Hannes Ollewagen
Jes. 7:1-25
“Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.”
Wanneer ons die hemelvaart van onse Here Jesus Christus gedenk, roep ons weer in herinnering hoedat Hy die aarde verlaat het en na die hemel opgevaar het. Ons dink daaraan hoe oorweldig en selfs verlate sy dissipels dalk moes voel nadat hulle soveel jare bykans elke dag in sy teenwoordigheid geleef het. Maar daarenteen weet ons ook dat hierdie gevoel van verlatenheid hulle wel nie oorval het nie omdat Christus al voor sy hemelvaart aan hulle beloof het om die Trooster, die Heilige Gees, te stuur om by ons te wees. “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.” (Joh. 14:16&17).
Net soos wat God nie die wêreld met die hemelvaart totaal verlaat het en eers eendag weer met die wederkoms sal terugkeer nie – net so het Hy nie eers tydens sy lewe hier benede by die wêreld betrokke geraak of Hom met die mens begin bemoei nie. Hy was reeds van die Skepping af by die mens betrokke en het Hom sedert Adam met die mens bemoei. “Toe het die Here God 'n diepe slaap op die mens laat val; en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vlees toegemaak. En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens.” (Gén. 2:18,21&22). God het Hom nie alleen met die mens bemoei nie, maar toon ook duidelik sy begeerte dat die mens in ’n gesonde verhouding met Hom moet leef. Dink maar hoedat Hy die eerste mense opgesoek het nadat hulle teen Hom gesondig het. “Toe roep die Here God na die mens en sê vir hom: Waar is jy?” (Gén. 3:9). Natuurlik nie omdat Hy oor die mens verleë is nie, maar omdat Hy ’n liefdevolle God is wat die mens se heil soek. “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Tim. 2:3&4). Is sy ontferming nie ook alreeds duidelik uit sy handelinge met die eerste mens nadat hulle Hom deur hul sondige optrede verraai het nie? “En die Here God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.” (Gén. 3:21). En so kan ons ook dink aan Abraham, Noag en talle ander voorbeelde van God se betrokkenheid by die mens hier op aarde.
In die dae van koning Agas het die koning van Aram teen hom opgetrek om teen hom oorlog te voer. En ’n groot benoudheid het oor die koning gekom. “Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het op Efraim toegesak! — het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.” (Jes. 7:2). Die HERE stuur dan ook in hierdie tyd sy profeet, Jesaja, om die koning te verseker dat God aan hulle redding sal skenk. God herinner koning Agas en sy volk dat Hy ’n God is wat Hom met die mens en sy lot bemoei en dat Hy die Een is wat oor elke mens se lot beskik. “En die Here het vir Jesaja gesê: Gaan tog uit, Agas tegemoet, jy en jou seun Sjear Ja-sjub, aan die end van die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld,en sê vir hom: Neem jou in ag en wees gerus; wees nie bevrees en laat jou hart nie week word oor hierdie twee rokende stukke brandhout nie — weens die gloeiende toorn van Resin en die Arameërs en van die seun van Remália;omdat Aram onheil teen jou besluit het, Efraim en die seun van Remália, deur te sê: Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tábeal daaroor koning maak. So sê die Here Here: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie.” (Jes. 7:3-7). En in hierdie gedeelte lees ons waar God ook stel dat Hy aan die mens die teken sal gee wat vir die mens ’n sigbare getuienis van God se bemoeienis en betrokkenheid by die mensdom is – die Immánuel-teken – God met ons.
Dit is hartseer dat God wat Hom op so ’n wonderbaarlike wyse aan ons openbaar en Hom met ons bemoei, so dikwels afsydig deur ons mense behandel word. Ons kan dalk maklik dink dat as ons in die tyd van Christus geleef het ons elke moontlike geleentheid sou aangryp om in sy teenwoordigheid deur te bring. Maar sou ons? Hoe sou dit anders wees? Ons het vandag ook die geleentheid om enige tyd deur die Heilige Gees in gebed tot Hom te nader en met sy Woord om te gaan. En tog verkies ons dikwels om eerder ons tyd aan vermaak, stokperdjies, ons werk, vriende of dergelike dinge te spandeer. Daarmee sê ons nie dat ons die hele dag Bybelstudie behoort te doen nie, maar hoe maklik gee ons nie tyd wat ons vir God sou inruim prys vir hierdie ander dinge nie? Ek dink die tyd wat ons in God se teenwoordigheid kan deurbring is dikwels die eerste om opgeoffer te word vir ander sake eerder as dat dit die laaste is. En dan wonder ons waarom “God met ons” nie aldag soos ’n werklikheid in ons lewe voel nie. In die dae van Christus se lewe hier op aarde is daar ook mense aan wie Hy ook nie sy goddelike krag getoon het nie. “En hulle het aanstoot aan Hom geneem. Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis. En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.” (Matt. 13:57&58). Kan ons ons verhouding met Hom verwaarloos en dan verwag om sy nabyheid te ervaar? Kan ons ’n lewe van ongeregtigheid lei en verwag om God se vredevolle teenwoordigheid in ons lewe te beleef? Ek dink die woorde in Amos 5:14 is duidelik. “Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie, sodat julle kan lewe en die Here, die God van die leërskare, só met julle kan wees soos julle sê.”
Moet ek en u dalk ook vandag vir ’n oomblik stil raak om te besin of die wêreld rondom ons na ons lewe kan kyk en kan sien dat God met ons is? Is sy teenwoordigheid in ons lewe ’n werklikheid of lyk ons lewens net so godverlate as die samelewing rondom ons? Sy teenwoordigheid in ons lewe word nie ten toon gestel deur uitermatige sukses en rykdom nie – al dink baie mense dat materiële seën die toonbeeld van God se guns is. En om voormelde te staaf is eenvoudig – ’n mens kan na talle skatryk en/of baie suksesvolle mense kyk en niks van God in hul lewe raaksien nie. Eweneens is armoede en swaarkry ook nie die bewys van God se afwesigheid of teenwoordigheid nie, want daar is ook ’n oorvloed van arm mense in wie se lewe daar ook geen teken van God se teenwoordigheid te bespeur is nie. Sy teenwoordigheid is by hulle wat ootmoedig is en Hom met opregtheid vrees en eer. “SO sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die Here. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.” (Jes. 66:1&2). Sy teenwoordigheid is met hulle wat met hul hele hart op Hom vertrou en nie op hul eie krag steun nie.
Mag ons in ootmoed en opregtheid gedurig na sy teenwoordigheid in ons lewens hunker en dit as ’n kleinood koester. En mag sy teenwoordigheid in ons lewens ’n lewende getuienis aan die wêreld rondom ons wees wat verkondig – God met ons.