Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moed is om te doen wat gedoen moet word met die diep, innerlike oortuiging dat, as jy jou plig doen, jy vir die res op God kan vertrou
ONS BRON VAN KRAG
Hannes Ollewagen
Fil. 4:10-23
“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” (:13).
Ons het gedurende die afgelope paar dekades menigmaal die waarskuwingskrete teen die humanisme vanuit behoudende, Christelike oorde gehoor. Die verkeerdheid en gevaar van hierdie skewe lewensbeskouïng is van verskillende kante uitgewys. En dit is aanhoudend en herhalend gedoen juis om die erns hiervan te probeer beklemtoon. Ons is immers as gelowiges die verantwoordelikheid van waarskuwing en vermaning opgelê. “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.” (Heb. 3:13).
Wanneer ons vandag sien hoe dinge in die samelewing gaan, bevestig dit vir ons dat hierdie vermaninge en waarskuwingskrete nie vir een oomblik ongegrond was nie. En dat dit nie vir een oomblik oordrewe was nie. Die absolute selfsug en selfgesentreerdheid wat só ’n groot deel van die samelewing in ’n wurggreep het, is die logiese gevolg van so ’n skewe lewensbeskouïng waarin die mens sentraal en absoluut verhewe geplaas word.
Die gevolge hiervan is vernietigend. Kinders vermoor hul ouers – ’n absolute ondenkbare optrede wat tot uiting kom wanneer die mens se fokus lank genoeg op homself is en daar vir God nie enige plek gelaat word nie. Egskeidings is aan die orde van die dag. En die skade en leed wat ek my eie vlees aandoen, word oorskadu deur die belangrikheid van myself en my eie geluk omdat ek mos die allerbelangrikste skepsel in die heelal is. Afgetrede en weerlose oumense word in ellende gedompel omdat mense wat met hul hard verdiende spaargeld toevertrou is nie oor hul eie gierigheid en selfsug kon heers nie. En omdat jyself volgens die kettery van humanisme altyd die belangrikste wese in die heelal is, is dit tog net logies dat jou begeertes altyd voorrang sal geniet. En dat jy boonop regverdiging vir jou eie optrede sal vind ongeag hoe onregverdig en vernietigend dit teenoor ander is.
Dit is hartseer dat hierdie verwerplike dwaling van humanisme ook deur menige teoloë ondersteun is. Dit is veral die verkondiging van voorspoedsteologie wat so lekker by hierdie gedagte van humisme aansluit. Die fokus word verskuif van die mens se gesonde verhouding met God wat sentraal staan na die mens se belangrikheid en hoe God aangewend kan word om jou lewe te verbeter. En dan word hierdie gedeelte uit Fil. 4:13 so maklik en gerieflik aangewend – ongelukkig meestal buite konteks wat die boodskap heeltemal vertroebel. En tog, ten spyte van al hierdie dwalinge wat so goed op die oor val en wat vir ons die hele tyd vertel hou oulik die mens is, hoe goed ons sonder God kan klaarkom, of eintlik hoe goed ons kan klaarkom as ons God na hartelus kan voorskyf en dergelike krom ketterye wat aangewend word om God te probeer manipuleer om sy seën oor ons te gebied, is die realiteit rondom ons heeltemal anders. Dit is nie asof ’n onophoudelike seën en vrede oor ons land bly reën nie. Inteendeel, die huidige stand van sake het meer raakpunte met Egipte wat met die een plaag na die ander getref is. En ten spyte daarvan dat mense die hele tyd in die gehoor gestreel word en hulself gedurig met allerhande gedagtes inspireer oor hul eie deugdes en krag, is mense moedeloos. Mense is moeg, uitgeput en verval in toestande van depressie en wanhopigheid.
Ons is as gelowiges nie van hierdie slegte omstandighede in die wêreld rondom ons geïsoleer nie. Maar in hierdie toestande moet ons fokus suiwer bly. Ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee. Deur Christus wat ons krag gee. Deur Christus wat ons krag gee. Hierop behoort die beklemtoning te wees – op die bron van ons krag en nie op ons vermoë om enigiets te kan vermag nie. Die oomblik wanneer ons fokus in die lewe van God na onsself verskuif, is die oomblik wanneer die probleme begin. Daarom, sou ons fokus op dit wat ons moet of kan doen in die bestaande omstandighede sal ons ook, soos die wêreld rondom ons, in wanhoop verval. Maar solank ons in die huidige omstandighede die oog op Christus, die Bron van ons krag, gevestig hou, sal ons in staat wees om alles wat ook in hierdie moeilike omstandighede voortspruit te hanteer. Hiervan het Moses en die kinders van Israel ook getuig na die wonderlike tog deur die Skelfsee. “Die Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.” (Ex. 15:2). En hiervan het die liefling van God, koning Dawid ook getuig. “God is dit wat my met krag omgord en my weg volkome maak.” (Ps. 18:33).
Mag ons volgens die voorbeeld van hierdie geloofshelde elke dag na Hom kyk as ons Bron van krag. Die Bron van krag wat ons versterk om na sy wil en welbehae te handel.
“Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” (Jes. 40:29-31).