Lees reeks by Vrymesselary: anti-christelike stroming
WAAROM HIERDIE REEKS
Die Vrymesselaarsleër van die "Vaderskap van God en die broederskap van alle mense", geïnterpreteer in die sin van 'n algemene verlossing deur 'n fatsoenlike lewe en humanistiese liefdadigheid, is en bly die Christenmens se kernbeswaar teen die Vrymesselary. Want daardeur word Jesus Christus onbewus deur Vrymesselaarsdenkers en -leiers van sy troon as Saligmaker gestoot en met die loop van die jare dring hierdie gedagte onbewus deur tot alle Vrymesselaarslede sodat baie opregte Vrymesselaars vandag glad nie bereid sou wees om te verklaar dat alle mense wat nie in Jesus Christus glo nie, verlore sal gaan nie. Ons het beswaar teen die Universalisme van die Vrymesselary in bogenoemde sin.
So word die een godsdiens so goed as die ander en een kerk so goed as die ander. God word 'n mensgemaakte godjie en die mens word (in sy eie oë) God. Dit is vanselfsprekend dat die konsekwensies van die Vrymesselary vir alle sendingarbeid en evangelisasie 'n demper is, want immers, as jy maar net glo in 'n "Opperbouheer van die Heelal" en 'n goeie Vrymesselaar is, gaan jy na "the Great Lodge Beyond".
Die Vrymesselary moet dus in sy konsekwensies as spekulatiewe sisteem deurdink en krities beoordeel word voordat deurgedring kan word tot die besef dat ons hier met 'n antichristelike stroming te doen het.
Honderdduisende Vrymesselaars doen dit nooit nie en is tevrede met die sosiale pliggies en liefdadigheidsaksie van die beweging. Dit is veral hulle wat bitter verontwaardig is as daar iets teen die Vrymesselary gesê word, omdat hulle maar niks verkeerds daarin kan sien nie. Die ware denker en navorser kom egter baie gou tot die insig dat die Vrymesselary veel meer is as hierdie dingetjies. Dit is naamlik 'n lewens- en wêreldbeskouing wat allesomvattend van aard is en wat in sy wese antiteties teenoor die Christendom staan. Hierin lê sy gevaar.
In hierdie reeks word van die sogenaamde "geheime" van die Vrymesselary openbaar deur middel van aanhalings uit hulle geheime formuliere of kategismusse, hulle geheime wagwoorde, hulle geheime grepe, hulle geheime tekens. Die doel daarvan is om lesers te oortuig dat ons kerke (dié wat nog nie ingesluk is daardeur nie) wel grond het vir hulle afwysende houding teenoor die Vrymesselary omdat dit byvoorbeeld onder andere duidelik uit die genoemde formuliere of kategismusse sal blyk dat ons hier wel met 'n godsdiens te doen het, al betwis die Vrymesselaarsbroederskap dit ook nog so nadruklik, en wel 'n godsdiens wat bots met die grondbeginsels van die Christendom met sy een openbaring, een Christus en een saligmakende geloof, met uitsluiting van alle andere (Hand. 4:12; Openb. 5:6).
Wie hierdie beginsels prysgee (soos die Vrymesselary doen), ondermyn en ondergrawe dus die fondamente van die Christendom. Die godsdiens van die Vrymesselary loop dan ook uit op naakte en onbeskaamde modernisme, soos wat duidelik blyk uit die standpunte van talle Vrymesselaarskrywers en Vrymesselaarspredikante.
Die Gereformeerde godsdiens, ja die Woord van God self, word op losse skroewe gesit, die gesag van die kerk ondermyn en die verIossingswerk van Christus gerelativeer of geheel en al genegeer.
Daarom hierdie reeks oor die Vrymesselaarsleër.
WAAROM EK DIE VRYMESSELARY VERLAAT HET... Vervolg