Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Met Kerstyd maak ons graag huise skoon want familie of vriende kom kuier, maar hoe lyk ons lewens? Is dit skoon? Wat doen jy om dit skoon te maak?
IN GOD SE OË
Hannes Ollewagen
1 Sam. 16:1-13
“Maar die Here sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die Here sien die hart aan.” (:7).
Die mens het maar die begeerte om deur sy samelewing aanvaar te word. En hierdie begeerte na aanvaarding speel seker ’n groter rol in die menslike gedrag as wat ons dalk besef. Ja, hierdie begeerte is so groot dat ons dikwels sal voorgee of dinge sal doen gewoon om ander mense te probeer beïndruk. Dit kan baie gevaarlik wees aangesien dit menigmaal daartoe lei dat ons só hard probeer om ander mense te beïndruk dat ons God in die proses teleurstel en selfs verloën.
Daar word deesdae bykans op ’n daaglikse basis berig van iemand wat hul rieme styfgeloop het nadat hulle miljoene van ander gesteel het. En dit is dan diegene wat uitgevang is waaroor berig word. Dink maar hoeveel ander is daar waarvan ons nie eers hoor nie! En is hierdie nie ’n sprekende voorbeeld van hierdie verskynsel nie? Mense raak só behep daarmee om diegene rondom hulle met hul sukses en finansiële vooruitgang te probeer beïndruk dat hulle eindelik God se insettinge heeltemal minag en hulle aan ander se besittings vergryp. Hierdie verkeerdheid word uitdruklik in Spr. 21:4 aangespreek. “Hoogheid van oë en trotsheid van hart — die glans van die goddelose is sonde.” Die wat groot rykdom op aarde op oneerlike wyse bekom, sal God nie vir ’n oomblik beïndruk nie.
In hierdie saak dink ek ook aan die gebeure uit Ananías en Saffira se lewens. Nadat Joses ’n stuk grond verkoop en die geld aan die voete van die apostels gelê het, het Ananías en Saffira hierdie voorbeeld nagevolg. Hulle optrede was egter nie opreg nie. Het hulle hul gawe gebring om die gemeenskap rondom hulle te beïndruk eerder as wat dit met ’n opregtheid teenoor God gedoen is? En God se afkeur hieraan was duidelik! “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe;...”. Inderdaad deursoek die HERE al die harte en verstaan Hy selfs die diepste gedagtes soos wat dit vir ons in 1 Kron. 28:9 gestel word. “...en dien Hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel, want die Here deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes...”. En dit is daardie diepe en verborge gesindheid van ons, dit wat niemand behalwe God sien nie, wat Hom beïndruk eerder as dit wat ons probeer voorhou.
Geliefdes, toe Samuel ’n opvolger in die plek van Saul moes gaan salf begin die seuns van Ísai voor hom verby beweeg. En met die aansien van die indrukwekkende Elíab dink Samuel dat hy die gesalfde van God gevind het. Maar God wys hom daarop dat hierdie man wat in Samuel se oë indrukwekkend is tog in God se oë te gering is. Sy voorkoms was dalk indrukwekkend, maar sy gesindheid nie soveel nie. En God kies vir Hom as ’n gesalfde die skaapwagter, Dawid, uit. Hierdie Dawid wat by die slagveld van Israel teenoor die Fillistyne kom waar Góliat die slagordes van Israel uitdaag. En die belangrikheid van God se eer weeg vir Dawid so swaar dat hy bereid is om die gevaar van die Fillistyn te trotseer terwyl sy oudste broer, Elíab, saam met die res van die volk Israel hierdie skrikwekkende Fillistyn vrees. Die duidelike bewys dat Elíab te gering was soos wat God dit aan Samuel uitgewys het.
En terwyl soveel konings hoogmoedig geraak het nadat God aan hulle die oorwinnings in oorloë geskenk het en hul koninkryke versterk het, was Dawid se karaker weereens groter. Ja, nadat hy verhef is as koning oor Israel en Juda en God aan hom die wonderlike belofte van ’n bestendige koninkryk gegee het, verhef hy nie sy hart hoogmoedig nie. Hy keer daarenteen in nederige dankbaarheid tot God. En hy dink daaraan, en erken dat hy deur God tot daardie hoogtes gebring is eerder as wat dit uit eie krag sou wees. En Dawid laat die grootheid aan God toekom eerder as om dit vir homself te wil toeien. “Koning Dawid het toe ingegaan en voor die aangesig van die Here gebly en gesê: Wie is ek, Here Here, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het? En dit was nog te gering in u oë, Here Here, sodat U ook aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek het; en dit is die wet vir mense, Here Here! Maar wat sal Dawid nog verder met U spreek? want U ken u kneg, Here Here. Ter wille van u woord en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen, om dit aan u kneg bekend te maak. Daarom is U groot, Here God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie,...” (2 Sam. 7:18-22).
Geliefdes, mag ons opnuut daaraan dink en probeer om ook in ons lewens nie vir die goedkeuring van ander mense te leef nie, maar tot die eer en verheerliking van God. En mag ons daarop fokus om te doen wat sy goedkeuring wegdra eerder as dit wat ander mense dalk sal beïndruk. Onthou, daar is voor sy oë niks verborge nie! “...Here, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.” (Ps. 139:1-3).