DIE SONDE VAN DWAASHEID

Hannes Ollewagen

Mark. 7:1-23

“Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.” (:21-23).

Dit is opvallend dat saam met hierdie gruwels van egbreuk, hoerery, moord, diewery, bedrog en dergelike dinge ook die sonde van dwaasheid gevoeg word. Dwaasheid is dus duidelik iets waarvan God ’n afsku het. En as ons vir ’n oomblik mooi hieroor dink, sal ons dit verstaan.

Hierdie gruwels waarvan ons lees – moord, egbreuk, diewery en dies meer is alles dinge wat aan ander groot skade en leed kan berokken. En dit is met dwaasheid ook geensins anders nie. Dwase optrede het gewoonlik nie alleen vir die dwaas slegte gevolge nie, maar ook vir die mense rondom die dwaas. “Laat ’n beer wat van kleintjies beroof is, ’n mens ontmoet, maar nie ’n dwaas in sy sotheid nie.” (Spr. 17:12).

Daar is natuurlik ’n groot verskil tussen geleerheid en wysheid en ongeleerheid en dwaasheid. Dink maar gerus aan almal wat hul verwonder het aan Jesus en sy dissipels wat as ongeleerde mense beskou is, maar tog was hul wysheid vir almal duidelik sigbaar. “En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan? Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie?” (Matt. 13:54 & 55). Daarenteen was die skrifgeleerdes en Fariseërs dalk baie geleerd, maar hierdie mense is deur Christus as dwaas bestempel. “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self. Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel – dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig?” (Matt. 23:15-17).

Wanneer ons in God se Woord delf, verstaan ons beter waarom dwaasheid onder hierdie verskriklike gruwels gelys word. Ons lees in Jesaja 32:6 – “Want ’n dwaas spreek dwaasheid en sy hart bring onheil voort, deur goddeloosheid te bedrywe en dwaling te spreek oor die HERE, deur die begeerte van die hongerige onvervuld te laat en die drank van die dorstige te laat ontbreek.” Dwaasheid en goddeloosheid loop soos boesemvriende. En nie net berokken dwaasheid skade aan ander mense nie, maar dit minag God. Die dwaas ontken God en sy gesag en derhalwe verontagsaam hy die insettinge en verordeninge van God en handel na sy eie begeertes. “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie! Hulle het sleg gehandel en hul onreg afskuwelik gemaak; daar is niemand wat goed doen nie.” (Ps. 53:2). Die dwaasheid is dus die fontein waaruit goddeloosheid vloei. En omdat die dwaas God en sy gesag nie erken nie kan hy ook nie die verkeerdheid van sy eie handelinge sien nie. “Die weg van ’n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad.” (Spr. 12:15). Die dwaas het daarom ook geen begeerte om hom van sy goddeloosheid en verkeerdheid af te keer nie, maar eerder is sy begeerte om net die begeertes van sy hart te volg. “Die dwaas het geen behae in verstandigheid nie, maar net daarin dat sy hart openbaar word.” (Spr. 18:2). Tewens, dit is vir die dwaas ’n vreugde om goddeloosheid te doen soos wat dit vir die regverdige ’n vreugde is om die wil van God te soek en te doen. “Dit is 'n vermaak vir 'n dwaas om 'n skandelike daad te doen, net so is wysheid vir 'n man van verstand.” (Spr. 10:23).

Dwaasheid is nie tot diegene wat God se bestaan ontken, beperk nie. Enige mens wat hom nie aan God se gesag onderwerp nie tree dwaas op. Ons as gelowiges kan ook in dwaasheid handel. Hiervan is Dawid se getuienis in Ps. 69:6 ’n duidelike voorbeeld. “o God, Ú weet van my dwaasheid, en my skuldige dade is vir U nie verborge nie.” En in Ps. 85:9 leer ons van die waarskuwing tot God se volk om nie tot dwaasheid terug te keer nie. “Ek wil hoor wat God die Here spreek. Ja, Hy spreek vrede vir sy volk en vir sy gunsgenote; maar laat hulle nie tot dwaasheid terugkeer nie!” Dit is ook vir ons uit Romeine 1 duidelik dat die mens in dwaasheid God kan minag en sy gesag kan ontken, nieteenstaande die feit dat die mens God ken. “...alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer – hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.” (Rom. 1:21-25).

Dit is hartseer om te moet erken dat ons volk in die breë ook oor die afgelope paar dekades ’n dwase volk geword het – ’n volk wat God dalk ken, maar Hom nie eer en verheerlik deur ons alledaagse optrede nie. Mag ons elkeen ons eie hart en lewe ondersoek en ons van ons dwaasheid bekeer terwyl ons ook tot God bid om ons volk van sy dwaasheid te bekeer en ons opnuut in die wysheid van sy Woord te laat leef. Die vertrekpunt hiervan is ’n opregte en ware kennis van en vrees vir die HERE. “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand.” (Spr. 9:10).