JESUS BY ‘N TROUE

BYBELVERHALE VIR JONG KINDERS (10)

Lees almal Bybelverhale vir jong kinders

Jacqueline Sibley

Was jy al ooit by 'n troue? Het jy al 'n bruid gesien in haar lang wit rok? Miskien het sy ook strooimei-sies gehad. Miskien was jy ook al by die onthaal ná die troue en het jy lekker gesmul aan al die Iekkernye. Mens is gewoonlik baie vrolik op 'n troue, nie waar nie?

Jesus het ook eenmaal na 'n troue gegaan. Hy het saam met sy ma en 'n paar vriende gegaan.

Kan jy onthou wat sy ma se naam was? Ja, haar naam was Maria. Maria, Jesus en sy vriende is toe saam na die huis van die man wat gaan trou. Die man wat trou, word die bruidegom genoem.

Hulle is moeg en vuil van die stof toe hulle daar aankom. Maar naby die deur is daar 'n paar klipkanne water. Ses klipkanne. Hulle is baie groot. Amper so groot soos jy.

lemand help hulle om water uit die kruik te gooi sodat Maria, Jesus en sy vriende hulle stowwerige voete kan was. Hulle voel baie beter daarna. Hulle was ook hulle hande. Toe gaan hulle in die huis in.

Daar sien hulle die bruid en die bruidegom. Die bruid dra nie 'n lang wit rok nie. Sy dra 'n pragtige rok wat mooi versier is.

Daar is baie mense by die troue. Hulle gesels en lag almal deurmekaar. Die kelners is baie besig.  Hulle dra die heerlike kos vir die mense aan. Hulle skink ook wyn vir die mense om te drink. Hulle sorg dat die gaste alles kry wat hulle wil hê.

'n Rukkie later sien Maria dat die kelners bekommerd lyk. Sy sien hoe hulle onder mekaar fluister. Sy dink: lets is verkeerd. Sy vra vir een van hulle: "Wat makeer?"

Die kelner lyk ongelukkig. Saggies sê hy: " Ons het nie genoeg wyn nie. Dis al amper op en ons kry nêrens meer kry nie. Binnekort sal daar niks meer wees vir die gaste om te drink nie." Die kelners weet nie wat om te doen nie.

Maar Maria weet wat om te doen. Sy gaan reguit na Jesus toe en sê vir Hom: "Daar is nie meer wyn nie. Die kelners is baie bekommerd. Hulle weet nie wat om te doen nie." Sy weet dat Jesus hulle sal help. Toe se Maria vir die kelners: "Doen net soos Jesus vir julle sê en alles sal regkom!" Die kelners glo haar. Hulle glo ook dat Jesus hulle sal help.

Jesus kyk na die klipkanne naby die deur. Kan julle onthou hoeveel kanne daar was? Kom ons tel hulle weer. Een, twee, drie, vier, vyf, ses. Ses groot klipkanne. Amper so groot soos jy.

Jesus sêvir die kelners: "Maak die kanne vol water." Hulle weet dat hulle moet doen soos Jesus vir hulle sê. Hulle maak die kanne vol water.

Toe sê Jesus: "Skep nou daarvan uit en gaan gee dit vir die seremoniemeester." Die kelners doen soos Jesus sê. Hulle skep van die wyn uit en een van hulle gaan gee dit vir die seremoniemeester. Toe die seremoniemeester dit proe, roep by die bruidegom en sê vir hom: "Ek het nou net van die wyn geproe. Dit is heerlik. Jy het seker die beste wyn vir laaste gehou." Hy weet nie dat Jesus die water in wyn verander het nie.

Maar die kelners weet dit. Hulle is baie bly dat Maria vir Jesus gevra het om hulle to help. Hulle is ook bly dat hulle gedoen het soos Jesus gesê het.

'n Gebed

Dierbare God, ek is bly dat die kelners gedoen het soos Jesus vir hulle gesê het, sodat almal die troue kon geniet. Help my ook asseblief om te doen wat Jesus wil hê ek moet doen.

Amen.