TATOEËER OF NIE?

Ds Andrè vd Berg

Tatoeëring is geen moderne gier nie.  Heidene het in Assirië, Egipte en Babilon ink onder die vel van slawe ingewerk om eienaarskap aan te dui.  Soos ‘n brandmerk.  Afgodedienaars het hul graag laat tatoeëer om daarmee aan te dui dat hulle aan ‘n sekere afgod behoort het.  Slawe van die Satan!  So het elke afgod sy eie merktekens gehad.

Israel het tatoeëermerke as toewydingstekens aan afgode verafsku.  Dit het wel in tye van afvalligheid aan God voorgekom.  Openb.13 meld dat afvallige mense die merk van die dier sal ontvang - slawe van die laaste afgod.

Duisende mense, veral sportlui, laat hulle deesdae tatoeëer.  Ook jongmeisies.  Wat sê die Bybel daarvan?

  “ Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie.  Ek is die Here”. (Lev.19:28).  Die antwoord is baie duidelik - jy mag nie!

Sommige mense probeer tatoeëring regverdig deur dit as ‘n Ou Testamentiese verbod en deel van die uitgediende seremoniële wette te sien.   Die Nuwe Testament (NT) verbied dit nêrens nie.  Dis egter baie gevaarlik om so te redeneer en kan mense gevaarlike aannames laat maak.  Bestialiteit (omgang met diere) word bv. slegs in die Ou Testament (OT) verbied.  Beteken dit dat die NT dit goedkeur?   Beslis nie!

Lev.19:29 sê bv. dat ouers nie dogters vir hoerery mag misbruik nie.  Die NT sê niks daaroor nie.  Is dit derhalwe toelaatbaar?   Gelowiges mag nooit so redeneer nie.  Wat in die OT verbode was, is ook in die NT verbode.   Net die Joodse seremoniële wette het saam met die Ou Verbond uitgediend geraak.

In Lev.19:28 word twee dinge verbied - snye en tatoeëring.  Heidene het hul flenters gekerf as teken van rou en droefheid.  God noem in Lev.19:28 twee heidengebruike in een asem omdat dit oor die mens se liggaam gaan.  Snye en tatoeëring is van meet af aan eie aan Sataniese kultusse.   Lev.19:26-28 verbied heidengebruike.

Tydens die Middeleeue het mense hul dikwels in die geheim laat tatoeëer as ‘n teken van vereenselwiging.  Amper soos bendes vandag.  Wie met so ‘n merk gevang is, is gewoonlik deur die Roomse Kerk van heksery beskuldig en desnoods op ‘n brandstapel verbrand!

Ons liggaam is solank as wat ons leef ‘n tempel van God. “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? “ (1 Kor.6:19).  Ons moet altyd verantwoordelik daarmee omgaan.  “Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees…” (:20).  Heidense snye en merke is liggaamskending. “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?  As iemand ‘n tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig en dit is julle” (1 Kor.3:16,17).

Ons liggaam is 'n tempel van God en mag derhalwe nie met heidense merke mismaak word nie.  God is ‘n Regter!   Ons moet dit altyd so versier dat dit tot eer van God sal wees en nie vir mense tot struikeling nie.   Die Woord van God roep ons telkens op om alles tot eer en verheerliking van die Here te doen (Ps.150:6; Jes.61:3).

Gelowiges is anders as ongelowiges en volg hul leefwyse nie klakkeloos na nie.  Paulus skryf aan die gelowiges in Rome om nie aan die wêreld gelykvormig te wees nie, maar anders (Rom12:2).  Gelowiges moet ook anders lyk.  Tatoeëring is sonde en adem ‘n gees wat vreemd aan gelowiges is.

Gelowiges se gees kom in opstand teen tatoeëring omdat dit nie by hulle pas nie.  Dit pas baie eerder by geweldenaars, misdadigers en onverskilliges.  Kyk hoe lyk die meeste tatoeërings.  Getuig dit enigsins van ‘n verloste siel?   Beslis nie!  Eerder die teenoorgestelde!   Die losbandigheid, duiwels, demone, geweld en wreedhede wat uitgebeeld word, gee mense ‘n misplaaste gevoel van mag.   Geen oorlogskildery het al ooit ‘n geveg gewen nie!

Tatoeëring getuig van ‘n Sataniese verwarring en verhoed mense om die eer van hul lewens aan God te gee.   Dit gaan altyd met ‘n toename van die heidendom gepaard.   Het tatoeëring heel toevallig na die afskaffing van die Christelike grondwet (1994) in Suid-Afrika toegeneem?  Moenie glo nie!

Die Heilige Gees het nog nooit ‘n gelowige gelei om hom/haar te laat tatoeëer nie.  Hy lei eerder weg van afgodsmerke af.  Daarom het Hy talle mense met tatoeëermerke al van sonde oortuig waarna hulle die merke laat verwyder het.

Tatoeëring kom in werklikheid op afgodery neer - ‘n aanbidding van die liggaam.  Dit het nog nooit ‘n mens nader aan God gebring nie.   Nog minder laat dit die geloof groei.  Die teenoorgestelde is egter waar - dit laat mense in die geloof veragter.  ‘n Mens kan net geestelik groei as die Heilige Gees hom lei om dinge op Bybelse oortuigings te doen.

Toe Lev.19 geskryf is, was Israel oppad na Kanaän waar ‘n heidense leefwyse aan die orde van die dag was.   Israel moes anders as heidene wees - ambassadeurs en advertensies vir God.  Soos wat Israel destyds die heidendom binnegetrek het om die bose teen te werk, het die heidendom met behulp van ontspoorde kerke Suid-Afrika binnegetrek en die goeie orde omgekeer.

Die heidendom spoel soos ‘n magtige stroom deur ons land.  Duisende volksgenote word meegesleur.  Kyk hoe lyk baie van hulle - kleredrag, haarstyle, tatoeëermerke; net soos heidene!   Moenie daaraan meedoen nie.  Vind jou vreugde opnuut in ons volk se behoudende waardes en leer jou kinders dienooreenkomstig.