“Darem heerlik om soveel skuiwergate te laat om sodoende soveel moontlik lidmate gemaklik te laat in hulle sondige dwaalweë! En dit het twee goeie gevolge vir die gasheer in sy ‘diverse ruim huis’: Nie net is hul geldsake in beter orde met soveel bydraers nie maar slaag hulle ook in die doel van die bose magte om soveel moontlik siele te mislei om verlore te gaan.”
Op kerklike werf is die toneel die afgelope tyd deur twee sinodes oorheers. Die Ned. Geref. Kerk asook die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika het albei belangrike sinodes gedurende Oktober 2011 gehou. In altwee gevalle was die uitslag hoewel verwag steeds skokkend — afhangend, seker, vanuit watter gesigshoek 'n mens beoordeel. Dit is twee kerke in eie reg en hulle kan uiteraard na eie goeddunke handel, maar hulle sprake het 'n effek op die samelewing wat ons deel, en raak ons daarom ook.
NGKERK
Die Algemene Sinode van die NG Kerk het ingrypende besluite geneem wat hom verder op die pad na eenwording met die ander kerke in die NG-familie neem. Besluite is ook geneem oor die huwelik, die doop, en die bestaan en hantering van die bose.
- Daar is finaal in beginsel besluit om die Belydenis van Belhar deel van die Kerk se belydenisgrondslag te maak. Daarmee gee die Kerk 'n beslissende verdere tree op die pad wat hy hoop hom by organiese en strukturele eenheid in die kerkfamilie sal bring. Die kerkordelike prosesse om dit in werking te stel, moet nou blykbaar opdreef kom.
- Die NG Kerk sien die huwelik steeds as die ideale vorm vir geslagtelike saamwoon, maar wil skandelik die lidmate wat in 'n "etiese saamwoonverhouding" , of gewoonweg sommer in sonde saamleef, nie vervreem nie.
- Net so erken die Kerk steeds die gereformeerde verbondsdoop, maar wil lidmate wat hulle doop weer wil vier ("doopherinnering") nie vervreem nie – asof dit nie ‘n uiterste klap in die gesig van God is nie; asof die eerste doop dan niks beteken het nie.
- Die Kerk erken glo die bestaan van die bose, maar erken ook die verskeidenheid in die interpretasie daarvan of hy 'n persoonlike gestalte het, of nie – dus is daar nie ‘n absolute erkenning aan die bestaan van satan nie.
Darem heerlik om soveel skuiwergate te laat om sodoende soveel moontlik lidmate gemaklik te laat in hulle sondige dwaalweë! En dit het twee goeie gevolge vir die gasheer: Nie net is hul geldsake in beter orde met soveel meer bydraers nie maar slaag hulle ook in die doel van die bose magte om soveel moontlik siele te mislei om verlore te gaan.
Die NG Kerk het hom veral ná 1986 (toe die strewe na eenheid en die aanvaarding van Kerk en samelewing beslag gekry het) al meer gevestig as 'n "ruim huis" waarin "diversiteit" aanvaarbaar is. Almal, bykans alle denkvorme, moet daarin welkom wees – dit sluit in die spreekwoordelike christen, heiden en mohammedaan. As 'n kerk dít wil doen, moet hy feitlik noodwendig 'n verslapping in sy opvatting van die Waarheid toelaat — anders kan almal in die "ruim huis" eenvoudig mos nie geakkommodeer word nie. Hierdie tendens kom baie duidelik na vore in die besluite van die afgelope Sinode en sal vorentoe al duideliker word as die Kerk op die weg voortgaan.
Die voorbeelde is reeds hierbo genoem:
- die huwelik word gehandhaaf, maar lidmate wat anders leef, word so verdra;
- die tradisionele doop geld, maar lidmate wat ander interpretasies daarvan het, word ook verdra;
- die bestaan van die bose word bely, maar lidmate mag anders dink oor sy aard.
- Selfs die aanvaarding van Belhar word so hanteer. Dit moet deel van die belydenisgrondslag wees maar die NGKA en die RCA (wat probleme met die belydenis het) moet tegelykertyd geakkommodeer word.
Hierdie toestand weerspieël die tipiese postmoderne tendens soos dit ook in die "emerging churches" na vore kom; neem nêrens 'n absolute posisie in nie; wees relatief in alles; wees vir almal aanvaarbaar; maak almal onder jou vlerke bymekaar; wees welwillend teenoor almal en "bemark" die kerk so. So bly jy in die spel.
Ten diepste gaan dit oor ons opvatting van die Waarheid: is die Waarheid een, of is dit én ... én? Vir ons as gelowiges is die geopenbaarde Waarheid tog één en solied. Toegegee: ons vertolk die Waarheid nie altyd reg nie en ons moet gelowig bly toets of ons opvating daarvan reg is. Maar die prinsipiële vastigheid van Waarheid hou ons regop en strydvaardig (Efes. 6:1 daarsonder word ons pap en sonder weerstand. As mal "reg" is, het ons later niks meer te sê nie. Juis aan die kerk is die roeping opgelê om "pilaar en gronds van die waarheid" (1 Tim. 3:15) te wees. Versaak kerk sy roeping hier, ly uiteindelik die hele samelewing daaronder.
Ons pleit ook nie vir ongenaakbaarheid en hardvogtigheid in die verkondiging en toepassing van die Waarheid nie. Is dit Zwingli wat gesê het waarheid het 'n vriendelike gesig? Maar die Waarheid moet ongeskonde staan. Waarheid en liefde kan saam met beslistheid gehandhaaf word. Waarheid is daar om welwillendheid te beskerm soos ons skelet ons hart beskerm. Waar welwillendheid ten koste van Waarheid nageiaag word, is almal later rustig en tevrede soos op die sinkende Titanic, sonder om te besef dat die struktuur wat die lewe self orent hou, stadig maar seker besig is om onder hulle pad te gee.
HERVORMDE KERK
Ook die Hervormde Kerk se Oktober-sinode (Algemene Kerkvergadering) het teleurgestel. Die vorige besluit (2010) dat "apartheid" nie teologies regverdig kan word nie was 'n dramatiese koersverandering in die gang van die Hervormde Kerk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Die besluit is op die jongste Sinode met 'n groot meerderheid gehandhaaf.
Die besluit is teleurstellend omdat hierdie Sinode waarskynlik 'n geleentheid gebied het om die persepsie ("storie") oor "apartheid" soos dit tans in ons samelewing gepropageer word deeglik onder die loep te neem. Dit lyk nie vir ons of dit gebeur het nie. Die Kerk verwerp in 2010 apartheid op grond van vier besware en in die 2011-besluit word die eerste een onderstreep:
- Dit is in stryd met die evangelie van Jesus Christus
- Dit is gebaseer op die idee van onderlinge onversoenbaarheid
- Dit sanksioneer onreg
- Dit tas die beeld van God in mense aan.
Elkeen van hierdie besware is baie ver verwyderd van die idee waarmee ons voorgeslagte die beleid van "Apartheid" (Afsonderlike Ontwikkeling) ingestel het, of dan van hulle persepsie daarvan. Kom ons noem dit die persepsie van "naasbestaan".
Die bedoeling wat hulle daarmee gehad het, soos dit uit herhaalde uitsprake na vore kom, was eerder die van: aan elk sy eie; laat elke volk in Suid-Afrika ontwikkel volgens sy eie aard — en help daartoe voort. Slegs so sal óns in Afrika kan voortbestaan, maar ook hulle. Dit is onmoontlik om te sien hoe hiérdie bedoeling aan bogenoemde besware onderworpe kan wees; inteendeel.
Die beleid het ook baie voordele, ook vir die huidige "benadeeldes", meegebring. Geletterdheid en lewensverwagting het byvoorbeeld in Suid-Afrika baie hoër peile bereik as in die res van Afrika.
"Apartheid" word op baie verskillende maniere verstaan. Die persepsie van apartheid wat die huidige humanistiese klimaat goed pas, is die een waarin slegs die "onreg" van gedwonge rassesegregasie raakgesien word wat 'n deel van die bevolking toegang tot bepaalde "regte" in die groter SA samelewing ontsê het. Kom ons noem dit die "humanistiese persepsie" omdat dit vereis dat alle mense, bloot op grond van hul menswees, gelyke regte in een sisteem moet geniet. Gewoonlik word verswyg dat die beleid van Afsonderlike Ontwikkeling se bedoeling was om die "regte" binne die onderskeie bevolkingsgroepe te laat realiseer, maar dat die proses tot stilstand gekom het (of tot stilstand gedwing is), of dat die gety daarteen gekeer het lank voordat dit kon realiseer. Hoewel die element van die toenmalige gedwonge rassesegregasie maar 'n deel van die totale prentjie is, word dit deur die inligtingsmedia as die een en al voorgehou — wat natuurlik ook die huidige politieke bedeling in die land goed pas.
Watter persepsie van apartheid word nou deur die Hervormers verwerp? Daar mag dalk inligting by ons verbygegaan het, maar ons het 'n duidelike omskrywing van wat onder "apartheid" verstaan word, nie raakgelees nie. Dit is dus 'n skoot in die donker— dalk op die "storie" van die huidige bedeling of tydsgees af. Ons kan nie anders nie as om, soos by bogenoemde NG-besluite, die aanvoeling te kry dat die besluit 'n bepaalde agenda moet dien. Die doel was dalk tog maar sodat die Hervormde Kerk weer aansluiting kan vind by bepaalde ekumeniese liggame. As dit so is, dan moet ons ongelukkig glo dat ook in hierdie geval groot stukke van die volle waarheid ingeboet word ter wille van "eenheid".
Intussen word ons volksverlede egter deur nog 'n Afrikaanse kerk in diskrediet gebring. 'n Mens sou kon redeneer: die apartheidsera is nou verby; laat ons nou net aangaan. Maar dit is nie so eenvoudig nie. Argumente binne die humanistiese persepsie word ooglopend en aanhoudend gebruik om blankes, en veral Afrikaners, te diskrediteer ten gunste van die huidige bewind. Besluite soos dié van die Hervormde Kerk, glo ons, is net water op die meule van hulle wat die volle waarheid oor ons volksverlede ondermyn en ons verder in diskrediet bring. Dit haal nie bloot die ekumeniese markplek nie, dit maak die lewe in ons land net moeiliker. Selfs dodelik.
Bron: Die Boodskapper – Februarie 2012