Hannes Ollewagen
Matt. 5:1-12
“Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (:9).
Wanneer ons die na die woorde van Christus, die Seun van God, uit Matt. 10:34-38 luister, lyk dit asof hier ’n groot teenstrydigheid in God se Woord is:
“Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen ’n man en sy vader, en tussen ’n dogter en haar moeder, en ’n skoondogter en haar skoonmoeder. En ’n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”
Dit lyk asof hierdie woorde uit Matt. 10 teenstrydig is met dit wat ons in Matt. 5:9 lees. Maar natuurlik weet ons dat ’n oënskynlike teenstrydigheid in die volmaakte Woord van God gewoon vereis dat ons dieper moet gaan delf om klarigheid te kry.
Ons begin ons soektog tot klarigheid na hierdie saak op eenvoudige wyse. Indien vredemakers kinders van God genoem word, beteken dit tog dat die eienskappe van God in hul lewe sigbaar sal wees. En is vrede ’n eienskap van God? Ongetwyfeld. Die Woord is tot oorlopens toe vol van voorbeelde en getuienis daarvan. Ek haal vir ons enkele voorbeelde aan. Rigt. 6:24. “Toe bou Gídeon daar ’n altaar vir die HERE en noem dit: Die HERE is vrede! ...”. 1 Kor. 14:33. “...want God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede, soos in al die gemeentes van die heiliges.” En omdat Hy ’n God van vrede is, gee Hy aan ons die opdrag om in vrede met Hom en ons naaste te leef. Vrede moet derhalwe ook deel van ons karaktereienskappe wees. “...as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Rom. 12:18). “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag. Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien.” (Rom. 14:17-19). “Verder broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.” (2 Kor. 13:11). “MAAR ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.” (1 Thes. 5:12&13). “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.” (Heb. 12:14). En as ’n laaste voorbeeld Markus 9:50. “Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.”
Hoe hou ’n mens vrede? Beteken dit gewoon om in alles in die lewe toegewings te maak ter wille van sogenaamde vrede? Beslis nie. ’n Kind van God het nie vrede met ongeregtigheid nie. Maar ’n kind van God is tog vredeliewend en moet tog na vrede streef. Ons kan die vraag oor hoe ’n mens vrede hou dalk makliker met die omgekeerde beantwoord kry. Hoe skep ’n mens onvrede of vyandskap? Hierdie antwoord is veel makliker. “’n Man van valse streke saai tweedrag, en ’n kwaadstoker skei vriende van mekaar.” (Spr. 17:28). “Net so is die tong ook ’n klein lid en beroem hom op groot dinge – kyk hoe ’n groot hoop hout steek ’n klein vuurtjie aan die brand. Die tong is ook ’n vuur, die wêreld van ongeregtigheid. Net so ’n plek neem die tong onder ons lede in; dit besmet die hele liggaam en steek die hele lewensloop aan die brand en word uit die hel aangesteek. Want elke soort natuur van wilde diere en voëls en kruipende diere sowel as seediere word getem en is getem deur die menslike natuur. Maar die tong kan geen mens tem nie; dit is ’n onbedwingbare kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.” (Jak. 3:5-10). En in Spreuke 12 word die onvrede en verwoesting deur woorde nie alleen vir ons duidelik gestel nie, maar daar vind ons ook telkens ’n vergelyking tussen goed en kwaad. Hierdie vergelyking onderstreep vir ons die werke van God se kinders en die goddelose se werke wat telkens teenoor mekaar staan. “Hy wat die waarheid spreek, vertel wat reg is; maar ’n valse getuie bedrog. Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing. ’n Betroubare lip bestaan vir altyd, maar ’n valse tong vir ’n oomblik. Bedrog is in die hart van die wat onheil bewerk; maar die wat vrede aanraai, het vreugde. Valse lippe is vir die HERE ’n gruwel, maar Hy het ’n welbehae in die wat getrou handel.” (Spr. 12:17-20, 22).
Ek glo dat ons hieruit duidelik behoort te sien dat daar inderdaad geen teenstrydigheid in hierdie saak in God se Woord bestaan nie. Tewens, bogenoemde behoort dit vir ons duidelik te stel dat dit vir God se kinders verkeerd is om deur hul woorde tweedrag en onvrede tussen mense te verwek en vyandskap deur hul woorde te veroorsaak. As laasgenoemde die basis of oorsprong van onvrede is, is dit boos en afskuwelik voor God. Dit beteken egter nie vir ’n oomblik dat God se kinders die hand van vrede na ongeregtigheid hoef uit te strek of daarmee hoef te versoen nie ter wille van sogenaamde vrede nie. Daar kan tussen God se kinders en ongeregtigheid nie vrede gesluit word nie. Die vrede wat God se kinders nastreef, is vrede met Hom en vrede met ons naaste deur ons liefde vir Hom.
“En die vrug van die geregtigheid word gesaai in vrede vir die wat vrede maak.” (Jak. 3:18)..