Hannes Ollewagen
Rom. 5:1-11
“OMDAT ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.” (:1&2).
Hierdie woorde uit die brief van Paulus aan die Romeine herinner ons aan die genadegawe van God. Dit is dalk nodig om vir ’n oomblik stil te staan by genade. Ons moet dalk vra – “Wat is genade?” Dit is om nie die loon of straf te ontvang wat jy regverdiglik verdien nie. God se genade is derhalwe dat Hy ons nie dienooreenkomstig ons optrede teenoor Hom vergeld nie. Indien dit die geval was, sou geen vlees gered kon word nie.
“...Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is ’n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.” (Rom. 3:10-18).
Maar as God die mens nie hierdie ongeregtighede en sonde vergeld nie – hoe noem ons Hom dan ’n God van geregtigheid? Geregtigheid is dan juis om die verkeerde te straf? En dit is juis so! Ons sonde en ongeregtigheid word nie ongestraf gelaat nie, maar dit is in Christus Jesus vergeld wat ons sonde op Hom geneem het. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” (Jes. 53:5&6). En vrywillig het Christus Homself geoffer sodat die geregtigheid van God openbaar en bevestig kon word. “Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.” (Joh. 10:17&18).
Geliefdes, ons behoort duidelik in Christus die genadegawe van God te sien. Die straf van ons sonde en vyandskap teenoor God het op Hom neergekom. En Christus het hierdie straf van ons vrywillig op Hom geneem. Dit is hierdeur dat Hy vir ons as Middelaar kan optree en vrede tussen ons en die Vader kan bewerkstellig. Dit is dan ook hierdie opregte besef van wat Christus werklik vir ons gedoen het om ons sonde vrywillig op Hom te neem wat ons in die lewe oorhaal en besiel om ons lewe in die vlees te kruisig om vir Hom te lewe. “WAT sal ons sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word? Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel. Want as ons met Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook wees deur dié aan sy opstanding; aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe,” (Rom. 6:1-8).
Beteken die sterwe van Christus aan die vloekhout dat alle mense op aarde hierdeur gered is? Nee. Die geregtigheid van God is in Christus Jesus se dood openbaar. En so ook God se genade. Maar ongelukkig is daar baie mense wat hierdie genadegawe van God nie aanneem nie. Daar is diegene wat in geestelike hoogmoed dink dat hulle hulself deur hul goeie lewe en optrede voor God kan regverdig of dalk selfs deur die regte herkoms in die vlees voor God geregverdig is. Hulle dink dat hulle God se genadegawe in Christus nie nodig het nie en aanvaar derhalwe nie die genadegawe van God in Christus nie en sal ongelukkig eindelik met ’n groot skok tot die besef kom dat hulle hulself nie kon red nie. “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is logemaak van Christus; julle het van die genade verval.” (Gal. 5:4). En dan is daar aan die anderkant diegene wat die genadegawe van God nie na waarde ag nie en dink dat ’n mens ongeërg deur die lewe kan gaan asof sonde nie meer bestaan nie omdat Christus iewers gesterf het en die bestaan van sonde uitgewis het. Hulle dink derhalwe ook dat hulle nie die genadegawe van God in Christus nodig het nie. Die straf wat op Hom neergekom het, het juis vir ons die werklikheid van sonde bevestig en beklemtoon hoe groot die afsku van God die Vader in sonde is. “Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie, maar ’n verskriklike verwagting van oordeel en ’n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer. As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:26-29).
Mag ek en u hierdie kosbare genadegawe van God in Christus met groot dankbaarheid aanneem en dit as die mees kosbare kleinood in ons lewe koester. Daar is vir ons geen ander manier om vrede tussen ons en Hom te vind as in hierdie genadegawe in Christus nie. “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand. 4:12).