RUT (3)

Die mooi liefdesverhaal wat vir ons in die Bybel opgeteken is

Lees reeks by RUT

Dr JP Botha

Naomi terug in Betlehem

Binne ‘n ommesientjie is die twee vroue omring deur verskeie ou bekendes wat almal deurmekaar praat: “Is dit jy, Naomi? Vrou, waar was jy al die jare?  Waar is Elimeleg en jou seuns? Kom jy weer by ons bly?  Welkom terug na al die jare!”

Toe Naomi effens tot verhaal kom na al die vroue se uitbundige verwelkoming en groetery, probeer sy deur haar trane heen om hulle te antwoord:  “Baie dankie, liewe vriendinne! Ja, dis ek; maar julle moenie my meer Naomi noem nie. Noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen.  Ek het vol hiervandaan weggetrek, maar die Here het my leeg laat terugkom.  Waarom sou julle my Naomi noem, terwyl die Here teen my getuig het en die Almagtige my kwaad aangedoen het?

Maar die vroue het hulle nie aan Naomi se klagtes gesteur nie.   Hulle het vir haar en vir Rut teen die heuwel op na hulle ou huis feitlik gedra en dadelik begin om die verwaarloosde, bouvallige ou woning op te knap en leefbaar te maak.

Rut ontmoet Boas

Die twee vroue het daardie nag elkeen in ‘n diep, verfrissende slaap hul vermoeienis in aangename drome laat vervaag.  Met die aanbreek van ‘n nuwe dag het die praktiese Rut besef dat sy en haar skoonmoeder nie onbepaald sal kan leef van die welkom aalmoese wat hulle te beurt geval het nie.  Sy wou graag aan hulle praktiese voedselvoorsiening ‘n aandeel hê en sê vir Naomi:

“Moeder, ek het gister hier in die vlakte mooi graanlande gesien, waar werkers besig was om met sekels die gars en die koring te sny. Kan ek maar daarheen gaan en al agter die snyers aan vir ons die are optel wat geval het?

“Seker, my liewe kind.  En mag jy op ‘n land uitkom waar hulle jou goedgesind sal wees. Die Here sal jou bewaar.”

Rut het toe gegaan en sonder om te besef dat die Here haar voetstappe rig, kom sy op die vlakte by mooi landerye uit, waar die vriendelike voorman haar toestemming gee om agter die snyers aan die are wat geval het op te tel.

‘n Uur of wat later kom Boas, die eienaar van die landerye, uit die dorp by die snyers aan en vra vir die voorman wie die vrou is wat al agter die snyers aan besig is om are op te tel.  Hy sê: “Dit is die jong Moabitiese vrou wat saam met Naomi uit die veld van Moab teruggekom het.”

Boas was aangenaam verras.  Hy het, soos almal in Betlehem, gehoor van die Moabitiese meisie wat saam met Naomi teruggekeer het. Hy stap nader om persoonlik kennis te maak. “Wees gegroet, my dogter!  Ek is Boas.  Luister, jy moenie op ‘n ander land gaan are optel nie en jy moet ook nie hiervandaan weggaan nie. Jy moet by my diensmeisies aansluit.  Ek het my werksmense gewaarsku om jou nie te molesteer nie.  Gaan drink uit die kanne as jy dors kry”.

Toe val sy voor hom neer en sê:  “Waarom het ek genade in u oë gevind, dat u in my belangstel, hoewel ek ‘n vreemdeling is?”

“Ek het gehoor wat jy aan jou skoonmoeder gedoen het na die dood van jou man en dat jy jou vader en moeder en jou geboorteland verlaat het en na ‘n volk getrek het wat vir jou vreemd is.  Mag die Here jou daarvoor vergeld en jou loon daarvoor groot wees”.

Rut het weer in dankbaarheid voor hom neergeval.  Toe Boas haar oprig, was dit reeds duidelik dat hy al baie meer as net blote toegeneentheid vir die pragtige mooi jongvrou koester.

Boas verlief op Rut

Teen etenstyd het Boas vir haar gesê:  “Kom hierheen en eet van die brood.  Steek jou stukkie in die asyn.”  Toe sy reg langs die snyers sit, het hy vir haar gebraaide koring gegee.  Sy het genoeg geëet en daardie aand daarvan vir Naomi saamgeneem.

Na die ete hoor sy hoe Boas aan die werkers bevele uitreik: “Sy mag ook tussen die gerwe are optel.  Julle mag haar nie beledig nie.  Julle moet ook af en toe bondeltjies are uit die gerwe uittrek en laat lê, sodat sy dit kan optel.  Julle mag haar nie keer nie.

Rut het tot die aand toe are opgetel.  Nadat  sy  dit uitgeslaan het, was dit omtrent ‘n efa gars. Toe sy in die stad kom, sien haar skoonmoeder die graan en die kos wat sy saamgebring het en vra waar dit alles vandaan kom.  Rut vertel van Boas en Naomi sê:  “Mag hy geseënd wees!  Dié man is ons nabestaande, hy is een van ons lossers”.

Rut en die lossingsreg

Rut het ook vir Naomi vertel dat Boas gesê het sy moet by sy diensmeisies aansluit totdat hulle klaar met die hele oes wat aan hom behoort.  Rut het dit gedoen.

Naomi  het vir haar vertel van ‘n lossingsreg wat in Israel gegeld het:  As iemand sonder kinders sterf, moet sy naaste familielid sy grond koop en met sy weduwee trou en sodoende vir hom ‘n nageslag bou.

“Wat beteken dit vir ons, moeder?”

“My kind, daardie man wat vir jou so goed is op sy landerye, is familie van Elimeleg en van jou oorlede man Maglon.  Hy is ons losser.  Ons moet hom help om sy plig na te kom.  Luister nou mooi:

Die nag op die dorsvloer

“Kyk, ek weet Boas gaan vannag op die dorsvloer gars uitwan.  Bad nou vroeg vanaand, salf jou en trek jou beste aan.  Gaan af na die vloer toe, maar sorg dat jy in die skemer uit sy pad bly totdat hy klaar geëet en gedrink het. Kyk goed waar hy gaan slaap.  Gaan dan nader en kruip by sy voete in en hy sal later vir jou sê wat jy moet doen.”

Sy het so gemaak en teen skemeraand die dorsvloer genader.

Nadat Boas klaar geëet en gedrink het, was hy baie vrolik.  Hy het naby die einde van die hoop vir hom ‘n bed gemaak en gaan lê.  Toe Rut seker is dat hy slaap, het sy sy voete oopgemaak en daar gaan lê.

Omstreeks middernag het Boas wakkergeskrik en die vrou by sy voetenend gewaar en gevra:  “Wie is jy?”

“Ek is Rut, u dienares.  Ek het gekom om u aan u pligte as losser te herinner.”

Toe hoor Rut die mooiste woorde uit sy mond, wat alle spanning in haar laat vervaag en verdwyn:

“Geseend is jy deur die Here, my dogter!  Jy het jou laaste liefde beter gemaak as die eerste, omdat jy nie agter jongmanne, arm of ryk, aangeloop het nie.  Moenie bang wees nie, my dogter, want die hele stadspoort van my volk weet dat jy ‘n deugsame vrou is.

“Ek is die losser, ja, maar daar is nog ‘n losser nader as ek.  Bly vannag hier.  As hy jou môre wil los, goed.  Maar as hy nie lus het om dit te doen nie,  sal ek jou los.  Bly lê tot môre.”

Sy het daar tot die volgende môre by sy voete gelê, maar dou voor dag opgestaan.  Hy vra toe die tjalie wat sy om haar skouers het.  Hy het daarin 6 mate gars afgemeet en op haar skouers geplaas.  Hulle is albei baie vroeg daar weg.

Toe sy by Naomi kom, het sy haar alles vertel wat met haar plaasgevind het en gesê:  “Hierdie ses mate gars het hy my gegee en gesê:  “Jy moenie met leë hande by jou skoonmoeder kom nie.”

Naomi sê:  “Dis wonderlik, Rut.  Kom ons wag nou maar geduldig, want ek is seker die man sal nie rus voordat hy nog vandag die saak afgehandel het nie.”

In die stadspoort... vervolg