Dr Jac J Müller
Lees reeks by VRAE OOR DIE LEWE NÁ DIE DOOD
DIE ONSTERFLIKHEID VAN DIE MENS
Deut. 12 : 23: “Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag nie die siel saam met die vleis eet nie."
IS DIE MENS TEGELYK STERFLIK EN ONSTERFLIK?
Die mens het twee bestanddele: stof en gees, en bestaan in twee nature, 'n stoflike en geestelike. Die stoflike deel van die mens - sy liggaam - is sterflik en verganklik, maar die geestelike deel — die gees of siel - is onsterflik en onverganklik.
Opmerking:
Hierdie tweeledigheid van die mens, as wese met liggaamlike en sterflike bestanddeel en 'n geestelike en onsterflike bestanddeel, word vir ons op baie plekke in die Bybel geteken.
Die skepping van die mens getuig reeds daarvan: “En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde, en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword. (Gen. 2 7).
Die dood van die mens bevestig dit: “Die stof keer na die aarde terug soos dit gewees het, en die gees na God wat dit gegee het" (Pred. 12 : 7).
Vergelyk ook 2 Kor. 5: 1: “Ons weet dat as ons aardse tentwoning (die liggaam) afgebreek word, ons 'n gebou het van God ... ewig, in die hemele."
2 Kor. 5: 8: “Ons verkies om liewer uit die liggaam uit te woon (liggaamlik te sterwe) en by die Here in te woon (as onsterflike gees)."
WAT IS DIE EERSTE VRAAG WAARVOOR DIE DOOD ONS STEL?
Job. 14 : 14: “As die mens sterwe, sal hy weer lewe?"
Daar is geen vraag waarop die menslike hart meer dringend om duidelike en troosbrengende antwoord roep nie, as die vraag of daar onsterflike voortbestaan van die mens is ná die dood, of daar ‘n hiernamaals vir die mens is, dan of anders die dood in absolute sin die einde is, en die mens dan ophou om te bestaan.
HET DIE ANTWOORD OP DIE VRAAG BETEKENIS VIR ONS LEWE HIER OP AARDE?
Hebr. 9 : 27: “Net soos die mense bestem is om eenmaal te sterwe en daarna die oordeel...”
2 Kor. 5: 9-10: “Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om God welbehaaglik te lewe. Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad."
Pred. 12 : 13-14: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is : Vrees God en hou sy gebooie ... Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg."
Die waarde, doel en uiteindelike toekoms van ons lewe hang of van die vraag of die mens onsterflik sal voortbestaan, dan of die dood die einde van alles is. As die dood die einde is en daar geen verdere lewe of voortbestaan hierna is nie, dan is die mens die slagoffer van 'n onverbiddelike noodlot of troostelose natuurwet van kom en gaan, gebore word en sterwe, want ná die kortstondige aardse bestaan word alle lewe weer geheel uitgeblus en vernietig.
As daar geen verdere voortgang is van die lewe ná die dood nie, geen kontinuiteit van die mens oor die grense van die graf heen nie, dan is daar vir die mens geen hiernamaals waarvoor hy hom moet voorberei, waarna hy kan uitsien of wat hy moet vrees nie. Dan is daar ook op aarde geen pligte of verantwoordelikhede wat op die mens rus ten opsigte van die hiernamaals nie, want daar bestaan geen hiernamaals nie. Daar is geen rekenskap aan God te gee nie; daar is geen oordeel te vrees nie; daar is geen hemel of hel te verwag nie. Dan kan die sinspreuk maar op aarde ten volle uitgeleef word: “Laat ons maar eet en drink, want more sterf ons (Vergelyk die sinspeling hierop deur Paulus in 1 Kor 15 : 32.)
WAT LAAT DIE MENS DIE VRAAG ALLERWEË VRA?
Nie die lewe nie, maar die dood bly die groot raaisel. Dit bly die onredelike, onverklaarbare en daarby onverbiddelike verskrikking wat die mens op sy lewensreis oorval. Alle mense sterwe en moet eenmaal sterwe. Dit laat die vraag vra - aanhoudend en angsvallig” “As die mens sterwe, sal hy weer lewe? Wat gebeur daar wanneer die asem uitgeblaas word en die liggaam aan die kille graf toevertrou word? Sal die siel nog leef, nadat die liggaam aan ontbinding en vertering prysgegee is? Of sal daar niks meer voortbestaan nadat die sterfuur geslaan het nie, en sal die dood werklik die laaste woord spreek?
Vir elke hart is die vraag brandend en aktueel, soos dit deur die eeue vir al die mensegeslagte was. By bepeinsing van die kortheid van die lewe (Ps 6), en die jare wat soos 'n gedagte verby vlieg (Ps 90 : 9, 10); by die aanskouing van die lyding wat daar in die wereld is, sowel as die onreg en sonde wat gepleeg word; by die vroegtydige dood van ‘n kindjie of 'n jongmens in die fleur van sy lewe; by sware beproewinge wat die lewe verkort; by die verskyning van die gryse hare op ons hoof, by die toenemende liggaamlike swakheid, of 'n dodelike kwaal wat die kragte verteer en die dood vir ons voorspel; by die ope graf van dierbares — oral rys die vraag: Wat daarná? Voortgang van die lewe of einde van liggaam sowel as siel as die dood intree?
HOE HET JOB HIERDIE PROBLEEM AANGEVOEL?
Die sombere werklikheid van die dood het in die gryse oudheid reeds vir Job in angstige sieleworsteling laat beland, waarin hy mistroostig met homself geredeneer het oor die vraag of daar vir die mens 'n verwagting is ná die dood.
Job 14:1 2: “Die mens uit 'n vrou gebore, is kort van dae en sat van onrus. Hy spruit uit soos 'n blom en verwelk; ook vlug hy soos 'n skaduwee en hou nie stand nie."
Job 14: 7-10: “Want vir 'n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, dan loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie. As sy wortel oud word in die aarde en sy stam verderf in die stof — van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak 'n tak soos 'n jong plantjie. Maar 'n man sterwe en is magteloos; ja, 'n mens blaas die asem uit en — waar is hy?”
Job 14: 11-12: “Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog — so lê die mens daar sonder om weer op te staan.”
Job 14: 14: “As 'n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom."
Job staan met hierdie redeneringe nog midde in die vir hom onopgeloste probleem, al skyn dit asof daar later meer vertroue en lig in sy siel gekom het, soos blyk uit die bekende woorde van Job 19 : 25-26.
Hoe duidelik staan die antwoord van Jesus op die vraag van Job in Joh. 11 : 25 – “Wie in My glo, sal lewe al het by ook gesterwe ! "
WAT IS DIT VAN DIE MENS WAT ONSTERFLIK SAL VOORTBESTAAN?
Nie die liggaam nie, maar die gees of siel (Vergelyk vr. 1.)
Pred. 12: 7: “Die stof keer na die aarde terug soos dit gewees het, en die gees na God wat wat dit gegee het."
Ps. 16: 10: “U sal my siel aan die die doderyk nie oorgee nie."
IS GEES EN SIEL BY DIE MENS DIESELFDE?
Ja, albei uitdrukkinge dui die geestelike bestanddeel van die menslike lewe aan, wat onsterflik is; en die twee benaminge word ook in die Heilige Skrif met mekaar gewissel, sonder verandering van betekenis.
(a) Die wese van die mens word soms geteken as bestaande uit liggaam en siel (Matt. 10 : 28), en dan weer as bestaande uit liggaam en gees (Jak 2 : 26).
(b) Geesteswerksaamhede word soms aan die gees en dan weer aan die siel van die mens toegeskrywe bv. die siel weet (Ps. 139 : 14) of die gees weet 1 Kor 2:11); die gees is bedroef (Jes. 54 : 6) of die siel is bedroef (Matt. 26 : 38).
(c) Die dood word soms geteken as “ ‘n uitgaan van die siel" (Gen 35:18) en soms as ‘n “oorgawe van die gees” (Ps 31:6).
(d) Die afgestorwenes word soms genoem “siele” (Openb. 6 : 9) en soms weer “geeste" (Heb 12:23).
As die Skrif soms ten opsigte van die mens spreek van “gees en siel en liggaam” ( 1 Thess 5:23, Hebr 4:12) dan word nie drie verskillende bestanddele van die mens bedoel nie, maar deur die uitdrukking word die mens in sy totaliteit geteken, in sy hele bestaan, in al die uitingsvorme van sy lewe; net soos in Luk. 10 : 27 te lees, is “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand", waardeur weer eens die hele mens in al sy uitingsvorme geteken en bedoel word.
As tussen “gees" en “siel" wel onderskei moet word (want skei kan ons hulle nie), dan sou met “gees" die hoëre, denkende, psigiese lewe aangedui word, en met “siel" die laere psigiese lewe wat ten nouste aangelê is op en verbonde is aan sy liggaam of die stoflike deel of vlees. Dit bly egter net onderskeidinge ten opsigte van een en dieselfde geestelike bestanddeel van die mens.
WATTER VERBAND BESTAAN DAAR TUSSEN DIE SIEL EN DIE BLOED?
Die Heilige Skrif spreek ook enkele kere van “siel" in die sin van “natuurlike lewe" of “lewenskrag", en verbind hierdie betekenis van “siel" (wat geheel verskillend is van “gees", vgl. hfst. II, vraag 7) gewoonlik aan die “bloed" van mens of dier.
Gen. 9 : 4: “Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie."
Lev. 17: 11: “Want die siel van die vleis is in die bloed."
Lev. 17 : 14: “Want wat die siel van alle vleis aangaan, sy bloed is met sy siel verbind"; en later “die siel van alle vlees is sy bloed." Deut. 12 : 23: “Bly daar net vas by dat jy die bloed nie eet nie, want die bloed is die siel, en jy mag nie die siel saam met die vleis eet nie."
Nuwere vertalings vervang die woord “siel" hier deur die woord “lewe", en dit gee die suiwere betekenis weer. Hier word van die diere melding gemaak en van die spysegebooie van die Here ten opsigte van hulle. Vleis met sy “siel”, die lewe, die bloed nog daarin, mag nie geëet word nie. Van hierdie “siel” word gesê: “die siel is in die bloed” (Lev 17:11) of die “die siel is die bloed” (Lev 17:14) of “die bloed is die siel” (Deut 12:23). Dit is dus baie duidelik dat hier onder “siel” net bedoel word die “lewe” wat verbind is aan die bloed, omdat met die bloed ook die lewe wegvloei. Die eet van vlees waarin die bloed nog is, waaruit die lewe nog nie weggevloei het nie, word dus verbied.
Hier word die woord “siel” dus in geheel ander sin gebruik as dié waarin ons gewoonlik daarvan spreek, naamlik as onsterflike gees, iets wat net op die mens van toepassing is.
SPREEK DIE SKRIF VAN “MENSE” AS “SIELE” ... Vervolg