- VERSKILLE IN KERK IS NIE 'N RASSEKWESSIE

Colin Steyn

Dis een van daardie onderwerpe wat ek met die grootste omsigtigheid benader. Maar ek dink ek verteenwoordig die siening van ‘n redelike persentasie van wit Christene, en ek dink dis iets wat ‘n mens nie net onder die mat kan invee nie.
Tydens die onlangse Woordfees, gedurende een van die radiogesprekke rondom ras, het ‘n bruin Christen (volgens sy eie beskrywing) ingebel om bietjie bors skoon te maak.
Sy klag was teen witmense in sommige Pinkster- en charismatiese kerke, wat die kerke begin verlaat wanneer daar bruinmense aansluit. Een van die paneellede in die program het dit summier as rassistiese optrede bestempel. Sy het nie aangedui of sy self ‘n Christen is en of sy sulke kerke ken nie. So dis onduidelik waarop sy haar dappere stelling gegrond het.

Ek gee toe dat sommige van die “weglopers” dit moontlik as gevolg van rasse-vooroordele sou doen, maar om dit sommer algemeen as rassisme te bestempel is myns insiens ‘n baie oppervlakkige oordeel.
Dis veel ingewikkelder.
Mense van verskillende kultuurgroepe verskil nogal van mekaar. Ek aanvaar dat ‘n mens by ‘n gemeente aansluit omdat jy daar iets moois vind waarmee jy jou kan vereenselwig. Jy geniet en waardeer dit waarvoor die gemeente staan, bv. die skrif- en leerbenadering en die aanbiddingstyl. ‘n Mens sluit nie by ‘n wonderlike groep mense aan om hulle te verander nie.
Ek wil graag een moontlike rede noem waarom witmense ‘n gemeente sal begin verlaat wat al hoe meer “bruin” word. Dis vir seker nie die enigste rede nie en moontlik ook nie die grootste rede nie, maar dis ‘n rede wat na my mening wel duidelik bestaan en wat niks met rassisme te doen het nie. Ek wil geen rasgemotiveerde redes verdedig nie. Ek besoek self ‘n gemeente waar mense van verskillende rassegroepe redelik goed verteenwoordig word.
Ek dink dit gaan oor styl. Sekere musiekstyle is vir my byvoorbeeld irriterend, en ek sal nooit uit vrye keuse daarna luister nie. Sekere style van aanbidding is vir my eerder steurend as wat dit my help om te aanbid. Dis heel persoonlik. ‘n Vriend sê eendag dat persone van ander rasse meer geneig is te “skree” as hulle die aanbidding lei. Asseblief, hierdie is geen aanklag of veralgemening nie. Ek probeer ‘n punt maak.
Gestel die styl waarvan ek nie hou nie word net elke derde Sondag gebruik, kan ek daarby verbykyk en rustig aangaan. Maar as dit later elke tweede diens so raak en nog later elke diens, raak dit vir my ‘n persoonlike probleem. Dan voel ek nie meer tuis in die gemeente wat ek eens omhels het as my geestelike tuiste nie. En ek voel nie iemand wat nie in my hart kan sien het die reg om my besluit om eerder weg te staan as rassisties te bestempel nie. Ek sê nie dis die beste besluit wat ek kan neem nie. Ek sê bloot dis nie per sè rassisties nie.
Dit kan oor meer gaan as net die eredienste.
Dit kan aansluit by hoe mense sosiaal met mekaar omgaan by iets soos ‘n gemeente-piekniek. Daar is heelwat voorbeelde. Ek dink witmense wat ontuis begin voel sal geneig wees om dan liewer pad te gee as om ander mense te wil probeer verander. Ek dink steeds dis wonderlik as mense oor verskillende kultuurgrense mekaar kan vind in die hart van gemeente-wees, maar ek het in my hart geen veroordeling teenoor iemand wat dit nie saam met my wil doen soos ek dit doen nie.
Moet dit regtig ‘n probleem wees as ek liewer by mense wil wees wat soos ek is?