BLY IN SY LIEFDE

Hannes Ollewagen

Joh. 15:1-27

“Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.” (:9&10).

Elke mens het ‘n behoefte daaraan om liefgehê te word. En luister na die wonderlike liefdesverklaring van God aan ons uit sy Heilige Woord.

“Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.” (:9).

Dit is geen mens wat hierdie verklaring maak dat ons aan die waarheid en egtheid hiervan hoef te twyfel nie. Geliefdes, hierdie verklaring word deur die Seun van God self gemaak – dit is eg, opreg en waar. En dit is nie sommer leë woorde nie. Hierdie liefde van God vir ons is aan ons bewys deur sy lewe wat Hy vir ons gegee het.

“...en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur.” (Efés. 5:2).

Dit is belangrik om daarop te let dat Christus se liefdesverklaring in vers 9 met ‘n vermaning opgevolg word. Hy vermaan ons om in sy liefde te bly. Hy wil sien dat ons hierdie liefde van Hom koester. Hy wil sien dat hierdie liefde van Hom ons deel bly. En Hy onderrig ons dan ook dadelik in die volgende vers hoedat ons in hierdie liefde van Hom kan bly.

“As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, ...” (:10).

Ja, geliefdes – alhoewel ons hierdie liefde van God gratis ontvang, is dit nie goedkoop nie. Inteendeel, dit is uiters duursaam en kosbaar en daarom dat God ons daartoe vermaan om hierdie liefde van Hom te koester. Hulle wat die waarde van hierdie liefde nie begryp nie en dit nie koester nie sal hierdie kosbare skat verloor!

Dit is hartseer om te sien hoedat valse leraars in hierdie dae mense uit hierdie liefde van God in Christus mislei. Ja, met mooi klinkende woorde streel hulle mense in die gehoor, maar beroof hulle hul van hierdie liefde in God. Geliefdes, hulle verkondig aan mense dat God alle mense liefhet, ongeag. Ja, aldus hierdie valse leraars is God selfs lief vir diegene wat Hom verag. Dit is gewoon onwaar! Die Woord van die Here stel dit tog duidelik in Ps. 11 dat God die goddelose haat.

“Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.”

Ja, hulle wat verkondig dat God ook die goddelose wat in ongeregtigheid volhard in liefdevolle arms sal omhels, beledig God. Hulle tas God se heiligheid aan deur hul bewering dat God by die goddelose sal tuis voel terwyl God Homself duidelik in Ps. 50:16-21 hierteen uitspreek.

“Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond – terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? As jy ‘n dief sien, dan geval dit jou by hom, en jou deel is met die egbrekers. Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog. Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy. Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.”

Geliefdes, God het natuurlik barmhartigheid en genade met sondaars en sal ons in sy grote barmhartigheid en goedertierenheid vergeef wanneer ons in swakheid teen Hom sondig en ons ons sonde erken en bely.

“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1 Joh. 1:8).

Maar wanneer ons met moedswilligheid teen Hom oortree en in sonde volhard nadat ons tot kennis van die waarheid gekom het, verag ons die HERE en sal sy grimmigheid eerder as sy liefde ons omring.

“Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit. Want die woord van die HERE het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom.” (Núm. 15:30&31).

Ons moet verstaan dat die sonde in God se oë nie sommer net ‘n nietigheid is nie. Hy verag dit met sy hele wese. Wanneer ons maak asof die sonde sommer gering is, sê ons eintlik dat God die lewe van sy Seun vir ‘n nietigheid gegee het. Hoe durf enige mens so iets kwytraak?! Geen mens durf God van sulke liefdeloosheid beskuldig nie! Geliefdes, laat ons daarna streef om die genade en liefde wat God aan ons bewys met ‘n lewe van gehoorsaamheid uit liefde en eerbied vir Hom te begroet. Sodoende sal ons in sy liefde bly. Ja, sodoende sal ons daardie liefde wat Hy ons skenk, koester. Daardie kosbare skat van sy onmeetbare liefde.  

“Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” (Rom. 8:38&39).