HÝ IS DIE REGVERDIGE

Hannes Ollewagen

Job 4:12-21

“Sou 'n sterfling regverdig wees voor God? Of 'n man rein wees voor sy Maker?Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling.” (:17&18).

Daar is ‘n bekende gesegde in die Ingelse taal wat stel: “Two wrongs don’t make a right.” En hierdie stelling het my laat dink aan dit wat in die lewe van onse Here Jesus Christus gebeur het. Is dit dan nie dat die onreg (“wrong”) wat Hom aangedoen is juis die onreg (“wrong”) wat ons doen “reg” gemaak het nie? Of was dit juis die reg wat Hy gedoen het wat die onreg wat ons doen reg gemaak het?

Hierdie woorde uit Job 4 laat ons opnuut aan die verlorenheid van die mens voor God dink. En hierdie waarheid is ook deur Dawid in Ps. 143:2 vir ons duidelik gestel. “En gaan nie na die gereg met u kneg nie, want niemand wat leef, is voor u aangesig regverdig nie.” En dan is dit ook Paulus wat in Romeine 7:18&19 weer eens hierdie saak onderstreep. “Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie.Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek.”

Wanneer ons dan ook dink aan al die besonderse mense van wie se lewens ons uit God se Woord leer, besef ons hoe absoluut waar hierdie stelling is dat geen mens voor God regverdig is nie. Dink maar aan Abraham, Moses, Dawid, Paulus, Petrus en so kan ons met die lys aangaan. Hulle was almal baie, baie besonderse mense wat God innig en opreg liefgehad het. En hulle almal het in ‘n baie besonderse verhouding met God geleef. Maar nie een van hulle was volkome regverdig en sonder sonde nie. Hierdie mense het wel begeer om regverdig voor God te leef. Hulle het nie vir hul verkeerde optrede en ongehoorsaamheid aan God verskonings gesoek nie, maar eerder vergifnis. Ja, luister na die Woorde van Paulus wat sy begeerte om heeltemal regverdig voor God te leef vir ons duidelik maak. “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom. 7:24). En verder bevestig Paulus die feit dat hyself by onvermoë is om homself voor God te regverdig. Hy bevestig dat sy heil hierin, om regverdig te word, in Christus lê! “Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!” (Rom. 7:25).

Ons lees in Romeine 8:33 dat dit God is wat ons regverdig maak. “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.” En beteken dit dan dat ons nou na hartelus aan elke sondige begeerte kan toegee, want wie sal teen ons beskuldiging inbring? God het ons dan geregverdig? Beslis nie! Die voorafgaande vers stel vir ons hoedat God ons van die sonde regverdig. “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” Hy het sy eie Seun hiervoor oorgegee. Dit word nog meer duidelik in 1 Petrus 3:18: “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring ...”. Christus het vir ons sondes gely om ons na God te bring, om ons van die sonde te regverdig en nie om aan ons ‘n verskoning te gee om in sonde te leef nie.

Geliefdes, die prys vir ons regverdiging was nie gering nie. God die Vader het sedert die begin van tyd dit ingestel dat die sonde gestraf móét word. En God is aan sy eie insettinge nie ontrou nie. “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.” (2 Tim. 2:13). Derhalwe sou dit beteken dat as God ons sonde ongestraf laat bly dat Hy aan Homself ontrou sou wees. En om ons hierdie straf wat ons verdien kwyt te skeld, het Hy die straf vir ons sondes op Christus laat kom. Die straf van ons sondes het dus op Hom gekom. Dit word vir ons duidelik in Jesaja 53:5 gestel. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”

Dit is dan ook presies waarom HÝ dit waardig is om deur ons aanbid te word. Sien u die wonderlikheid van onse Here Jesus Christus? Hy is die Enigste wat dít kon regkry wat vir elke ander mens onmoontlik is – om volkome regverdig voor God te wees. En daarom is Hy alleen die Een wat ons kan regverdig. Daarom behoort ons Hom in die spore van geregtigheid te volg, omdat Hy alleen die Een is wat ons na regverdigheid lei. “My kinders, laat niemand julle mislei nie: wie die geregtigheid doen, is regverdig soos Hy regverdig is.” (1 Joh. 3:7).