WANDEL MET GOD (4)

Ds A van den Berg

Lees reeks by Wandel met God

Geen verdienste nie

“En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!” (Luk.18:13)

Om met God te wandel, is geen geestelike verdienste nie, maar eerder groot genade.  Baie min mense wandel werklik met Hom.   Om met Hom te wandel, is geen ligtelike saak nie.  By geleentheid vra Dawid, of om die skoonseun van die koning te wees, ʼn ligtelike saak is?   Beslis nie!   Dis ʼn gewigtige saak.   So ook om met God te wandel.   Dit hef jou hart en siel op.  Dit maak van jou ʼn ander mens.  Laat ons egter op ons hoede wees en die Satan geen vatkans gee nie: Dit kan tot geestelike hoogmoed lei!

Daar is in elke mens ʼn natuurlike trots wat sy hart so kan laat swel, dat, alhoewel hy baie godsdienstig mag wees, hy nie met God kan wandel nie.  Dink aan die Fariseër in Luk.18.  Hy was baie anders as die gewone mens – ernstig godsdienstig, maar met geen benul van God se genade nie!   Hy het geglo dat hy dit verdien het om met God te wandel.  Daarvoor het hy immers meer as genoeg krediete gehad.

Wie met God wandel, moet twee dinge weet: Eerstens dat die geestelike krag waarmee ons met God wandel, nooit verdien kan word nie.  Tweedens is en bly dit ʼn voorreg om vir God te werk.  Dit kan nooit tot ʼn reg oorgaan soos dikwels met die kerklui in die tyd van Christus gebeur het nie.  Hulle het grootkop gekry, hulself verhef, geglo dat hulle alleen regverdig was en ander wat nie op dieselfde geestelike standaard as hulle was nie, geminag.    Geen wonder dat Christus so dikwels swaarde met hulle gekruis het nie.   Hulle het immers sy veragting verdien!

Van hulle kon gesê word wat God deur Esegiël aan die koning van Tirus gesê het: “Daarom so sê die Here HERE:  Omdat jy jou hart gemaak het soos die hart van ʼn god, daarom, kyk, Ek bring vreemdes oor jou...” (Eseg.28:6,7).   Daarom het daar vreemde dinge met die Fariseërs gebeur!

Om hoogmoed te voorkom, moet ons leeg van onsself raak en nie soos die Fariseërs glo dat God nie sonder ons kan klaarkom nie.   Paulus verdedig hom teen die Jode en sê: ”Ek is ʼn Jood, gebore in Tarsus in Cilicië, maar opgevoed in hierdie stad aan die voete van Gamaliël, streng ooreenkomstig die voorvaderlike wet, ʼn yweraar vir God...” (Hand.22:3).   Dit klink voortreflik.   Maar dit as sulks, so bely hy, het hom niks gehelp nie.  Hy was steeds verlore sonder Christus.

Dis wonderlik om met God te wandel en ywer vir sy saak te hê.  Een ding moet ons egter weet: Ons kan geen geestelike krediete by God opbou nie, want dan wil ons soos die ou Fariseërs geregtigheid probeer verdien.  Dan is dit nie meer genade nie!  En die Bybel sê vir ons dat alles genade is; onverdiende guns!   Geen mens kan deur getroue kerkbywoning, ampsdiens, dankoffers of  gemeentebetrokkenheid geestelike krediet by God verdien nie!

Die Jode het niks van genade gehou nie.  Dit was vir hulle ʼn struikelblok.  “Want hulle het hulle gestamp teen die steen van aanstoot.  Soos geskrywe is: “Kyk, Ek lê in Sion ʼn steen van aanstoot en ʼn rots van struikeling...” (Rom.9:33). Jesaja het 700 jaar tevore voorspel dat die Jode niks van God se genade in Christus gaan hou nie (Jes. 8:14).  Hulle wou, soos die Fariseër in Luk 18, hulle plek in die hemel verdien.  En daaroor is die Bybel baie duidelik - wie sy plek in die hemel wil verdien, kan nooit met God wandel nie!

Om met Hom te wandel, moet jy jou onwaardigheid om dit te kan doen, besef.   Ons is soos boemelaars met die hoed in die hand.   Let gerus op die teksvers.  God geniet dit om ons so te sien want dan gee Hy graag!   Ja, gelukkig is elkeen wat weet hoe afhanklik hy van God is.  God verag elkeen wat anders voor Hom probeer staan.  “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering...” (Mt.9:13)

Elkeen wat diep bewus is van sy sonde en weet dat hy geen geestelike krediete kan verwerf nie, wandel met God soos dit Hom behaag.  Paulus skryf aan Timoteus en sê dat hy ʼn lasteraar, vervolger en geweldenaar was.  Hy het geen geestelike krediete gehad toe sy siel gered is nie!  “.....dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is” (1 Tim.1:15).

Die feit dat ʼn mens nie geestelike krediete by God kan verwerf nie, het die Fariseërs moedeloos gemaak.  Hulle het geglo dat dit wel moontlik was, veral deur goeie werke.  Toe moes hulle uitvind dat, as hulle hul nie tot Christus bekeer nie, hul goeie werke selfs niks tel nie.  Joh.15:5: “Want sonder My kan julle niks doen nie” Fil.2:13: “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” Die bekering tot Christus is ononderhandelbaar.  As ons met goeie werke geregtigheid voor God kon verdien, het Christus tevergeefs gesterf!

Laat ons versigtig wees vir valse goeie werke in ons eie lewe.  Baie mense verneder hulself en glo dat hulle moet gehoorsaam, moet sekere take verrig, moet heilig leef, moet van elke sonde wegvlug sodat hulle gered word.  Dis valse goeie werke wat sonder Christus niks beteken nie.  “Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag...” (Fil.3:7).

Kortom: As ons met God wandel, aanvaar ons ʼn redding wat ons nie verdien het nie.   En dit was die probleem wat die Fariseërs met Christus gehad het – Hy het ʼn redding aangekondig wat nie verdien kon word nie en kon hulle nie met hul geestelike ywer spog soos die Fariseër in Lul.18 nie. “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie” (Efes.2:8,9).

Verlang God dan glad nie goeie werke nie?  Ja, vir seker!  Die verskil is dat ons nie goeie werke doen om gered te word nie, maar omdat ons gered is.  Dis ʼn geheel ander sienswyse – die groot verskil tussen die Fariseërs en die Christene.  Om net op grond van werke gered te wou word, het geen ruimte vir genade gelaat nie.  Genade laat wel ruimte vir goeie werke!

As ons met God wandel, doen ons goeie werke.  God gee ons die geleenthede daarvoor en die nodige krag daartoe.   Daar is geen wandel met God as ons dit in eie krag probeer doen nie.  Dan is ons Fariseërs!

Oral waar gelowiges groot en kragtige dade verrig, is dit met die krag van God.  Dit was vir Petrus onmoontlik om op die water te loop totdat Christus hom genooi het om dit te doen.  God gee wonderkrag!

Hy gee ons nie opdragte na gelang van die krag waaroor ons beskik nie, maar na gelang van die voorraad krag wat Hy in Christus tot ons beskikking stel.  En dis enorm!   Jesus sê by geleentheid aan sy dissipels dat as hulle die geloof gehad het, hulle ʼn berg in die see kon werp!  Ons het geen krag of moontlikheid buite Christus nie.  Vir elke taak wat God ons oplê, is daar genoegsame krag.

Gelowiges het al groot dinge deur die geloof vermag.  Lees gerus Heb.11; die heldegalery van die Bybel.  Wat was die geloofshelde se geheim?  By die aanvang van hulle taak was almal swak.  Maar in die uitvoering daarvan het hulle sterk geword soos wat God hul die krag gegee het.

Dis hoe die gelowige met God wandel – gereed om enige taak vir Hom te verrig.  Daar is altyd voldoende krag.   Job het dit selfs in teenspoed en beproewing ervaar.  God voorsien altyd voldoende.

Kom ons vat saam.  Om met God te wandel, moet ons deeglik van ons eie onvermoë bewus wees.   Ons het niks om op te roem soos wat die Fariseër in Luk 18 gedink het nie.  Selfs nie ons goeie werke nie.   Alles is genade.  En sy genade is vir my genoeg!