DIE BELHAR- BELYDENIS (6) (SLOT)

Ds. André van den Berg

Lees reeks by DIE BELHARBELYDENIS

WAT GAAN DIE NG KERK IN DIE TOEKOMS DOEN?

7.1  In stryd met die Skrif

Na alles wat ons nou weet, gaan dit ‘n mens se verstand te bowe dat die NG Kerk kan sê dat die Belhar-belydenis nie met ander Gereformeerde belydenisse in stryd is nie.   Die Afrikaanse Protestantse Kerk wil skerp van die NG Kerk verskil. Wie hierdie belydenis indringend bestudeer, kan tot geen ander gevolgtrekking kom as dat dit, ten spyte van al die mooiklinkende teksverse, nie die Woord van God as fondament het nie.  Dit het eerder ‘n Marxistiese onderbou wat ‘n valse wêreldvrede en ‘n Babelse eenheid najaag!

Die Belhar-belydenis is nie alleen met alle ander Gereformeerde belydenisse in stryd nie, maar ook met die Skrif.  Alle ware Gereformeerde belydenisse staan baie stewig op Skrifwaarhede; die Belhar-belydenis allermins!   Wat ‘n mens bekommerd maak, is dat die NG Kerk se uitspraak in 1990 dat die Belhar-belydenis nie met die Skrif bots nie, gemaak is sonder dat enige studie van hierdie belydenis op daardie stadium voor die Sinode gedien het!

Die toekomsideaal van ‘n verenigde NG Kerk is in 1986 tydens die Algemene Sinode met groot geesdrif as ‘n verordening van God aanvaar!  Die Afrikaanse Protestantse Kerk kan nie skerp genoeg hiervan verskil nie!  Wie dit in die Bybel lees, maak hom aan ‘n onverantwoordelike omgang met die Skrif skuldig.

7.2  Verval

Die NG Kerk het vir baie jare as ‘n bastion van hoop en krag vir die Boerevolk gestaan.  Min van ons sou kon glo dat dit eendag sy rug op sy volk sou draai.  Maar dit het!  Toe hierdie eens trotse kerk in 1986 van beleid verander, het hy hom van sy volk vervreem.  Al wat oorgebly het, is ‘n klompie integrasiebeheptes en ‘n magdom van blind-lojales - mense wie se sentimente swaarder as hulle beginsels weeg.

Gaan die NG Kerk op die ou einde maar tog die Belhar-belydenis aanvaar? Wat kan lidmate in die toekoms verwag?  Ten spyte van al die vervreemding, hartseer en seerkry, smag die NG Kerk nog steeds daarna om met die nie-blanke kerke een te word.  Nugter weet watter voordeel dit vir hulle kan inhou!  Desondanks word hierdie ideaal van een groot verenigde kerk al vir bykans 20 jaar verydel.  Die VGK het nog geen sentimeter skietgegee nie.  Dit sal ook nie!  Die aanvaarding van die Belhar-belydenis bly nog steeds ‘n voorvereiste vir hierdie potjiekos-kerkfamilie.

7.3  Die knyptangsituasie

Dit plaas die NG Kerk in ‘n knyptangsituasie.  Hy kan net op een van twee maniere daaruit kom.  Eerstens om die Belhar-belydenis maar teen wil en dank te aanvaar of tot besinning te kom en na sy volk terug te keer.  Die NG Kerk kan nie veel langer op twee gedagtes hink en die pas bly makeer nie.  Hy sal binnekort ‘n finale besluit moet neem en daarby hou.

Ek voorsien dat die NG Kerk die eerste opsie gaan uitoefen en die Belhar-belydenis as ‘n vierde  belydenisskrif gaan aanvaar.  Dit sal die kerk laat skeur en dieselfde paadjie as die Nasionale Party van weleer laat loop.  Nadat die NP sy rug op sy volk gedraai het, het hy sy rieme styfge-loop, in die Demokratiese Alliansie (DA) opgegaan en van die toneel verdwyn.  Die NG Kerk is op dieselfde pad.  Dit sal in die VGK opgaan en van die toneel verdwyn.

(En ds Andrè se voorspelling het toe waar geword – red).