MESSIAANSE JODE...

...ʼn DODELIKE MISLEIDING

Ds Andrè van den Berg

Lees reeks by Aktuele geloofsonderwerpe: Ds AE vd Berg

1 Tim.4:1-4

Soos wat die Israel Visie nie ʼn enkele beweging is nie maar die versamelnaam vir talle versplinterings wat dieselfde dwaalleer verkondig, is die Messiaanse Jode ook ʼn versamelnaam vir ʼn ergerlike dwaling.  Vroeg in die 20ste eeu het dwaalleraars begin verkondig dat die geloof in Christus as Verlosser nie genoegsaam is om in die hemel te kom nie, maar dat die Wet van Moses ook onderhou moes word, so ook die sabbat en Joodse heilige feesdae.   Jesus word wel as Redder bely, maar om hierdie redding te behou, moet die Wet van Moses ook onderhou word.

Hierdie dwaling het in 1916 as die Sacred Name Movement ontstaan en in 1937 die Worldwide Church of God genoem.  Hulle word vandag die Hebrew Roots Movement genoem en beskuldig die kerk van dwaling omdat sy die Hebreeuse agtergrond van die NT glo minag. 

Daarbenewens het sy haar van meet af aan deur die Griekse en Romeinse kulture laat beïnvloed wat haar ʼn heidense weergawe van die Evangelies laat verkondig.

Die Messiaanse Jode verkondig dat die Wet van Moses nie met die dood van Christus aan die kruis geëindig het nie, maar vernuwe is.   Gevolglik kan die NT slegs vanuit ʼn Hebreeuse oogpunt verstaan word.  Hulle beskou die Wet van Moses (die eerste vyf boeke van die Bybel) as die fondament vir die verstaan van die ganse Skrif en leer dat Jesus nie ʼn nuwe godsdiens kom vestig het nie.

Die Bybel leer wel so.   Jesus het die wet opgeskort soos wat die dood ʼn huwelik opskort. “...en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael”(Kol.2:14).

Van die Messiaanse Jode gaan selfs so ver as om die betroubaarheid van die oorspronklike Bybelteks aan te val en te verkondig dat daar ʼn oorspronklike Hebreeuse teks van die NT bestaan het.   Gevolglik beskou hulle die Griekse teks van die NT as bedorwe en derhalwe onbetroubaar.  Indien dit waar was, sou die kerk geen standaard van geloof gehad het nie.   Hierdie is niks anders as Sataniese misleiding nie!

Alhoewel daar verskillende Messiaanse Jode-groepe met verskillende sienings is, is hulle almal oor een saak begaan - die sg. ontdekking van die oorspronklike Joodsheid van die Christendom.   Soos vir die Israel Visie gaan dit vir hulle, ten spyte van die duidelikheid van die Woord, ook om die vlees en nie die gees nie. “...julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees... (Rom.8:9).

Die Messiaanse Jode beskuldig die kerk daarvan dat sy haar Joodse oorsprong minag en roep mense op om die verordeninge van die Wet van Moses die sentrale plek in hul lewe te laat inneem.   Die sabbat moet op Saterdag gehou word, Joodse feeste gevier en OT voedselvoorskrifte nagekom word.   Daarbenewens moet sg. “heidense” instellings soos Kersfees en Paasfees vermy word.

Hulle glo dat niemand die Evangelie kan verstaan alvorens die Wet van Moses nie verstaan word nie.   Die Bybel moet met Joodse oë gelees word.  Hulle glo dat God hulle geroep het om Jode te wees en dat die Wet van Moses bindend op hulle is.   Daarom dra hulle graag kledingstukke wat tradisioneel Joods is, beoefen Dawid-danse en gebruik Hebreeuse name in hulle gesprekke en geskrifte.  Hierdie vertoon getuig egter van gebrekkige Skrifstudie.

Om die Wet van Moses tot die grondliggende leer van die kerk te verhef, kom op die neerhaal en afwatering van die NT neer.   Dink daaraan dat indien die kerk se leer van die NT foutief is en slegs in die lig van die OT verstaan moet word, kom die leer van die Drie-eenheid ook onder skoot!

Die NT is baie duidelik daaroor dat die Wet van Moses met die dood van Christus tot ʼn einde gekom het.    Om te leer dat dit nog geldig is, is ʼn dwaling.   Die NT leer dat die gelowige nie-Jode nie in die Wet van Moses ingeplant is nie, maar in die kerk as die saad van Abraham.

Paulus skryf aan die Romeine: “... maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham...  Daarom is dit uit die geloof...  nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal” (Rom.4:12,16).  Hy skryf aan die Galasiërs: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Gal.3:29).

Christene is ʼn nuwe volk na die Gees.  “...deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van die gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep”.

So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God” (Efes.2:15,19).

Hierdie nuwe mens is die kerk van Christus wat uit bekeerde Jode en nie-Jode bestaan.  Jy hoef nie jou identiteit prys te gee om vir God aanvaarbaar te wees nie.  Hy het nooit van nie-Jode verwag om by Israel ingelyf te word nie maar in Christus.  Die kerk van Christus bestaan uit verskillende volke, kulture en tradisies sonder enige voorkeur vir enige volk.

Nêrens in die Bybel is daar enige opdrag vir nie-Jode om die Levitiese wette of Joodse gebruike na te volg nie.  Die teendeel word eerder geleer: “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie” (Rom.7:6).

Soos wat ʼn laaste betaling op ʼn huis gemaak word en die kontrak daarna tot niet is sonder verdere verpligtinge teenoor die lener, het Jesus die finale paaiement aan die kruis betaal.  Die gordyn wat met sy dood in die tempel geskeur het, was simbool van die kontrak wat opgeskeur is. “As Hy sê ʼn nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning” (Heb.8:13).  Toe Hy aan die kruis sterf, is die ou verbond ook dood.

Desondanks bly die Wet van Moses die as waarom die Messiaanse Jode se gelooflewe draai.   Dit bring hulle in stryd met Paulus se kernboodskap van sy bediening: “...want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde” (1 Kor.2:2).  “Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie” (Hand.13:38,39).

Daar is wel plek vir die Wet van Moses in die kerk indien dit reg gebruik word. “Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettig gebruik” (1 Tim.1:8). Gelowiges kan die Wet nie anders as vanuit die vervulling daarvan deur Christus verstaan nie.  Ons kan die Wet nie lees asof Jesus nie gekom het nie.  Die besnydenis, offers, feeste en sabbat waarvan ons lees was alles heenwysers na Hom en noudat Hy gekom het, staan ons nie langer daarby stil nie.

Wat van die Wet se sedelike voorskrifte?  Jesus het tydens die Bergpredikasie ʼn nuwe standaard kom stel wat selfs die Wet oortref het.  In Mt.8 lees ons van Jesus se genesing van ʼn melaatse.   Die Wet het die aanraking van ʼn melaatse as onreinheid geag en verbied.  Jesus raak ʼn melaatse aan en genees hom.  Dit gebeur ook met die genesing van die man by die bad van Betesda op ʼn sabbat.

Jesus is gelowiges se finale gesag.  Hy verklaar alle voedsel rein omdat niks wat van buite die mens ingaan hom onrein kan maak nie (Mark.7:15).  Daarom handhaaf ons nie meer die wet se voedselvoorskrifte nie en stel die Messiaanse Jode hulle met hul voedselvoorskrifte direk teen Jesus wat alle voedsel rein verklaar het. “Laat niemand julle dan oordeel in spys of drank of met betrekking tot ʼn fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ʼn skaduwee is van die toekomstige dinge...” (Kol.2:16,17).

Die Messiaanse Jode is oordrewe wetties - jy mag nie dit of dat doen nie, jy moet die sabbat onderhou, so ook die Joodse feeste, nuwe mane ens.  Maar hulle swyg oor die genoegsaamheid van Jesus se sterwe en opstanding.   Hulle is gedurig met twisvrae besig wat mense omkrap: “En hulle nie besig hou met fabels en eindelose geslagsregisters nie, wat net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is” (1 Tim.1:4).  Ja, geestelike slawedrywers wat mense se gewetens in knegskap wil plaas, is so oud soos die kerk self!

In Handelinge spreek Petrus mense wat van Judea af gekom het aan omdat hulle Joodse wette op die gelowiges wou afdwing: “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ʼn juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” (Hand.15:10).

Die boodskap van die Messiaanse Jode is nie op nuwe insigte in die Woord gegrond nie, dis onbeskaamde misleiding.   Hulle haal Bybeltekste aan maar minag die verlossingswerk van Christus.   Daarbenewens skep hulle twyfel in mense se harte oor die geloof wat eeue lank deur die kerk bely is.

Die leer van die Messiaanse Jode wemel van foute wat wissel van ʼn waninterpretasie van die wet tot ʼn wanbegrip van die Evangelie van versoening.   Hulle spreek hul graag oor beuselagtige dinge uit soos wat op ʼn sabbat geoorloof is en wat nie.  Dit lei tot wettisisme.  Die gevaar hiervan is dat hulle van die Wet van Moses ʼn afgod maak wat Christus verdring.    

Die Messiaanse Jode mis die hele punt – die OT is die voorafskaduwing wat na die Messias wys.   Hulle draai dit om dat die OT nie vorentoe na die NT kyk nie maar dat die NT agtertoe na die OT kyk!    Daarmee laat hulle die ou verbond oor die nuwe een seëvier.

Die OT is vir gelowiges belangrik omdat dit na Christus heenwys.  Dis egter nie ons leermeester nie.   Ons leef in ʼn nuwe verbond.  Dis ʼn nuwe pad.   Die ou pad het uitgedien geraak en is met die dood van Jesus deur God gesluit is.   Die Messiaanse Jode wil dit weer oopmaak!

Die kruks van hul dwaling is hul ontkenning dat Christus die Wet van Moses vervul het.   Wie dit ontken, trek ʼn streep deur die versoening wat Hy aan die  kruis bewerk het.  “...en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael”(Kol.2:14).

Die Messiaanse Jode is egter niks nuuts nie, maar die herlewing van ʼn baie vroeë dwaling: “Aangesien ons gehoor het dat sommige wat van ons uitgegaan het, aan wie ons geen opdrag gegee het nie, julle met woorde ontstel en julle gemoedere verontrus deur te sê dat julle besny moet word en die wet moet onderhou. (Hand.15:24).

Die Messiaanse Jode is baie gesteld op die Hebreeuse name van God en Jesus en glo dat geen gebede wat in enige ander naam as die Hebreeuse name gebid word verhoor word nie.  Groot gelowiges soos Luther en Calvyn het dus tevergeefs in die Naam van Jesus gebid!

Ons bevind ons in die laaste dae; ʼn tyd wat deur groot misleiding gekenmerk word en in omvang sterk aan die toeneem is.   Mense word voortdurend met slim teorieë en welsprekendheid mislei.  “Hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie” ( 1Tim.1:7).  NAV: “hulle verstaan nie hul eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie”.

Die Messiaanse Jode is berug daarvoor dat hulle tekste uit verband aanhaal en selfs buite Bybelse verklarings by God se Woord voeg.  Openb. 22 waarsku mense om niks by God se Woord te voeg nie.  Jy voeg ook by as jy soos die Messiaanse Jode en ander sektes verkeerde verklarings op die Bybel afdruk!

Die beste manier om nie by dwaalleer betrokke te raak nie, is ʼn liefde vir die waarheid.  En so ʼn liefde word deur ʼn ernstige soeke daarna gekenmerk.  Ons durf niks aanvaar wat teen die Bybel is nie. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie....”(Gal.6:7).

Die Messiaanse Jode gee voor om ʼn hoër geestelike pad te bewandel terwyl nie een van hulle paaie na die versoening in Christus lei nie.   Die ware Evangelie word met ʼn valse evangelie van volle wetsonderhouding verdring.   Die Jesus wat hulle verkondig is nie die algenoegsame Jesus van die Skrif nie maar ʼn afwatering.