BYBELVERHALE VIR JONG KINDERS (14) (SLOT)

Reeks by Bybelverhale vir jong kinders

Jacqueline Sibley

MATTEUS SE PARTYTJIE

Partytjies is groot pret, of hoe? Dan eet ons jellie en roomys en koek met versiersuiker. Ons speel heerlike speletjies met ballonne en soms dra ons ook snaakse papierhoede. Ek hou baie van partytjies, en jy?

Eendag het Matteus ook partytjie gehou. Dis 'n grootmensparty en al het hulle ook lekker eetgoed gehad, het hulle darem nie speletjies gespeel nie. Matteus het die party gehou sodat ou vriende vir Jesus, sy nuwe Vriend, kon ontmoet. Die mense wat genooi was, het nie baie vriende gehad nie. Matteus wou hê hulle moet dat Jesus ook hulle Vriend sal wees as hulle dit so wil hê.

Op die dag van die party gaan Jesus na Matteus se huis. Sy dissipels gaan saam met Hom. Toe hulle daar kom, is daar al baie ander mense.

Bale van hierdie mense het al verkeerde gedoen. Party van hulle was onvriendelik teenoor ander mense. Party het geld ingesamel vir die koning, soos Matteus. Hulle het ook 'n deel van die geld vir die koning weggesit en 'n deel vir hulself gehou. Hulle was skelm! Hierdie mense was daar omdat Matteus wou hê hulle moet Jesus leer ken.

Almal sit om die tafel. Matteus bedien die heerlikste kos aan en skink vir hulle wyn.  Jesus sit ook daar tussen die mense wat sulke verkeerde dinge gedoen het. Hy praat met hulle, en hulle met Hom. Matteus is bly dat sy vriende Jesus leer ken.

Naby Matteus se huis staan 'n groepie nukkerige mans. Hulle sien dat Jesus saam met die mense wat sulke lelike dinge gedoen het, partytjie hou. Hulle sê vir mekaar: "Waarom eet Jesus saam met daardie slegte mense?"

Die brompotte dink hulle is wonderlike mense. Hulle gaan gereeld kerk toe en kom al die wette na. Hulle dink hulle is beter as al die ander mense. Hulle praat nie eers met mense wat verkeerde dinge gedoen het nie. Hulle kan nie verstaan waarom Jesus saam met die mense partytjie hou nie.

Toe sien hulle Jesus se dissipels. Hulle sê: "Om te dink dat Jesus saam met daardie mense kan partytjie hou! Hulle is slegte mense. Waarom eet en drink Hy saam met hulle?"

Die brompotte dink dat Jesus hulle nie kan hoor nie. Maar Jesus hoor wat hulle sê en Hy praat met hulle. Hy sê: "Ek is soos 'n dokter. 'n Dokter help nie gesonde mense nie. Hy help siek mense. Hy maak hulle gesond. Ek het gekom om mense te help wat verkeerde dinge gedoen het en wat ongelukkig is. Ek het ook gekom om hulle te leer van God en om goeie dinge te doen."

Die onvriendelike mans luister. Hulle weet dat daar slegte en ongelukkige mense by die partytjie is. Hulle weet ook dat Jesus daar is om hulle te help. Maar hulle dink nog: Jesus behoort nie saam met sulke slegte mense partytjie te hou nie. Toe gaan hulle weg.

Maar Jesus bly by die partytjie. Hy praat met die mense wat verkeerd gedoen het. Hy vertel vir hulle dat Hy hulle sal help om goeie dinge te doen. Hy praat met die mense wat nie baie vriende het nie. Hy wys vir hulle dat Hy hulle Vriend sal wees. Hy het hulle net so lief soos vir Matteus.

Terwyl Jesus met sy vriende gesels, luister Matteus. Hy is bly dat Jesus horn gevra het om een van sy dissipels te wees. Hy is bly dat sy ou vriende vir Jesus, sy nuwe Vriend, kon ontmoet.

'n Gebed

Liewe Jesus, ek weet dat U die beste Vriend is wat mens kan hê. Help asseblief my nefies en niggies en vriende om dit ook te weet. Dan kan hulle U vra om ook hulle Vriend te wees.

Amen.