ESTER (2)

Dr J P Botha

Lees reeks by ESTER

DIE SOEKTOG NA MOOI MEISIES

Toe my onredelike woede uiteindelik tot bedaring kom, het ek die liewe koningin Vasti oneindig begin mis.  My persoonlike amptenare het dit opgemerk en sê toe vir my:  “Laat ons na mooi meisies vir die koning soek.”

Hulle vra toe ek moet agente aanstel om in al die provinsies van my koninkryk mooi meisies te werf vir my harem hier in Susan.  Hegai, die hoofharem-opsigter moet dan toesien dat hulle skoonheidsbehandeling ontvang.  Die meisie wat vir my die mooiste is, moet dan in Vasti se plek koningin gemaak word. Dit was nou sommer ‘n baie goeie idee na my smaak en ek het hulle aan die gang gesit om mooi meisies te soek.

Naby aan die poort wat ingang tot die paleisgeboue verleen het, het daar ‘n man gewoon met die naam Mordegai.  Hy was een van die talle Jode wat nie gebruik gemaak het van koning Kores se amnestie om na hulle ballingskap weer na hulle hinterland in Palestina terug te keer nie, maar verkies het om in die vreemde Persiese wêreld aan te bly.  Hy het die gewoonte gehad om in die paleispoort rond te sit en was dus altyd op hoogte van dinge wat in en naby die paleis gebeur.

 

MORDEGAI OPENBAAR ‘N SAMESWERING

In die tyd toe daar na mooi meisies vir die koning gesoek is, is Mordegai as amptenaar van die koning aangestel.  Hy het toe in die voorhof van my paleis gaan bly.  Toe hy op ‘n keer daar aan diens was, hoor hy hoe twee harem-amptenare, Bigtana en Teres, saamsweer om vir my, koning Ahasveros, te vermoor.  Mordegai het gesorg dat ek daarvan te hore kom.  Toe dit ondersoek word, blyk dit dat dit die waarheid is.  Die twee mans is toe opgehang en die gebeurtenis is in die geskiedenisboek van my regering opgeteken.

Mordegai, wat as ‘t ware my lewe gered het, was uit die Jodestam van Benjamin.  Hy het ‘n dogter van sy oom grootgemaak wat ‘n weeskind was.  Haar Hebreeuse naam was Hadassa, wat beteken “Mirteboom”.  Maar sy was ook bekend as Ester, wat beteken “Jonkvrou”  of  “Ster”, want sy was buitengewoon mooi.

 

ESTER WORD KONINGIN

Met my soektog na mooi meisies het Ester saam met baie ander mooi meisies hier in Susan beland, onder sorg van die harem-opsigter, Hegai.  Hy was baie in sy skik met Ester.  Hy het gesorg dat sy skoonheidsbehandeling kry en die regte dieet volg.  Hy het sewe van die beste kamerpersoneel tot haar beskikking gestel en hulle na die beste deel van my harem verskuif.

Ester het vir niemand gesê  van watter volk sy kom of wie haar familie is nie, want Mordegai het haar dit verbied.  Hy het elke dag in die voorhof van die harem gaan rondstaan om agter te kom hoe dit met Ester gaan en wat met haar gebeur.

Voordat ‘n meisie toegelaat word om na die koning te kom, moes sy volgens voorskrif eers twaalf maande lank skoonheidsbehandeling kry.  Sy is ses maande lank met mirreolie en ses maande lank met lekkerruikkruie en ander skoonheidsmiddels behandel.  Daarna kon sy voor my verskyn.  Elke meisie kon, wanneer dit haar beurt was om voor my in die paleis te verskyn, uit die harem kies wat sy wou aantrek.  Elke meisie is in die aand na my paleis gebring en die volgende oggend teruggeneem na ‘n ander deel van die vroueharem.  Dit was onder die sorg van Saäsgas, die harem-opsigter onder die byvroue.  Sy kon nooit weer na my toe terugkom nie, behalwe as ek baie van haar gehou het en spesifiek vir haar gevra het.

Toe kom Ester se beurt.  Sy het vir niks meer gevra as wat Hegai, die hoof van die harem, vir haar aanbeveel het nie.  Almal wat haar gesien het, was opgewonde oor haar.  Sy is na my paleis geneem in die tiende maand, die maand Tebet.  Dit was in my sewende regeringsjaar.  Dit is min gesê dat ek baie meer van haar gehou het as van enigeen van die ander meisies.  Ek was meteens dol oor haar.  Sy was vir my die pragtigste verskynsel uit ‘n sprokieswêreld toe ek die kroon op haar kop sit en haar as koningin kroon in Vasti se plek.

Ek het ter ere van Ester ‘n groot onthaal gereël vir al my hoë amptenare en almal wat in my diens was.  Ek het hiervan ‘n vakansiedag in al die provinsies gemaak en geskenke vir almal uitgedeel.

‘n Ruk na hierdie wonderlike huwelik van my met die pragtige koningin Ester, het dit steeds vir my gevoel of ek aan almal om my heen, selfs aan die groot Persiese koninkryk, groot dank verskuldig was.  Gedurende hierdie roes van welwillendheid kom een van my senior amptenare, Haman die Agagiet, na my toe en vra vir my bevordering in ons staatsdiens.  Hy was ‘n pliggetroue amptenaar en ek dink toe om baie goed te doen en stel hom aan in ‘n posisie wat hoër was as van enige van my ander amptenare.  Ek het bepaal dat al die amptenare wat in die poort van my paleis diens doen, voor Haman moes buig om aan hom eer te bewys.

Vervolg...