VRAE OOR DIE LEWE NÁ DIE DOOD (2)

Dr Jac J Müller

Lees reeks by VRAE OOR DIE LEWE NÁ DIE DOOD

WATTER VERSKILLENDE VORME VAN DOOD BESTAAN DAAR VOLGENS DIE SKRIF?

Omdat die mens nie net liggaam (stof) is nie, maar ook 'n lewende, onsterflike siel, moet ons drieërlei vorm van dood onderskei wat ingetree het as straf op die sonde.

(a) Die geestelike dood—die eerste skeiding of breuk wat onmiddellik na die sondeval ingetree het tussen die mens en God. Soos Adam en Eva direk na die sondeval, so is alle sondaars ook geestelik dood weens hulle sondes. Waar die mens se gemeenskap met God verbreek is en skeiding ingetree het, sterf hy onmiddellik en tree die geestelike dood in.

Efes. 2: 1: “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes."

Efes. 5:14: “Daarom sê Hy (die Here) : Ontwaak jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn."

(b) Die liggaamlike dood — of tydelike dood — die skeiding tussen liggaam en siel, wat intree in die sterfuur. Vir die mens wat bestem was om sonder dood vergeestelik en verheerlik te word, tree nou die wet werking: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer”; die liggaam en siel word van mekaar geskei en gewelddadig uiteen geskeur, en die liggaam val op onredelike en teennatuurlike wyse weer uiteen en ontbind na ‘n kortstondige bestaan op aarde.

Pred. 12 : 7: “En die stof sal na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het."

(c) Die ewige dood of tweede dood - die ewige skeiding hiernamaals tussen die mens en God, ook geteken deur die woorde “ewige verderf", rampsaligheid, verdoemenis of ewige godverlatenheid.

Openb. 2 : 11: “Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie."

Openb. 20 : 6: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie."

Matt. 10 : 28: “Moenie vrees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel."

Hierdie laaste, nimmereindigende “tweede dood" of ewige skeiding tussen God en mens, is die voleindigde straf op die sonde. Teenoor die “ewige lewe" staan die ewige geestelike dood. Daarom: Wie net een maal gebore is (net uit die vlees, maar sonder wedergeboorte), sal twee maal sterwe; maar wie twee maal gebore is, sal net een maal sterwe (en sal die tweede dood nie ken nie).

DEUR WATTER UITDRUKKINGE WORD DIE LIGGAAMLIKE DOOD IN DIE HEILIGE SKRIF GETEKEN?
Die dood word beskrywe as “'n terugkeer na die aarde" of “tot stof" (Gen. 3 : 19), “die weg gaan van die ganse aarde" (Jos. 23 : 14), “versamel word by die vaders" (Rigt. 2 : 10) of “by sy volksgenote" (Deut. 32 : 50), “ ‘n gaan van die mens na sy ewige huis" (Pred. 12 : 5), “'n terugkeer van die mens se stof na die aarde, en sy gees na God" (Pred. 12 : 7).

In die Nuwe Testament word die dood geteken as ‘n “slaap" (Joh. 11 : 11, 13) of “ontslaap" (Hand. 7 : 60), “die oorgee van die gees aan God" (Joh. 19 : 30), die “afbreking van die aardse tentwoning" (2 Kor. 5 : 1), “'n heengaan" (2 Tim. 4 : 6), “'n uitwoning uit die liggaam en inwoning by die Here”. (2 Kor 5 : 8)

HOE KOM DIE DOOD TOT DIE MENS?
Die dood kom tot die mens ongevraag en ongehoord (Dan. 5 : 1, 30). Die dood is 'n besoeker wat nie wag om genooi te word nie of gehaal te word nie. Hy het ‘n sleutel wat pas op die slot van elke deur en ‘n kaart wat hom die weg aanwys na elke huis.

En as hy nader, kom hy ongehoord, sonder om vooraf sy koms aan te kondig, sonder om sy koms rugbaar te maak. Stil is sy voetstap en ongemerk nader hy sy slagoffer. Niemand sien hom nie; niemand hoor hom nie. Al is hy reeds naby, gee die dood geen waarborg wanneer hy sal toeslaan nie. Menigeen wat volgens menslike berekening nie kon leef tot die volgende dag nie, ly nog maande langer; ander wat gesond voor die bed van die sieke gestaan het of nog na feesmaaltye gegaan het, is reeds heen.

WEET ‘N MENS WANNEER EN WAAR DIE DOOD HOM SAL ONTMOET?
Nee, want die dood kom onverwags, en dikwels op oomblikke wanneer die mens aan alles behalwe die dood gedink het. Die dood stuur vir vele sterwelinge geen boodskapper of aanmaning of waarskuwing (soos ‘n ernstig siekte of dodelike kwaal) vooruit nie. Vir Abel in die veld (Gen 4 : 8), vir Eli op sy stoel (1 Sam 4 : 18), vir Sisera in die tent onder die kombers in Rigters 4, vir Nadab en Abihu voor die altaar waar hulle offer in Lev 10, vir Belsasar by sy feesmaaltyd in Daniël 3, vir Ananias en Saffira in teenwoordigheid van die godsman Petrus in Handelinge 5, en vele ander, kom die dood onverwags op ‘n uur dat daar nie aan sy koms gedink word nie. Net so onverwags kom die dood tot die swakke van hart in sy slaap, tot die mens tydens beroerte in sy werk, tot die motoris in die ongeluk op pad, tot die fabriekswerker by ‘n ontploffing, of tot die treinreisiger by ‘n ontsporing. Wie sal ooit weet waar en wanneer hy die dood moet verwag? Onvoorsiene gebeurtenisse en rampe, oorlog en pestilensie, alles herinner die mens dat die dood kan kom op ‘n uur wanneer die mens hom nie verwag nie.

KAN MENS DIE DOOD AFWEER?
Nee, niemand en niks kan die dood keer of stuit in sy koms nie. “Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie?" (Ps. 89 : 49.) Vuur kan geblus word; die see kan met dyke weggehou word uit die land; menige siekte kan deur voorsorgsmaatreëls voorkom word, maar niemand kan met enige hoop op oorwinning teen die dood staan nie. Weelde en rykdom, goedheid en bekwaamheid, invloed en posisie, veelsydigheid en onmisbaarheid, trane en smekinge — niks kan hierdie laaste vyand van die mens — die dood — teëstaan of weghou nie. Ouderdom of jonkheid, bevoorregtheid of armoede en ellende, alles is ewe hulpeloos in die aangesig van die naderende dood, en ewe onmagtig om sy sterke greep af te skud. Niemand kan geslaagde weerstand bied nie; niemand kan die dood keer as hy op God se bevel kom nie.

Kan die mediese wetenskap die dood dan nie keer nie? Kan dit die mens nie red van die dood nie? Die mediese wetenskap en sy baie uitvindinge en middels teen krankheid en kwale kan in die stryd teen die dood veel doen om die bose dag uit te stel, maar op die ou end moet ook die bekwaamste dokter met die doeltreffendste geneesmiddels die stryd teen die dood gewonne gee, en sy magteloosheid om die dood te keer, erken. Ook hierdie stryd teen die dood, deur behandeling van die kranke met medisyne of deur die kwaad met operasies te verwyder, kan net slaag as God sy seën daaraan gee, en Hy die middels en menslike bemiddeling ook in sy wyse Raad opgeneem het en laat meewerk tot die uitvoering van sy uiteindelike doel. Maar solank daar sonde in die wêreld is, sal die mensewêreld ook hierdie treurige gevolg van die sonde – die dood – nie gespaar bly nie. Eers by die vernuwing van alle dinge ná die wederkoms van Christus, sal daar vir sonde en dood geen plek meer wees onder die mense nie.

Dat alleen God magtig is om die dood te keer, blyk uit plekke soos die wondergenesing van Hiskia ná ernstige gebed, die genesing van sterwendes deur Jesus, en dode-opwekkings soos dié van Lasarus. Jesus is die grote en ware Geneesheer van krankes en Redder van die dood.

KAN DIE DOOD ‘N MENS ONVOORBEREID VIND?
Ja, vir menigeen vind die dood by sy koms onvoorbereid. Lewe en gesondheid word geniet en deurgebring maar gedagtes aan die dood word opsetlik op die agtergrond geskuif. Daar is aandag en belangstelling vir alle ander dinge maar nie vir die dood nie. Vir alles word voorbereidsels getref maar nie vir die dag van die dood nie hoewel dit die een sekerheid is waarmee enige regskape mens rekening moet hou. Voorsorg word gemaak in die testament en deur versekeringspolisse vir die vrou, die kinders, die vriende, selfs vir die begrafnis en ‘n grafsteen wat later opgerig moet word, maar die dood self word uitgelaat. Vir die siel self wat by die dood die ewigheid moet ingaan word geen voorsorg getref nie, en vir die ewige heil word geen voorsiening gemaak nie. As die dood eindelik kom, is alles gereël maar die mens het hom nog nie geskik om sy God te ontmoet nie. Soos vir die dwase meisies, vind die koms van die Bruidegom die mens dan sonder olie in die lamp, sonder genade in die hart, sonder bereidheid om die Here tegemoet te gaan (Matt. 25 : 1-13). Soos die ryk dwaas, jaag menigeen die skatte van die wêreld na, maar is nie ryk in God nie, en op die laaste nag van die lewe moet hy ook hoor : “Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereed gemaak het, wie s'n sal dit wees?" (Luk. 12 : 20, 21.)

Om onvoorbereid te wees vir die dood, is om te sterwe sonder Christus. En dit beteken : sonder lig in die hart, sonder vrede in die gewete, sonder vergifnis van sondes, sonder hoop vir die ewigheid, sonder hemel of saligheid. Troostelose einde!

HOEDANIG MOET ‘N MENS LEWE OM VOORBEREID VIR DIE DOOD TE KAN WEES?
Mark. 13 : 33: “Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie."
Matt. 24 : 44: “Daarom moet julle ook gereed wees...”
Matt. 25 :13: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie."

Die beste voorbereiding vir salige dood is om heilig te lewe. Wie Christus aanneem as sy Verlosser, vind in Hom die Oorwinnaar oor die dood en die Bron van die ewige, salige lewe. Wie so lewe — deur die geloof in Christus — hoef nie te vrees vir die donker uur van die dood met sy verskrikking en oordeel nie. Hy is nie sonder vriend nie en gaan nie eensaam deur die doodsvallei nie, maar aan die hand van God, aan wie sy lewe toevertrou is en van wie niemand en niks hom weer kan skei nie.

In die vaste versekering van die genade en van God en die liefde van Christus, kan die geredde en gelowige mens sy hoof neerlê met dié bede aan sy Heiland: “Vader, in u hande gee ek my gees oor” (Luk. 23 : 46).

Hy ken die groot versekeringe waarvan Asaf gesê het: “U het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem", en “Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid" (Ps. 73 : 23)

As iemand saam met Paulus kan sê: “Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here!" dan is hy voorbereid vir die dood en dan getuig hy ook saam met Paulus: “Ek is versekerd dat geen dood of lewe .... of teenwoordige of toekomende dinge ons sal kan skei van die liefde van God wat in Christus Jesus, onse Here, is nie" (Rom. 8 )

HOE VERANDER DIE GEDAANTE VAN DIE DOOD VIR DIE GELOWIGE IN CHRISTUS?
Vir die gelowige word die dood beroof van sy verskrikking en die graf van sy oorwinning. Die dood word vir hom “die deurgang tot die lewe"; en wat vir die ongelowige 'n verskriklike oordeel is, word vir hom ‘n genadige verlossing.

“So word vir my die donkere graf 'n ope poort waardeur die blye feeslig straal uit die hemeloord”.

1 Kor. 15 : 55: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?"

Hebr. 2 : 15: Christus het deur sy dood “almal bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was."

Fil. 1 : 21: “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins."

Fil. 1: 23: “Ek  het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste."

2 Tim. 4 : 6-8: “Die tyd van my heengaan is naby... Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig ... Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here my in dié dag sal gee...”

2 Kor. 5 : 8: “Ons verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.”

Openb. 14: 13: “Salig is van nou of die dode wat in die Here sterwe."

Joh. 11 : 25: “Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe."

Om in Christus te sterwe, is net om huis toe te gaan (Joh. 14 : 2). Om afskeid te neem van die liggaam, is dan om in te woon by God. Die aardse tentwoning word verlaat vir die “huis, nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele" (2 Kor. 5 : 1). Die vaarwel op aarde het nog skaars van die lippe vervaag, of dit word reeds vervang deur die welkom van hemelinge. Die dood en opstanding van Christus het ‘n nuwe en heerlike lig laat val op die dood en graf van die wat aan Hom behoort.

Die laaste woorde van enkele gelowiges was as volg:          1

Die kerkvader Ambrosius (397 n.C.) : “Ek verlang nie om te leef nie en ek vrees nie om te sterwe nie. My lewe en my dood is in die hand van die Here. Laat die goeie God doen met my volgens sy wysheid en barmhartigheid ! "

Die groot kerkvader Augustinus (430 n.C.) :  “Laat my sterwe, my God, sodat ek kan lewe !"

Maarten Luther, die kerkhervormer (1546) :            “O my hemelse Vader, ewige God! U het aan my U Seun geopenbaar, ons Here Jesus Christus. Ek het Hom verkondig, Hom bely, en ek het Hom lief en vereer Hom as my dierbare Saligmaker en Verlosser. In U hande beveel ek my gees. God, wat waarheid en trou hou, U het my bevry!"

Johannes Calvyn, die kerkhervormer (1564): “Die lyding van die teenwoordige tyd weeg nie op teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie (aanhaling uit Rom. 8 : 18).

WATTER DIENS VERRIG ENGELE BY DIE DOOD VAN GELOWIGES?
Hebr. 1: 14: “Is hulle (die engele) nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van dié wat die saligheid sal beêrwe nie?"

Luk. 16: 22: “En toe die bedelaar (Lasarus) sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham."

Vergelyk hierby ook Matt. 24:31, waar in verband met die wederkoms van Christus gesê word : “Hy sal sy engele uitstuur ... en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die einde van die hemele of tot by die ander einde daarvan."

Die Skrif leer op verskeie plekke van die bemoeienis van die engele van God met die mense op aarde (dink maar aan die baie verskyninge van engele wat vermeld word in die Ou Testament, en ook in verband met geboorte van Jesus, sy stryd in Getsémané, en sy opstanding). Hulle is onsigbare, geestelike wesens, wat tot diens van die uitverkorenes gebruik word. Wat die besondere taak is wat hulle moet vervul, word nie nader aangedui nie. In Matt. 18 : 10 vind ons 'n sinspeling van Jesus oor die engele van klein kindertjies as Hy sê : “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is." Die gegewens is egter hier so skraal, dat      ‘n mens versigtig moet wees om hierop die leër van “beskermengele"  van kindertjies te bou.

Uit die geval van die dood van Lasarus (Luk. 16) kan ons aflei dat die diens van die engele by die dood van gelowiges daarin bestaan dat hulle tydens ons sterwe by ons is en dat hulle ons ná ons sterwe as in triomf hemelwaarts dra, dat hulle Gods kind dus tegemoet kom by die end van sy aardse stryd en hom begelei na die Vaderhuis en die ewige heerlikheid. En hierin lê vir ons bemoediging en troos opgesluit. Hulle is ook daarin dienaars van die God van liefde.

SPREEK DIE DOOD EN DIE GRAF DIE LAASTE WOORD?
Nie die dood nie, maar die lewe spreek die laaste woord.

Joh. 11:25: “Wie in My glo (sê Jesus), sal lewe al het hy ook            gesterwe."

1 Kor. 15:22: “Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewendig gemaak word."

1 Kor. 15 : 53-55: “Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word... Die dood is verslind in die oorwinning. Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?"

Openb. 20: 14: “En die dood en die doderyk is gewerp in die poel van vuur.".

Openb. 21 :4: “En daar sal geen dood meer wees nie.”

 

IS DIE MENS TEGELYK STERFLIK EN ONSTERFLIK? ... VERVOLG