STUDIE VAN DIE OU TESTAMENT (37)

DIE AFRIKAANSE PROTESTANTSE BYBELSKOOL

Studieleier: ds. Andrè van den Berg (Sr)

Lees reeks by Studie van die Ou Testament

LES 8

DAWID IN JERUSALEM

2 Sam 5-7; 9

1.  Die sentrum

Jerusalem was die hoofstad van Dawid se ryk.  Hy het dit laat versterk en vir hom ʼn paleis daarin laat bou.  Die materiaal en ambagslui (klipkappers en skrynwerkers) het hy spesiaal uit Fenisië (Libanon) laat kom.  Die Fenisiërs was handeldrywers en het goeie verhoudinge met Israel gehad.  Nadat die paleis voltooi is, het Dawid met sy ses vroue en seuns uit Hebron daarheen getrek waarna hy nog vroue en byvroue geneem het.   Hy wou die Oosterse konings beïndruk.  Dit was egter nie God se wil nie (Deut.17:17).

2.  Die staatsdiens

Dawid se ryk is volgens ʼn puik bestuursplan bestuur.  Hy het bekwame staatsamptenare aangestel wat alles vlot laat verloop het.  Josafat, die kanselier, het die hoogste administratiewe pos beklee met Seraja, die staatsekretaris, tweede in bevel.  Joab was minister van verdediging en ʼn paar van Dawid se seuns was priesters.

3.   Die verbondsark

Toe Dawid die verbondsark na Jerusalem laat kom het, het die stad verdere aansien geniet.  Die verbondsark het jare lank in die huis van Abinadab in Kirjat-Jearim gestaan.  Daarna is dit met groot omsigtigheid na Jerusalem vervoer om nie die foute van die verlede te herhaal nie.  Dis met soveel deeglikheid na Jerusalem gebring asof dit ʼn militêre aangeleentheid was (1 Kron.13:1).

Die Leviete het die ark met musiekbegeleiding gedra (1 Kron.15:15).  Dawid het ʼn bees en vetgemaakte kalf geoffer wat aan die optog ʼn gewyde karakter verleen het.  Hy was met ʼn linneskouerkleed (efod) omgord en het saam met die volk in ʼn heilige vervoering gedans.   Migal was egter onthuts en het gemeen dat hy hom tydens die vervoering ontbloot het.  Sy het die negatiewe gees van die huis van Saul verpersoonlik.  Daarna is die feesgeleentheid met brood en vleis vir almal afgesluit.

Die verbondsark is in die tent wat Dawid daarvoor ingerig het, geplaas.  Hy het ook vir die nodige geestelike musiek gesorg (1 Kron.16:4) en ʼn spesiale psalm Loof die Here geskryf wat by daardie geleentheid deur Asaf en sy broer gesing is (1 Kron.16:7).  Gedeeltes van dié loflied kom in Psalm 96, 105 en 106 voor.  Dawid het baie vir die eietydse geestelike musiek gedoen (1 Kron.16:37-42).

Die verskuiwing van die ark na Jerusalem was van groot betekenis.  Die staatkundige hoofstad het ook die godsdienstige sentrum geword en die ryksgebied van Israel en Juda saamgebind.  Daarna is Dawid uiteindelik as die teokratiese koning van ʼn verenigde Israel erken.

4.  Die tempel word beplan

Jerusalem was egter nie die enigste plek van aanbidding nie.  Dit sou eers na die bou van die tempel gebeur.   Dawid wou baie graag ʼn tempel vir God bou, maar Hy het hom verhoed.   Selfs Natan die profeet het gedink dat dit ʼn wonderlike plan was.  God het egter met hom gepraat waarna Dawid die plan laat vaar het.   Die rede hiervoor was dat God nog nooit in ʼn aardse huis gewoon het nie.

Waarom is Salomo dan toegelaat om die tempel te bou?  Geld dieselfde argument nie?  Die tyd van Salomo was anders.  Dawid se regeertyd is deur oorlog en opstand gekenmerk en Salomo s’n deur vrede.  Die bou van die tempel was slegs onder sulke omstandighede wenslik  (2 Kron.6:41).  Die verskuiwing van die ark was die eerste stap in hierdie rigting.  Eredienste is nog steeds in Gibeon gehou; maar net sonder die ark.

God het Dawid belet om vir Hom ʼn huis te bou.   Hy sou egter een vir Dawid bou; ʼn huis wat selfs na sy dood sou aanhou bestaan – ʼn ewige troon.   Dit sou ʼn tydelike en ewige strekking hê.  Tydelik in die sin dat dit aardse konings sou hê.  Ewig in die sin dat Christus uit die nageslag van Dawid gebore sou word.   God sou in die hart van uitverkorenes die eintlike tempel bou (Sag.6:12).  Dis die kerk van Christus waaroor Hy vir ewig regeer (Efes.1:20; 2:22).  Die tempel sou maar net die uiterlike teken van God se woonplek onder mense wees.  Innerlik sou Hy deur die wedergeboorte en bekering in harte woon.  Nadat Dawid die boodskap van Natan ontvang het, het hy voor God in erkenning en gebed neergeval.

5.  Dawid en die huis van Saul

Dawid het gesweer om die nageslag van Saul nie uit te roei nie.   Daarom het hy iemand uit die huis van Saul gesoek om ter wille van Jonatan guns aan hom te bewys.   Jonatan het ʼn seun Mefiboset gehad wat verlam was.  Dawid het hom laat haal en die grond van sy vader aan hom teruggegee.  Die geslag van Saul het in Mefiboset voortbestaan.  Sy seun, Miga, het baie kinders gehad.

Vervolg...