HÝ BEPAAL ONS TOEKOMS

Hannes Ollewagen

Gén. 26:1-35

“En die HERE het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het.” (:2&3).

“Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën.” (:12).

Ek dink dat die meeste van ons menigmaal oor die toekoms dink. En wat meer is, is dat ons uit ons menslike posisie sukkel om ’n rooskleurige toekoms te sien onder die hande van die huidige goddelose regering. Die land is nie alleen besig om onder hierdie regering se hand te verval nie, maar die gesindheid jeens ons volk is alles behalwe liefderyk en vredeliewend. En dit is dalk vir ons nog moontlik om hierin met moeite voort te beur, maar wanneer ons aan ons kinders se toekoms dink, is hierdie saak vir ons nog swaarder. Ons sal ook, soos Petrus, deur die vrees vir die omstandighede rondom ons oorweldig word en totaal ondergaan indien ons die oë op die moontlike gevare hou in plaas daarvan dat ons ons oog op Hom gerig hou.

Wanneer ons egter hier van Isak se lewe in Gerar lees, bring dit vir ons weer perspektief. Hy was nie deel van ’n verknegte volk nie, maar hy was alleen as ’n vreemdeling in hierdie land. Myns insiens was sy toekoms uit ’n menslike oogpunt veel slegter as ons eie vandag. En Isak was ook ’n mens. Hy het ook oor die toekoms gedink. Hy wou ook besluite neem wat vir hom en sy nageslag goed sou wees. Dit blyk uit hierdie gedeelte dat hy na Egipte onderweg was waar hy van mening was daar vir hom ’n beter toekoms sou wees. Maar dan beveel die HERE hom om nie na Egipte af te trek nie, maar om in Gerar te bly. God beloof om hom in hierdie land te onderhou en te seën. En vir Isak was God se Woord, sy belofte, genoeg. “So het Isak dan in Gerar gebly.” (:6). Isak laat sy eie planne vir Egipte vaar en laat sy toekoms in die Hand van God op Wie se belofte hy hoop. En hierdie vertroue van hom in God stel ook geensins teleur nie. “Isak het toe in dié land gesaai en daardie jaar honderdvoudig gewen, want die HERE het hom geseën. En die man het groot geword en altyddeur groter geword totdat hy baie groot was: hy het troppe kleinvee en beeste gehad en baie bediendes, sodat die Filistyne hom beny het.” (:13&14). Hierdie gehoorsaamheid en geloofsvertroue van Isak was dan ook tot getuienis van hulle in wie se land hy as vreemdeling vertoef het. “Daarop kom Abiméleg na hom van Gerar af, saam met Ahussat, sy vriend, en Pigol, sy leërowerste. En Isak het hulle gevra: Waarom het julle na my gekom terwyl julle my haat en my van julle af weggestuur het? Toe antwoord hulle: Ons het duidelik gesien dat die HERE met jou is. Daarom het ons gedink: Laat daar tog ’n eed tussen ons wees, tussen ons en jou; en laat ons ’n verbond met jou sluit: jy moet ons geen kwaad doen nie, net soos ons jou nie aangeraak en aan jou niks as goed gedoen het nie en jou in vrede weggestuur het. Jy is nou eenmaal die geseënde van die HERE.” (:26-29).

Die gebeure in Isak se lewe laat my ook dadelik dink aan die omstandighede van die volk Israel eeue later. Ons lees waar hierdie nageslag van Abraham en Isak op daardie stadium ook in ellende verkeer nadat ’n groot deel van die volk in ballingskap weggevoer is. En hierdie oorblyfsel wat nie weggevoer is nie vra dan vir Jeremia om God te raadpleeg om raad vir die toekoms. “TOE het al die owerstes van die leërs aangekom, naamlik Jóhanan, die seun van Karéag, en Asárja, die seun van Hosája, en die hele volk, klein en groot, en aan die profeet Jeremia gesê: Laat ons smeking tog voor u kom en bid tot die HERE u God vir ons, vir hierdie hele oorblyfsel – want ons het as ’n klein klompie uit baie oorgebly, soos u oë ons sien – dat die HERE u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen.” (Jer. 42:1-3). Die HERE gee dan aan hierdie oorblyfsel die opdrag om rustig in die land te bly. “As julle rustig in hierdie land bly, sal Ek julle bou en nie afbreek nie, en julle plant en nie uitruk nie; want Ek het berou oor die onheil wat Ek julle aangedoen het.” (:10). Maar hierdie raad wat die volk van God deur Jeremia kry, strook nie met hul idee van die omstandighede en toekoms nie. Hulle kan gewoon nie insien dat daar vir hulle in daardie land ’n toekoms is nie en begeer om eerder na Egipte af te trek waar hulle vir hulself ’n beter toekoms insien. En in ongeloof verwerp hulle God se beloftes en verkies om op hul eie planne en krag te steun. Hulle is van mening dat hulle vir hulself ’n beter toekoms as God kan bepaal. En waar Isak se ootmoedige geloof in God vir hom ’n geseënde toekoms tot gevolg gehad het, het hierdie verwaande ongeloof van sy nageslag vir hulle rampspoedige gevolge ingehou. “Want julle het gedwaal ten koste van julle lewe, dat júlle my na die HERE julle God gestuur het, met die woorde: Bid tot die HERE onse God vir ons; en net soos die HERE onse God sal sê, maak dit ons so bekend en ons sal dit doen. So het ek julle dit dan vandag bekend gemaak, en julle het nie geluister na die stem van die HERE julle God, naamlik na alles waarmee Hy my na julle gestuur het nie. Weet dan nou verseker dat julle deur die swaard, die hongersnood en die pes sal sterwe in die plek waarheen julle verkies om te trek om daar as vreemdelinge te vertoef.” (Jer. 42:20-22).

Mag ons vandag opnuut tot die besef gebring word dat ons toekoms nie in ons eie hande is nie en laat ons God daarmee vertrou. Ons eer Hom op die wyse. Daarenteen is ons verwaand om te dink dat ons vir onsself ’n beter toekoms as Hy kan bepaal. En as die toekoms wat Hy vir ons bepaal van ons opoffering verg, mag ons ook bereid wees om dit met ootmoed en nederigheid aan Hom te bring terwyl ons die offer van sy Seun ter versekering van ons ewige toekoms in gedagte hou.

“Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.” (Jer. 10:23)