CHRISTUS HET ONS LOSGEKOOP!

Hannes Ollewagen

Gal. 3:1-29

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons 'n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang — “ (:13).

Wanneer ons Lukas 16:17 lees kan dit voorkom asof daar ‘n weerspreking in die Woord van God is. “Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.” Terwyl dit uit hierdie gedeelte duidelik is dat nie die geringste van die wet van God sou verval nie word daar weer in Galasiërs 3 gestel dat Christus ons van die vloek van die wet vrygemaak het. En wat meer is, is dat ons in Gal. 5:4 die volgende lees: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” Dit klink dan amper uit laasgenoemde asof dit verkeerd sou wees om die wet van God te onderhou? En dit in teenstelling met Christus se stelling in Lukas 16 wat vir ons bevestig dat die wet van God nooit irrelevant sal raak nie.

‘n Noukeurige ondersoek van die Woord van God sal ons help om hierdie saak reg te verstaan. Die gedeelte uit Galasiërs 5 handel oor die verkeerdheid daarvan om in eie krag, eie vermoë, op eie meriete te probeer om onsself voor God te regverdig. Maar dit moenie as ‘n verbod om die wette van God te gehoorsaam beskou word nie. Dit is egter vir enige mens onmoontlik om van geboorte tot sterwe nooit teen God te sondig nie. Ja, omdat almal van ons in ons lewe al teen God gesondig het en sal sondig, is ons volgens die eis van God se wet vervloek en derhalwe die dood skuldig. “...want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom. 3:23).

God het, omdat daar geen mens op hierdie aarde is wat sonder sonde is nie, sy geliefde Seun, onse Here Jesus Christus, na die aarde gestuur om ons van die mag van sonde vry te koop. Hy was vlekkeloos voor God. Hy was geheel en al sonder sonde en sonder skuld voor God en tog is Hy die vloek van die wet opgelê – Hy is aan ‘n vloekhout vasgenael! Die straf vir die sonde, die vloek van die sonde het God die Vader derhalwe op Hom laat neerkom. “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” (2 Kor. 5:21). Ja, omdat God ‘n heilige God is, laat Hy die sonde nie ongestraf nie. En daarom is ons sonde, ons ongehoorsaamheid aan God in Christus gestraf. Hy het ons skuld op Hom geneem en so die straf van ons misdade vir ons gedra sodat daar vir ons vergiffenis en versoening deur Hom met die Vader kan wees. “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).

Hierdie besef van wat Christus werklik vir ons gedoen het behoort ons diep in die hart te tref. Dit behoort by ons ‘n allesoorheersende liefde vir Hom en ook ‘n diepe ootmoed teenoor Hom te wek. Dit behoort ons daartoe op te wek om volgens sy voorbeeld ook in alles in ons lewens aan God gehoorsaam te wees. En ons mag nie hierdie genade, hierdie liefde wat God en Christus aan ons bewys het misbruik nie. Hierdie genade van God was nie goedkoop nie – dit het die bloed en lewe van sy Seun gekos en ons durf dit nie goedkoop maak nie, geliefdes. “...hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” Heb. 10:29.

Ons moet baie mooi verstaan dat diegene wat mense probeer oortuig dat Christus se sterwe aan die kruis beteken dat ons onsself in ongebondheid aan die begeertes van die vlees kan oorgee en ‘n lewe van losbandigheid kan leef onder die gerusstelling dat “Christus reeds vir ons sondes gesterf het”, ‘n verskriklike dwaling verkondig. Dit word in Romeine 6:10-16 vir ons so duidelik uitgedruk dat die sterwe van Christus ten doel gehad het om ons met God te versoen en nie om vir ons vrypas te gee in die navolging en uitleef van ons sondige, vleeslike begeertes nie. “Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God.Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie — òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?”

Geliefdes, dink daaraan – as die sonde in God se oë sommer ‘n kleinigheid, ‘n nietigheid was, beteken dit dat Hy sonder goeie rede sy geliefde Seun die marteldood aan die vloekhout laat sterf het! Diegene wat so iets impliseer moet baie mooi daaroor besin of hulle werklik bereid is om so ‘n onverskillige stelling te maak. Die sterwe van Christus op so ‘n verskriklike wrede manier was juis vir ons die teken van die verskriklikheid van sonde en dat sonde voor God gestraf moet word! En Christus het in ons plek hierdie straf op Hom geneem.

Ons behoort daarom uit dankbaarheid vir die gawe wat God aan ons geskenk het, die lewe van sy geliefde Seun, daarna te streef om die Vader te gehoorsaam met dieselfde liefde en ootmoed as wat Christus Jesus aan die Vader gehoorsaam was. Ja, ons moet weet en deeglik verstaan dat ons by onvermoë is om uit onsself ons eie geregtigheid voor God die Vader te werk. Sonder hierdie begrip sal ‘n opregte waardering vir die soenverdienste van Christus by ons ontbreek. Ja, nie onsself nie, maar Christus Jesus het ons geregtigheid voor Hom gewerk en daarom is Hy ook die een wat ons as genadige Leidsman met God versoen en kan leer en lei om in ootmoed die Vader uit liefde en dankbaarheid te gehoorsaam. “Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” (Rom. 6:22&23).

Amen.