BOEDDHISME...

...Lig of duisternis?

Ds AE van den Berg

Suid-Afrika beleef tans ’n ontstellende invloei van Chinese in die land, mense wat oorweldigend Boeddhisties is.   Net buitekant Bronkhorstspruit is die grootste Boeddhistiese tempel in die Suidelike Halfrond gebou.  Alhoewel Boeddhisme Oosters van oorsprong is, vind dit onder Westerlinge toenemend aanhang.   Die akteur Richard Gere is byvoorbeeld ’n Boeddhis.

Die meeste Suid-Afrikaners weet maar min van Boeddhisme en besef nie watter vernietigende suigkrag hierdie stuk heidendom het nie.  Dis noodsaaklik dat ons ’n basiese kennis van Boeddhisme sal hê sodat ons enersyds kan waarsku en andersyds ’n getuienis teenoor hierdie mense kan lewer wat glo dat hulle die lig het, maar in werklikheid in die stikdonkerte van Satan ploeter.

Die ontstaan van Boeddhisme gaan terug tot ongeveer 560vC met die geboorte van Siddharta Guatama, die seun van ’n prins  wat oor ’n gebied tussen Indië en Nepal regeer het.   Sy naam beteken:  hy wat sy doel bereik het. Hy is eers later Boeddha genoem wat die verligte een beteken, ’n man wat baie tyd aan peinsing spandeer het en ’n bedel-bestaan gevoer het.   Hy word deur miljoene as die volmaakte mens gehuldig wat vir die mensdom die leer van volmaaktheid gebring het om na te volg.   Wie Boeddha volg, so glo hulle, moet dié leer met ander deel.

Boeddha was aanvanklik ’n Hindoe, maar soos wat Luther met die Roomse Kerk gebreek en ’n Hervorming van stapel gestuur het, het Boeddha teen Hindoeïsme in opstand gekom en ’n nuwe godsdiens begin.  Hy het byvoorbeeld die Hindoes se heilige geskrifte en kaste-stelsel verwerp en ontken dat ’n God (hoër geestelike wese) bestaan.

Boeddhisme glo nie aan verlossing nie.  Boeddha was self nie ’n god nie en is ook nie deur ’n god gestuur nie.   Boeddhisme is dus ’n godlose godsdiens en ’n godlose godsdiens is ’n goddelose godsdiens en derhalwe boos!

Boeddha word nie as middelaar of verlosser voorgehou nie.   Dit wat hy geleer het, word as belangriker beskou as wie hy was.   Daarom aanbid Boeddhiste nie die beeld van Boeddha nie, maar betoon hom biddende eer deur voor die beeld te buig en te bid dat hulle soos hy kan word.   Dit wat Boeddha geleer het, is mondelings oorgedra, deur monnike gememoriseer en eers 400 jaar na sy dood op skrif gestel.

Vir Christene beteken verlossing die bevryding van sondeskuld, maar nie vir Boeddhiste nie.   Vir hulle is verligting (nirvana) verlossing.  Dis wanneer mense dieselfde verligtende ervaring het as wat Boeddha onder die vyeboom ervaar het.

Boeddha het ’n paar reise onderneem en op een van hulle ’n monnik teëgekom wat niks meer as die bekertjie waarmee hy gebedel het, besit het nie.   Dit het hom geruk en laat besef dat die lewe om meer dinge as weelde en rykdom gaan.  Daarna het hy sy huis en gesin verlaat en ’n kluisenaarsbestaan gevoer met die hoop om lewenswysheid te bekom.   Al wat dit hom op die hals gehaal het, was swak gesondheid.   Toe hy eendag baie moedeloos onder ’n vyeboom gaan sit het, het hy ’n bo-natuurlike openbaring gehad wat hom insig in die lewe besorg het.   Daarom verwys sy volgelinge na hom as die verligte een.   Hierdie staat van verligting waarna alle Boeddhiste streef, word nirvana genoem.

Boeddha het sy belewenis aan mense begin vertel en duisende dissipels gemaak. Hy het vir 40 jaar in Indië as bedelmonnik gereis en mense geleer.  Hy was 80 jaar oud toe hy oorlede is.  Sy volgelinge vertel dat hy op skouspelagtige wyse in die hemel opgeneem is.  Let daarop dat beide Christendom en Boeddhisme ’n sentrale historiese mens as stigter gehad het, maar dat net Jesus uit die dood opgestaan en daarna aan mense verskyn het.   Ten tye van Boeddha se dood was Boeddhisme al gevestig.   Driehonderd jaar later het dit die hele Asië besmet.

Daar is mense wat beweer dat Boeddhisme nie veel van die Christelike leer verskil nie.   Dis ’n leuen!   Boeddha het homself nooit as ’n god nie, maar as ’n wegwyser vir mense beskou.    Hoe verskil dit nie van die Christendom nie!  Die Bybel leer dat Jesus self die Weg is: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6).   En wat meer is, die Seun van God:  “En daar kom ’n stem uit die hemel wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Mt.3:17).   Ook dat Jesus en God een is: “Ek en die Vader is een” (Joh.10:30).   Niemand durf sê dat hy ’n Christen is sonder om te glo dat Jesus werklik God is nie!

Die probleem wat Christene met Boeddhisme het, is hulle siening van sonde.  Sonde is vir hulle ’n persoonlike misstap en nie ’n oortreding teen ’n heilige God nie, omdat hulle nie ’n God aanbid nie.   Wie dit glo, het geen behoefte aan ’n verlossing van sonde en regverdiging deur die ware God nie en gaan verlore!    Boeddhisme hou geensins rekening met die ontaarding van die mens nie.  Die Bybel leer ons dat sonde ’n probleem met ewige nagevolge is en dat Jesus die enigste Redder van ’n ewige verdoemenis is.   Boeddhiste het geen behoefte aan ’n Verlosser wat hulle van verdoemende sonde kan red nie.  Om die waarheid te sê, sien Boeddhiste die konsep van God as ’n hersenskim.

Boeddhiste glo ook nie aan ’n skepping of dat daar ’n einde aan die wêreld gaan kom nie omdat hulle aan reïnkarnasie glo; ’n eindelose sirkel van lewe en dood.   Christene daarenteen glo dat God sy Seun gestuur het om vir ons aan ’n kruis te sterf sodat ons nie in die ewige hel beland nie.  Hy het sy Seun gestuur om ons te leer dat ons nie alleen in die wêreld is nie, maar dat Iemand in die hemel ons liefhet.

Christene weet dat daar meer aan die lewe is as om gebore te word en te sterf.  “...maar wat nou geopenbaar is deur die verskyning van ons Verlosser, Jesus Christus, wat die dood tot niet gemaak het en die lewe en die onverderflikheid aan die lig gebring het deur die evangelie” (2 Tim.1:10).

Boeddhiste glo nie aan ’n hemel nie, maar dat mense deur verligting nirvana op aarde kan betree.  Gesien in die lig van Jesus se leer oor die hemel, is dit loutere onsin!   Jesus sê dat ons fisiese liggaam sterf, waarna ons siele na Hom toe gaan: “...want wanneer hulle uit die dode opstaan, trou hulle nie….maar is soos engele wat in die hemel is” (Mark.12:25).

Boeddhiste glo nie aan ’n siel nie; as jy sterf, word jy net weer in ’n ander liggaam gebore – reïnkarnasie.   Vir Boeddhiste is daar geen genadige Vader in die hemel wat sy Seun gestuur het om vir sondaars te sterf nie.   Dit alleen is al genoeg om Boeddhisme as ’n leerstelling van Satan te verwerp!

Die Boeddhiste se heilige geskrifte vergelyk nie naastenby met die Bybel nie.  Die geskiedenis van die Bybel is so oortuigend dat ons met vrymoedigheid kan sê dat om aan die Bybel te twyfel is om aan die geskiedenis self te twyfel.  Die Bybel is geskiedkundig die mees kontroleerbare boek van alle tye.

Die Christendom se sedeleer het geen gelyke nie omdat dit in die persoonlike karakter van God geanker is.   Hy is ’n persoonlike en goeie God, so ook alle optredes wat in lyn met sy goedheid is.  Dit wat daarvan afwyk, is boos.   Boeddhisme daarenteen het geen gronde om goed te leef nie!

Boeddha het geleer dat alle begeertes verkeerd en die wortel van lyding is.   Dis ’n leuen!   Die Christendom leer dat daar ook goeie begeertes is.  Liefde is byvoorbeeld die begeerte om goed aan ’n ander te doen: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh.15:13).     Jy kan tog nie jou wederhelf liefhê sonder ’n begeerte na hom/haar nie.

Begeerte is goed indien dit reg gestuur word.  Paulus spoor gelowiges aan om die gawes van God te begeer: ”Maar beywer julle met die oog op die beste gawe...” (1 Kor.12:31).   In die Psalms hunker gelowiges na gemeenskap met God: ”Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!  My siel dors na God, na die lewende God…” (Ps.42:2,3).  Om alle begeertes onder een kam te skeer, is om die baba met die badwater uit te gooi!

Boeddhiste het ’n swak sondebesef en sien sonde as onkunde en bewustelike kwaaddoen, maar wat nie jou ewigheid raak nie, omdat jy gereïnkarneer word.    Die Bybel leer net die teenoorgestelde - geen sonde gaan ongestraf verby nie.   Die straf is alreeds betaal deur God wat mens geword het, ’n volmaakte lewe gelei en ’n dood gesterf het wat elkeen van ons verdien.   Ons kan net deur ’n lewenslange toewyding met God versoen wanneer ons deur die wedergeboorte nuut word en in ’n lewenslange verhouding met Jesus staan.  Dis al manier om van die ewige teregstelling gevrywaar te word – die nuutword in Jesus.  Nie bepeinsing, goeie werke of gebede kan sonde ongedaan maak nie.  Jesus is die enigste antwoord vir die mens se probleme.  Net Hy vereffen ons sondeskuld.

Gevolglik kan ons tot geen ander gevolgtrekking kom as dat die Christendom ons die van redding kan verseker nie.   Daar is geen ander pad na die hemel as deur Christus nie.   Wie iets anders leer, is ’n dienskneg van Satan!

Joh.14:1-6; 1 Kor.3:9-23