JOSEF (2)

Deur God gebruik om sy volk van ondergang te red

Dr JP Botha

Lees reeks by  JOSEF

EK WORD 'N SLAAF

Ons het in die vallei van Hebron gestaan toe my pa my die opdrag gegee het. Ek het nie omgegee om te gaan nie, alhoewel Sigem maar ver van Hebron af is. Toe ek daar aankom, het ek na hulle en die troppe vee begin soek. Naderhand ontmoet ek 'n man wat vir my sê hy het hulle hier in Sigem gesien, maar hulle het vir hom gesê hulle gaan na Dotan toe, want die weiding is daar baie beter. So het ek toe ook in die pad geval en hulle uiteindelik daar gekry.

Maar die ontmoeting was bitter onaangenaam. Toe ek nog 'n hele entjie van hulle af was, het ek al gehoor hulle skree: "Kyk, hier kom daardie dromer!" Ek maak toe uit van hulle deurmekaar-geskree toe ek naderkom, dat hulle van plan is om my in 'n diep put te gooi en dan vir my pa te gaan vertel dat 'n wilde dier my opgevreet het.

"Dan sal ons sien wat word van sy drome!"

Hulle gryp my en pluk my heen en weer en skeur letterlik my mooi bokleed van my af. Maar toe kom staan ouboet Ruben tussen hulle en my en sê: "Ons moet hom nie doodmaak nie. Hoekom sal ons sy bloed vergiet? Kom ons gooi hom lewendig in hierdie put in die woestyn. Dan sal hy sterf, sonder dat ons hom self doodgemaak het." Ruben het stilletjies beplan om my te help om te ontsnap en weer na my pa terug te stuur.

Die put waarin hulle my gegooi het, het gewoonlik water gehad maar was toe droog. Net toe hulle gaan sit om te eet, sien hulle 'n klomp kamele in die verte in hulle rigting aankom. Dit was 'n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem. Toe kom broer Juda weer vir my op. Hy sê vir die ander: "Broers, watter voordeel is daar vir ons om ons broer dood te maak en dit geheim te hou? Kom ons verkoop Josef aan daardie Ismaelitiese handelaars. Ons moenie vir sy dood verantwoordelik wees nie. Per slot van rekening is hy ons broer!

Ruben se pleitredes vroeër en nou weer Juda s'n, het die haat in die ander broers darem in so 'n mate getemper, dat hulle saamgestem het met Juda. Toe die handelaars by hulle verbykom, trek hulle my uit die put uit op en bied my te koop aan. Na 'n geredekawel het die Ismaeliete twintig stukke silwer vir my betaal. Ek was dankbaar om 'n plekkie op een van hul kamele te kry en weg te kom van my broers se haat en nyd.

Onderwyl ons so op pad was na Egipte, waar hierdie vreemdelinge van plan was om my as 'n slaaf te verkoop, het dit alles behalwe goed gegaan met my broers. Ruben wat my wou red, het by die leë put gekom. Hy het sy klere geskeur en uitgeroep: "Die seun is weg! Wat kan ek nou doen?" Die beste raad wat die ander toe het, was om 'n bokkie te slag en my mooi, verskeurde kleed in die bloed daarvan te besmeer. Daarna stuur hulle die kleed na ons pa toe. "Ons het dit in die veld gekry. Is dit nie dalk Josef s'n nie?" Hy het dit natuurlik dadelik herken: "Dit is my seun se kleed. Dis seker 'n wilde dier wat hom gevang en opgevreet het. Josef is sekerlik verskeur!"

My arme pa het glo sy klere geskeur en rouklere aangetrek en baie dae lank oor my getreur. Toe skielik, wil sy gesin – my broers – hom vertroos, maar dit het niks gehelp nie. "Ek sal al treurende oor my seun graf toe gaan!" het hy gesê.  Hy was diep bedroef.

Intussen het ons in Egipte aangekom, waar die handelaars my as 'n slaaf verkoop het. 'n Baie belangrike man,  Potifar, die hoof van die farao se lyfwag, het my gekoop en na sy huishouding toe geneem om daar diens te doen.

Vandat my broers my daar in Dotan wou vermoor en toe verkoop het, totdat ek nog lewendig as 'n slaaf in 'n Egiptiese huis gestaan het, het my laat besef dat die Here oor my die wag hou en dat Hy mense gebruik om my langs paaie te lei wat Hy beplan het. Toe was ek nie meer bang vir enigiets wat met my gebeur nie, want ek het besef dat my God met my lewe 'n plan het en dat ek gewillig moet wees dat Hy sy plan met my uitvoer.

Ek het my slawediens in Potifar se huis net so goed as wat ek moontlik kon, gedoen. Toe besef ek dat die Here my buitengewoon seën en dat Hy alles wat ek vir die Egiptenaar se huishouding doen, reg en goed laat uitkom. Die wonderlikste van alles was dat die Here dit ook aan hierdie heidense rykman openbaar het, want toe hy sien watter goeie diens ek vir hom in sy huishouding doen, het hy my oor al sy besittings, die hele huishouding, sy ander slawe en sy boerdery aangestel. Hy was die hoof van Farao se lyfwag en kon al sy aandag daaraan bestee, want hy het sy hele huishouding se bestuur en welsyn aan my oorgelaat. Hy het geen bekommernis meer gehad nie, behalwe om te besluit wat hy sou eet.

Maar die kwaad het vir my om die hoek gelê en loer, want ek het opgemerk dat Potifar se vrou my gedurig dophou. Sy het blykbaar my liggaamsbou en aantreklike voorkoms be-wonder en van begeerte begin brand. Sy het my ook uitgenooi om by haar te kom slaap. Ek het vir haar gesê: "Ai, Mevrou, my meester vertrou my in alles in sy hele huishouding. Niemand het meer gesag hieroor as ek nie. Hy het my van niks weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek ooit só 'n lelike en slegte ding doen? Dit sal 'n baie groot sonde voor God wees!"

Maar sy het haar nie laat afsit nie en my knaend agtervolg waar ek gewerk het. Ek het so ver moontlik uit haar pad probeer bly.

Eendag was ek besig om in 'n deel van die huis te werk waar niemand was nie, toe sy skielik op my afstorm, my aan my klere gryp en uitroep: "Ag toe, kom slaap by my!" Ek het my losgeruk en weg gehardloop, maar sy het 'n stuk van my bokleed wat afgeskeur het, in haar hande vasgeklem en begin skree.

Toe ek wegvlug, sien ek verskeie bediendes uit ander vertrekke na haar toe storm, onderwyl sy aanhoudend skree: "My man het hierdie Hebreeuse slaaf hier gebring om ons te beledig! Hy het probeer om my te verkrag, maar ek het geskree. Daarom het hy weg gehardloop maar hierdie klere by my agtergelaat."

In die tronk...vervolg