‘N ONGELUKKIGE MAN

BYBELVERHALE VIR JONG KINDERS (12)

Reeks by Bybelverhale vir jong kinders

Jacqueline Sibley

‘n Seuntjie met die naam Japie het masels. Ons weet nie waar Japie woon nie maar hy is baie siek. Hy het roof-kolle op sy hande, sy gesig, sy maag en sy hele lyf. Die dokter was by hom. Hy het vir hom medisyne gegee en gesê: "Drink dit en jy sal nou beter voel ".  Was jy al so siek soos hierdie seuntjie?

Eenmaal, lank gelede, was daar 'n siek man. Ons ken nie sy naam nie, daarom noem ons hom maar mnr. Reuben. Mnr. Reuben het nie masels gehad nie, maar op sy lyf was ook kolle. Sy hande was so seer dat hy hulle nie kon gebruik nie. Hy het nie in die bed gebly soos die seuntjie op die prent nie. Hy het ook nie medisyne gekry om te drink nie. Die dokter het hom besoek, maar hy het gesê: "Ek is jammer, mnr. Reuben. Ek kan niks vir jou doen nie. Daar is geen medisyne vir die kolle nie en aan jou hande kan niks gedoen word nie."  Arme mnr. Reuben. Hy was baie, baie ongelukkig.

Die mense wat naby mnr. Reuben woon, het gehoor van sy siekte. Hulle sê toe:  "Jy moet weggaan. Jy kan nie meer naby ons bly nie. Netnou kry ons ook die siekte. Gaan weg! Gaan weg!"  Mnr. Reuben kon niks anders doen as om weg te gaan nie. Arme mnr. Reuben!  Hy was baie, baie ongelukkig.

Niemand wou hê dat hy naby hulle woon nie. Hulle was bang dat hulle ook die siekte sou kry. Almal sê: "Jy moet weggaan. Jy kan nie hier bly nie! Ons sal ook siek word. Gaan weg! Gaan weg!"

Mnr. Reuben moes ver wegbly van al die ander mense. Arme mnr. Reuben! Hy was baie, baie ongelukkig.

Hy kan nie gaan werk nie, en hy het nie geld om kos te koop nie. Die mense sê toe: "Ons sal vir jou kos gee, maar jy moet dit eers kom haal as ons weg is. Ons wil nie siek word nie."

Wanneer mnr. Reuben die kos gaan haal, moet hy 'n klokkie lui. Tieng-e-lieng-e-lieng. Hy moet ook roep: "Bly weg! Bly weg!" Dan weet die mense dat hy daar is, en hulle kan ver van hom af bly. Arme mnr. Reuben! Hy is baie, baie ongelukkig.

Maar eendag hoor mnr. Reuben van Jesus. Hy hoor dat Jesus siek mense gesond gemaak het. Ek wonder of Jesus my ook sal help, dink hy. Maar dan dink hy: Nee, ek glo nie Jesus sal my help nie. Hy sal nie naby my wil kom nie. Hy kan dalk ook siek word.

Maar mnr. Reuben dink en dink oor Jesus. En hoe meer hy daaroor dink, hoe groter word sy begeerte om gesond te wees. Ek sal Jesus vra om my te help, besluit hy.

En eendag kom Jesus en 'n paar van sy vriend daar verby. Mnr. Reuben hardloop en kniel voor Jesus. Hy sê vir Jesus: "Sal U my nie asseblief gesond maak nie? Ek weet U kan as U wil." Hy dink: Ek hoop tog Jesus sal my help. Ek hoop nie Hy is kwaad oor ek nie die klok gelui en van Hom weggebly het nie.

Jesus kyk na mnr. Reuben. Hy is jammer vir hom. Dadelik steek Hy sy hand uit en raak aan hom. Toe sêHy: "Natuurlik sal Ek jou help. Jy is nou gesond."

Mnr. Reuben kyk. Die kolle is weg. Sy hande makeer niks. Hy is gesond. Hy sê: "Baie dankie, Jesus. Baie dankie dat U my gesond gemaak het." Nou is hy nie meer ongelukkig nie, maar baie, baie gelukkig.

Jesus se vir hom: "Jy kan nou maar huis toe gaan. Maar eers moet jy na die tempel gaan om vir God dankie te sê. Die priesters sal vir jou 'n brief gee sodat die mense kan weet dat jy regtig gesond is."

Mnr. Reuben hardloop na die tempel. Hy is baie, baie bly. Hy hoef nie meer 'n klok te lui tienge-lieng-e-lieng nie. Hy hoef nie meer te roep "Bly weg! Bly weg!" nie. Hy kan weer in sy eie huis gaan woon en die mense sal hom nie wegjaag nie. Hy is bale bly dat Jesus hom gehelp het.

Het jy maats wat siek is en in die bed moet bly? Dink aan hulle. Doen dan 'n gebed en vra God om hulle te help.

'n Gebed

Here Jesus, baie dankie dat U siek mense gesond kan maak. Ek bid vir almal wat op hierdie oomblik siek is. Wees by hulle en help hulle.

Amen.