Dr J P Botha
Lees reeks by ESTER
HAMAN HAAT MORDEGAI EN DIE JODE
Mordegai het egter geweier om dit te doen. Toe my ander dienaars wat in die poort van die paleis gewerk het, vir Mordegai vra, “Waarom oortree jy die opdrag van die koning?” het hy net vir hulle gesê: “Omdat ek ‘n Jood is.”
Haman was briesend. Toe hy boonop ook hoor dat Mordegai ‘n Jood was, het Haman se woede sommer teen al die Jode in my koninkryk ontbrand. Hy het toe na ‘n manier begin soek om nie net vir Mordegai nie, maar sommer al die Jode in Susan en die hele Persiese ryk om die lewe te bring. Hy wou ‘n presiese maand en datum vasstel wanneer hulle uitgeroei moes word en laat toe die lot werp – die Pur - en dit val toe op die dertiende dag van die twaalfde maand Adar.
EK STEM TOE OM DIE JODE UIT TE ROEI
Haman kom toe na my met ‘n heel aanneemlike storie. Hy vertel vir my dat daar ‘n sekere volk is wat in al die provinsies van my koninkryk versprei is, wat hulle apart van al die ander volke hou. Hulle volg ander wette as dié van ander nasies. Hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie in die koning se belang dat hulle so lewe nie. “As dit vir die koning goed is, maak dan ‘n wet om hulle uit te roei. Ek sal 242 ton silwer betaal om in die skatkis te stort.”
Hy het my volkome oorreed. Ek het nie veel van die Jode se leefwyse geweet nie en het sommer goedskiks aanvaar dat Haman se voorstelle aangaande hulle tot groot voordeel van my Persiese onderdane sou wees. Ek het my seëlring van my vinger afgehaal en aan hom gegee. “Jy kan maar die geld vir jouself hou, maar maak met hierdie volk soos jy wil.”
Op die dertiende van die eerste maand is my sekretarisse toe laat kom en Haman het hulle beveel om alles aan my verteenwoordigers, die goewerneurs van elke provinsie en die leiers van elke volk te skryf. Daar is briewe met boodskappers uitgestuur na elkeen van my provinsies, dat al die Jode geheel en al uitgeroei moes word, oud en jonk, vrou en kind. Dit moes op die dertiende van die twaalfde maand Adar gebeur. Daar moes dan op hulle besittings beslag gelê word. Die proklamasie moes in elke provinsie as wet afgekondig word en moes aan al die volke bekendgemaak word, sodat hulle op daardie dag gereed kon wees.
Boodskappers het haastig met my koninklike bevel vertrek. Die proklamasie is ook hier in Susan afgekondig. Daarna het ek en Haman gaan sit om te drink, nog onbewus van die beroering wat reeds besig was om in die stad op te laai.
Toe Mordegai hoor wat gebeur het, het hy van verdriet sy klere geskeur, vir hom begrafnisklere aangetrek en as op sy kop gegooi. Hy is in die stad in en het hard en droewig begin huil. Hy het voor die ingang van die paleis gaan staan, want iemand wat begrafnisklere aan het, is nie toegelaat om deur die hek in te gaan nie.
In al die provinsies waar my koninklike besluit afgekondig is, was die Jode baie hartseer. Hulle het gevas en gehuil en getreur. Baie van hulle het begrafnisklere aangetrek en as oor hulle gegooi.
Koningin Ester se diensmeisies en die harem-amptenare het haar van Mordegai kom vertel. Sy was bitter ontsteld daaroor en het vir hom ander klere gestuur om in die plek van die begrafnisklere aan te trek, maar hy het geweier.
Ester het besef dat daar iets baie ernstig verkeerd is, anders sou Mordegai nie so optree nie. Sy besluit toe om vir Hatak, die harem-opsigter wat haar moes oppas, na Mordegai te stuur om te gaan uitvind wat aan die gang is en hoekom hy so maak.
Hatak het Mordegai op die plein gekry, voor die ingang van die paleis, waarop hy hom alles vertel het wat gebeur het en ook van die groot bedrag wat Haman aangebied het aan die skatkis van die koning om die Jode te kan doodmaak. Hy het vir Hatak ‘n afskrif gegee van die proklamasie waarin ek beveel dat die Jode op daardie sekere dag uitgeroei moes word. Hatak moes dit alles vir Ester wys en by haar aandring om na my, die koning, te kom en by my om genade te smeek vir haar volk.
Ester het met heilige erns Mordegai se versoek oorweeg en weer vir Hatak na hom gestuur, met die volgende boodskap: “Elke amptenaar van die koning en die volke in die provinisies van die koning weet dat enige man of vrou wat na die koning toe gaan, as hulle nie ontbied is nie, net daar doodgemaak moes word tensy die koning sy goue septer na so ‘n persoon toe uitsteek. Dit is nou al dertig dae sedert die koning my laas laat kom het”.
Mordegai het vir haar terug laat weet: “Moenie vir een oomblik dink dat jy daar in die koning se paleis sal vrykom van die lot van die ander Jode nie. As jy in hierdie tyd gaan stilbly, gaan daar uitkoms en redding van ‘n ander plek af kom. Jy en jou mense sal dan uitgewis word. Wie weet of dit nie miskien juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie is dat jy koningin geword het nie!”
Toe antwoord Ester: “Gaan maak al die Jode wat jy in Susan kan kry, bymekaar. Vas ter wille van my. Vir drie dae lank moet julle dag en nag niks eet of drink nie. Ek en my diensmeisies sal ook vas. Al is dit in stryd met die wette sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf”.
Mordegai het toe alles noukeurig gedoen wat Ester hom laat weet het.
ESTER PLEIT VIR DIE REDDING VAN HAAR VOLK
Na drie dae was Ester gereed vir haar koninklike besoek. Sy het in haar pragtige koninklike gewaad in die binneste voorhof van die paleis gaan staan, regoor die saal waar my troon staan. Ek was juis op die troon met my gesig na die ingang. Toe ek koningin Ester daar sien staan, tref dit my meteens soos ‘n bom dat sy mos ‘n Jodin is. Liewe hemel, en wat het ek gedoen! Ek het opdrag gegee dat sy en haar volk vermoor moet word! Hoe verskriklik! Ek steek toe dadelik my goue septer wat in my hand was, na haar toe uit. Sy het dadelik nader gekom en aan die punt daarvan gevat.
Ek vra toe vir haar: “Wat het jy op die hart, koningin Ester? Wat het jy nodig? Jy sal dit kry, al is dit ook die helfte van my koninkryk.”
Toe sy praat, het ek sonder twyfel geweet wat sy in die mou voer. “As dit die koning behaag, sal u en Haman dan vandag na die onthaal kom wat ek voorberei het?”
Ek sê toe: “Gaan kry gou vir Haman dat ons kan doen wat koningin Ester vra.” Daarna is ons na die onthaal toe.
Onderwyl ons besig was om wyn te drink, vra ek vir Ester: “Wat is dit wat jy van my wil hê? Jy sal dit kry. Wat het jy nodig? Al is dit ook die helfte van my koninkryk wat jy nodig het, sal ek dit vir jou gee.”
Koningin Ester antwoord toe: “My wens en my versoek is soos volg: “As die koning my goedgesind is en bereid is om te gee wat ek vra deur my versoek toe te staan, kom dan môre saam met Haman na die maaltyd toe wat ek vir u sal voorberei. Dan sal ek my wens aan die koning bekend maak.”