JOSEF (5)

Deur God gebruik om sy volk van ondergang te red

Dr JP Botha

Lees reeks by  JOSEF

HULLE KOM WEER KORING KOOP

Intussen het die hongersnood verder as landswyd voortgeduur en die kos wat my broers hier in Egipte kom koop het, het begin opraak. My pa het toe noodgedwonge gevra dat my broers maar weer vir hulle 'n bietjie kos hier in Egipte moet kom koop.

Toe het Juda glo die woord geneem: "Pa, die man het ons ernstig gewaarsku: 'Ek wil julle nie weer sien as julle broer nie saamkom nie.' Daarom kan ons alleen weer gaan kos koop as pa vir Benjamin saam met ons laat gaan."

Juda het toe ernstig verder gepleit: "Stuur tog asseblief nou maar die seun saam met my, sodat ons kan gaan en bly lewe. Dis ter wille van ons almal se lewens, ook Pa s'n en dié van ons klein kindertjies. Ek sal persoonlik instaan vir Benjamin se veiligheid. As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa. Ons kon nou al twee keer weg en terug gewees het as dit nie was dat Pa hom teruggehou het nie."

Die erns van die toestand het vir pa Jakob beweeg om toe te gee. Hy het my broers beveel om alles van die beste wat Kanaän kon oplewer in hulle sakke saam te vat en vir die 'man' 'n spesiale geskenk, bestaande uit 'n bietjie balsem, 'n bietjie heuning, gom, hars, neute en 'n bietjie amandels, te neem. Hy het hulle ook beveel om dubbel die som geld wat nodig sou wees, saam te vat, asook die geld wat in hulle sakke gekry is. "Vat nou julle broer saam en gaan terug na die man toe. Mag God Almagtig julle genadig wees wanneer julle by die man aankom en mag hy Simeon vrylaat en Benjamin terugstuur." Hy het glo ook vir hulle gesê: "As ek dan van kinders beroof moet word, moet ek maar beroof word."

So het my broers toe met die geskenke, die dubbel hoeveelheid geld en met Benjamin die tweede keer na Egipte gekom. Toe hulle voor my verskyn en ek sien Benjamin is by hulle, reël ek met die bestuurder van my huishouding dat daar 'n feesmaal voorberei word sodat hulle middagete by my kan geniet. Hy het hulle toe na my paleis geneem. Toe skrik hulle vreeslik en dink hulle word daarheen geneem om gestraf te word oor die geld wat die vorige keer in hul sakke teruggesit is. Hulle het gedink ek gaan hulle oorweldig, hulle my slawe maak en hulle donkies vat!

Toe hulle by die ingang van die paleis aankom, vertel hulle vir die bestuurder van die geld wat in hul sakke gekry is en wil dit teruggee en sê vir hom: "Ons het geen idee hoe die geld in ons sakke gekom het nie." Maar hy sê vir hulle: "Ontspan! Moenie julle daaroor bekommer nie. Julle God, die God van julle voorvaders, moes dit teruggesit het.  Ons het wel ons geld gekry."

Daarna het hy Simeon vrygelaat, hulle in my paleis gebring en vir hulle water gegee om hul voete te was en gesorg dat hul donkies voer kry. Hulle het gehoor dat hulle die middag daar sou eet en het die geskenke reggesit om aan my oorhandig te word. Ek het ingekom en dit alles ontvang.

Toe hulle so laag voor my buig, dink ek weer aan die drome wat ek gehad het. Ek vra toe vir hulle hoe dit met hulle gaan. "En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle gepraat het? Lewe hy nog?"

"Ja," antwoord hulle. "U dienaar, ons pa, leef nog en dit gaan goed met hom." Hulle buig toe weer voor my.

Ek kyk op en sien my broer Benjamin voor my, my ma se seun en vra: "Is dit julle jongste broer, die een van wie julle gepraat het? Mag God jou seën, my seun!" Toe kon ek my gevoel nie meer bedwing en verberg nie en verlaat haastig die vertrek om my trane van aandoening en dankbaarheid oor God se wonderlike voorsienigheid in my lewe nie vir hulle te wys nie.

Na 'n rukkie het ek my gevoelens weer onder beheer gehad en stap die saal binne en beveel: "Bring die kos!" Ek het by 'n aparte tafel gesit, waarvandaan ek persoonlik elkeen se porsie vir hom uitgeskep en voorsien het. Vir Benjamin het ek vyfmaal soveel as vir die ander gegee.

Toe ek hulle by die tafel laat aansit, het ek hul plekke aangewys van die oudste af – Ruben – tot die jongste – Benjamin. Hulle was verbaas. Ek het gewonder of een van hulle nie miskien al iets van die waarheid agter-gekom het nie. Maar dit het nie so gelyk nie. Die lekker kos en die goeie wyn wat ek saam met hulle geniet het, het hul tonge losgemaak. Ek het lekker feesgevier saam met my elf broers, wat my nog steeds aangesien het vir die onderkoning van Egipte en my met groot eerbied en respek behandel het.

MY SILWERBEKER

Voordat my broers weer na Kanaän vertrek het, het ek die bestuurder by die graanskuur opdrag gegee om elkeen van hulle se graansak goed vol te maak en om my silwerbeker bo in die sak van Benjamin te sit. Hy moes ook weer almal se geld waarmee hulle die graan wou koop, bo in hulle sakke terugplaas.

Teen dagbreek het die broers die terugtog met die gelaaide donkies begin. Hulle was skaars buite die stad toe sê ek aan die bestuurder om agter hulle aan te jaag, te stop en hulle te vra: "Hoekom het julle 'n goeie daad met kwaad vergeld? Julle het my meester se persoonlike silwerbeker waarmee hy die toekoms voorspel, gesteel!"

Toe die bestuurder hulle inhaal en beskuldig, sê hulle vir hom: "Waarvan praat u, Meneer? Watter soort mense dink u is ons om ons van so 'n verskriklike ding te beskuldig? Het ons nie die geld wat ons 'n vorige keer in ons sakke gekry het, weer teruggebring nie? Hoekom sou ons silwer of goud uit u meester se huis steel? As u die beker by enigeen van ons kry, moet daardie een doodgemaak word en ons sal u meester se slawe word."

"Dis goed so," sê my bestuurder toe vir hulle, "Maar net die een wat dit gesteel het, sal 'n slaaf wees. Die onskuldiges kan maar huis toe gaan."

Hulle haal die sakke van die donkies af en maak dit oop. My bestuurder het in Ruben se sak begin soek en aangegaan tot by die jongste, en kry toe die beker in Benjamin se sak. My bestuurder vertel my, toe hulle dit sien, was hulle sprakeloos. Hulle skeur toe hulle klere in radeloosheid, pak alles weer op en ry met sugtende swygsaamheid saam terug. Ek was nog tuis toe hulle hier aankom en voor my neerval. Ek kyk hulle streng aan en vra: "Wat het julle gedoen? Het julle nie geweet iemand soos ek sou weet wie dit gesteel het nie?"

Juda sê toe: "Ai, Meneer, wat kan ons vir u sê? Hoe kan ons onsself verdedig? Hoe kan ons ons onskuld bewys. God straf ons nou vir ons sondes. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons en ons broer in wie se sak die beker gevind is."

Ek kyk hulle boos aan en sê: "Net die man wat die beker gesteel het sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe."

JUDA SE PLEITREDE

Toe kom Juda weer na vore. Hy kyk my met betraande oë aan en sê: "Meneer, toe u ons gevra het of ons 'n pa of 'n broer het, het ons gesê, ja, ons het 'n pa, 'n ou man.  In sy ouderdom is ook nog ‘n kind, sy jongste een, gebore.  Sy broer is dood.  Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.  Toe se u: “Bring hom hierheen sodat ek hom kan sien”.  Maar ons het vir u gesê: “Meneer, die seun kan nie weggaan van sy pa nie, want dan sal sy pa sterf”.  Maar u het gesê: “As julle jongste broer nie saamkom nie, mag julle my nie weer sien nie”.  Ons het toe na ons pa teruggegaan en hom vertel wat u gesê het.  Toe hy later vir ons sê: ‘Gaan terug en koop weer vir ons ‘n bietjie kos,’ het ons geantwoord: ‘Ons kan nie gaan nie tensy Pa toelaat dat ons jongste broer ook saamgaan.  Ons sal nie toegelaat word om die man in beheer van die graan te sien as ons jongste broer nie by ons is nie’.  Toe sê ons pa vir ons: ‘Julle weet dat my vrou twee seuns gehad het en dat een van hulle weggegaan het en nie weer teruggekom het nie.  Ek dink roofdiere het hom verskeur, want ek het hom nooit weer gesien nie.  As julle nou sy broer ook van my wegneem en een of ander teespoed tref hom, sal julle my in my ouderdom met smart graf toe laat gaan’.

“Nou, Meneer, ek durf nie sonder die seun na my pa toe teruggaan nie.  Ons pa is baie lief die seun.  As sien dat die seun nie by ons is nie, sal ons pa sterf.  Ons sal veroorsaak dat hy in sy ouderdom met smarte in die graf gaan.  Meneer, ek het my pa gewaarborg dat ek na die seun sal kyk.  Ek het vir hom gesê: ‘As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa’.  Asseblief, Meneer, laat my hier agterbly as ‘n slaaf in die plek van die seun en laat hy saam met sy broers teruggaan.  Hoe sou ek sonder die seun na my pa toe kon teruggaan?  Ek kan dit nie verduur om daaraan te dink dat ek hom soveel smart sal aandoen nie”.

Ek maak myself bekend ... vervolg