Hannes Ollewagen
Matt. 5:1-12
“Salig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” (:9).
’n Onmiskenbare eienskap van God – vrede. Hy is ’n God van vrede en sy kinders sal ook aan hierdie eienskap geken word. Maar ons moet dalk begin om te vra wat vrede is. Is vrede bloot die afwesigheid van twis en vyandigheid teenoor ‘n ander? Myns insiens is dit veel meer. Vrede is die salige, genoegsame en volkome tevrede toestand in ’n mens se hart. Laasgenoemde is nie te vinde daar waar twis bloot afwesig is nie. Daar is byvoorbeeld tydens ’n skietstilstand tussen twee partye dalk nie aktiewe twis en vyandigheid nie, maar daar is beslis ook nie ware vrede nie. Ek dink dat vrede die bevestiging is van verhoudings wat in opregte liefde bestaan. En daarom dat dit net soveel deel van God se wese is as wat liefde deel is van Hom.
God stel vir ons in sy Woord duidelik hoe groot sy behae in vrede tussen ons en ons medemens is. Hierdie vrede wat die gevolg is van verhoudings wat in ware liefde bestaan. Luister na die opdrag en vermaning in Sag. 8:16-19. “Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ’n regspraak van vrede in julle poorte! En julle moet nie mekaar se onheil in jul hart versin nie en nie die valse eed liefhê nie. Want dit alles haat Ek, spreek die HERE. En die woord van die HERE van die leërskare het tot my gekom en gesê: So sê die HERE van die leërskare: Die vasdag in die vierde en die vasdag in die vyfde en die vasdag in die sewende en die vasdag in die tiende maand moet vir die huis van Juda ’n vreugde en blydskap wees en vrolike feestye, maar julle moet die waarheid en die vrede liefhê.” En as hierdie woorde nie vir ons God se behae in vrede tussen ons en ons medemens uitlig nie kan ons gerus na Ps. 133 luister. “...Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid!”
Wanneer ons luister na hierdie saak wat vir God so swaar weeg behoort ons harte weemoedig te raak wanneer ons na ons eie volk kyk. Hoeveel, dalk eerder hoe min, families ken u vandag waar daar werklik vrede tussen mense is? Daar waar “skietstilstande” heers is dit seker al beter as die gemiddelde geval. Maar waar vind ’n mens nog families waar mense werklik mekaar opreg liefhet en met soveel omgee en opregtheid teenoor mekaar handel dat daar ware vrede te sien is? En dan moet ons vra waarom ons land en ons volk uitmekaar val? Tref die woorde in Jesaja 59 ons nie direk in die hart nie? “Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie. Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie. Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op ’n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid.” (Jes. 59:7-9).
Ek dink op hierdie punt weer aan die eerste mense – Adam en Eva. Hulle het met hul optrede die vredesverhouding wat daar op daardie stadium tussen hulle en God bestaan het, geskend. En hoe het God daarop reageer? Het Hy besluit om nooit weer iets met hul te doen te hê nie? Het Hy voorgegee asof daar geen onreg plaasgevind het nie? Of het Hy eerder die mens gaan opsoek, die ongemaklike saak aangeroer ten einde die saak uit te maak en weer vrede te bewerk? Ons kan onsself maklik tevrede stel wanneer ’n ander ons te na kom dat ons reg optree deur bloot nie die verkeerde optrede te vergeld nie en die besluit te neem om nooit weer met die ander party iets te make te hê nie. Dit is allermins nie die voorbeeld wat God vir ons gestel het nie. En dit blyk uit Matt. 5:23&24 dat God ’n veel hoër eis aan ons stel om aktief versoening met ons naaste te soek eerder as om net nie onreg te vergeld nie. “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.” Tewens, Jesaja 53 herinner ons ook aan die opoffering wat Hy gebring het in die nastrewing en bewerking van vrede tussen ons en God. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).
Mag ek en u vandag opnuut besin of ons in waarheid vredemakers is wat met reg kinders van God genoem kan word. Nie vredemakers in die sin van die wêreld wat ’n oppervlakkige vrede tussen alle mense of ’n valse vrede tussen geregtigheid en ongeregtigheid probeer voorhou nie, maar opregte vredemakers wat soek na ware vrede tussen ons en ons medemens asook ons sowel as ons medemens en God. Daardie vrede wat spruit uit verhoudings wat in opregte liefde bestaan.
“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die HERE sal sien nie;” (Heb. 12:4).