Dr J P Botha
Lees reeks by ESTER
VOORWOORD
By die nagaan van verskillende bronne oor ESTER, het ek ruim gebruik gemaak van die Bybel se Nuwe Lewende Vertaling, omdat die opstellers hiervan die verhaal op ‘n sprankelende wyse weergegee het.
DIE REUSE FEESMAAL
Ek is die Persiese koning wat gedurende die jare 485 en 465 vC in Susan regeer het. Hierdie stad was eers Elam, van die Elamiete, maar ons het hom van hulle verower en toe ek sien watter oulike plek dit was, het ek my regering van die Persiese ryk hier gevestig. Ek het die mooi Hebreeuse naam van Ahasveros aangeneem, want van my Griekse naam, Xerxes, het ek nie veel gehou nie.
Om koning te wees van so ‘n magtige ryk was ‘n groot prestasie en ‘n groot eer. Ek wou graag my posisie bestendig en dit vier en het toe in my derde regeringsjaar die grootste feesgeleentheid gehou wat daar nog ooit in Persië plaasgevind het. Dit was ‘n onthaal vir al my hoë amptenare en die ander vooraanstaande persone in my diens. Al die leëroffisiere van Persië en Medië, die vernaamste mense en die goewerneurs van die 127 provinsies was daar. Dit het 180 dae lank aangehou. Ek het met al die prag en praal en rykdom van my koninkryk gespog.
Na afloop van hierdie reuse funksie het ek al die inwoners van die stad Susan ‘n week lank in die tuin van my paleis onthaal. Ek het die tuin laat versier met wit en bloedrooi gordyne wat met pers linnetoue vas was aan silwerringe aan die marmerpilare. Op die plaveisel het ek goue en silwerbanke laat plaas en die plaveisel self was uitgelê met vier soorte edelstene.
Die wyn is in goue bekers bedien, waarop verskillende ontwerpe voorgekom het. Ek het ‘n oorvloed wyn uit my kelders laat haal en gevra dat niemand gedwing moes word om te drink nie, maar ek het die paleispersoneel beveel om elkeen se wense te eerbiedig.
KONINGIN VASTI VERWERP
Ek sê vir jou, dit het ‘n ding afgegee! Ek self het hopeloos te veel gedrink en toe ek na ‘n week nou goed dronk was, wou ek net met alle geweld hê dat my pragtige koningin Vasti in die openbaar voor my gaste moes verskyn. Sy was besig om die vroue van die paleis te onthaal.
Ek het my sewe paleisbeamptes nadergeroep en beveel dat hulle koningin Vasti moet gaan haal met haar kroon op die kop. Ek wou hê al die mense en die hoë amptenare moes sien hoe mooi sy is, want sy was beeldskoon.
Toe koningin Vasti by die amptenare hoor wat ek wil hê, het sy geweier om te kom. Ek het agterna in die stilte haar bewonder dat sy as vrou haar nie so wou laat verneder nie, maar op daardie oomblik was ek smoorkwaad. Ek het gekook van woede. Ek het met my raadgewers gepraat.
Toe sê Memukan, een van my raadgewers vir my: “Dit is nie net teen die koning alleen wat koningin Vasti oortree het nie, maar ook teen al die hoë amptenare en teen al die volke in al die provinsies van die koning. As die vroue van al die hoë amptenare vandag nog hoor wat koningin Vasti gedoen het, sal hulle rede hê om hulle mans ook met minagting te behandel. As dit reg is vir die koning, vaardig dan vandag nog ‘n skriftelike bevel uit van die Meders en die Perse dat koningin Vasti nooit weer voor koning Ahasveros mag kom nie. Die koning sal vir hom ‘n ander koningin kry wat meer werd is as sy. Sodra die koning se bevel uitgevaardig is oor sy uitgestrekte koninkryk en bekend word, sal elke vrou haar man met eerbied behandel.”
Ek het toe so gemaak en na elke provinsie briewe gestuur en bevel gegee dat elke man baas moes wees in sy eie huis.
Vervolg...