RUT (2)

Die mooi liefdesverhaal wat vir ons in die Bybel opgeteken is

Lees reeks by RUT

JP Botha

Elimeleg verlaat Betlehem en gaan na Moab

Na Elimeleg se terugkeer uit Moab het daar vir die huisgesin ‘n baie bedrywige tyd aangebreek. Afgesien van die karige getal besies wat nog nie die versengende droogte en hongersnood ten prooi geval het nie, was daar duisend en een dinge waarna omgesien moes word, ingepak moes word, weggemaak moes word, en opgelaai moes word voordat hulle van hul bure en hul geboortegrond afskeid geneem het.

Elimeleg het vir Maglon en Giljon verantwoordelik gemaak vir die trek van sy uitgedunde ou veekuddetjie.  Die twee entoesiastiese seuns het hulle baie goed van hul taak gekwyt, sodat hulle met hul aankoms te Aroër geen bees verloor het nie.  Hulle het maar suidwaarts, al langs die strand van die Dooi See gehou en af en toe los klompies Ammoniete gewaar, wat hulle egter nie aan die trekgeselskap gesteur het nie.  Die Here het verhoed dat hul argwaan opgewek is en so nuuskierig sou word dat hulle ondersoek sou kom instel.

Die nuwe lewe in Moab

So het die huisgesien van Elimeleg en Naomi, met hulle seuns, Maglon en Giljon ongedeerd die land van Moab bereik en die ruim eiendom van Hananja op die groen walle van die Arnonrivier bereik.  Hulle tref vir Hananja daar aan wat hard besig is om vir hulle die woongeriewe in die huis wat hy jare gelede daar gebou het, op te knap.  Toe Elimeleg hom met groot dankbaarheid daaroor verbaas, klop Hananja hom op die skouer en sê:  “My liewe broer in die Here,  hierdie grond van my en hierdie verwaarloosde woning en my vee wat hier feitlik wild loop en nog nie deur Moabitiese stropers gesteel is nie, behoort nou aan jou.  Die Here seën jou op hierdie grond.  Ek leef goed in my hut op die dorp!”

Watter vol en ryk en besige lewe het toe nie vir hierdie Judeër-gesin in die vreemde aangebreek nie!  Oorlaai met stoflike besittings soos ‘n groeiende veekudde en ryk graanoeste op die landerye, het die Here se seën op hulle hier in die vreemde gerus.  So het die eerste genoeglike jare van hulle verblyf in die velde van Moab verbygesnel.  Hul twee tienerseuns, Maglon en Giljon, het ongemerk ouer en volwasse geword.

Een aand vertel Maglon aan sy ouers dat hy op ‘n buurplaas ‘n pragtige jong meisie ontmoet het.  Sy was baie vriendelik teenoor hom en hy vra dat sy pa met haar ouers moet gaan onderhandel, want hy wil met haar trou.  Elimeleg het gegaan.  Alhoewel die Moabiete ander huweliksgebruike as die Israeliete handhaaf, was Elimeleg en Maglon tog suksesvol.  Maglon het met die pragtige meisie, Rut, getrou en sy is in die familie van Naomi opgeneem.

As ramp en teëspoed toeslaan

Twee jaar later het Giljon ook ‘n meisie van sy hart ontmoet en met haar getrou.  Haar naam was Orpa.

Die geluk van die Judeër-gesin was feitlik volmaak. Elimeleg het die Here voortdurend gedank vir sy volgehoue seën van sy huisgesin en Naomi het haar diensvaardige twee skoondogters vertroetel, maar nie een van hulle sou ooit kon droom wat die Here in sy voorsienigheid nog alles vir hierdie huisgesin in die weg gelê het nie.

Een  môre kom Hananja by die krale aangestap, waar Elimeleg doenig is.  Die Here seën jou!  Wat bring jou so vroeg op my spore, liewe broer? Vra Elimeleg.  Nadat Hananja gegroet het, sê hy:  “Dinge lyk lelik.  Daar kom groot moeilikheid.  Die Ammoniete het skielik sonder oorsaak met hulle ou rusies teen die Moabiete losgebars en yslike leërafdelings uit die noorde oor die grens gestuur.  Daar was ook maar altyd wrywing met die Edomiete hier in die suide en toe hulle agterkom die Ammoniete val ons aan, het hulle dadelik groot bendes oor die grens gestuur om die Moabiete uit die suide te treiter.  Nou my vriend, die gemors is dat die militêre adjudante hier in Aroër nie genoeg strydvaardige Moabiete bymekaar kan kry om teen die Edomiete te gaan weerstand bied nie.  Toe kom hy daar na my toe en sê vir my ons Israeliete kan darem nie sommer so lekker hier in Moab bly en niks vir die land beteken nie.  Ons moet kom help verdedig en daarom kommandeer hy vir my en vir jou en jou twee seuns op om môre gewapen by die garnisoen op die dorp aan te sluit, om teen die grootste Edomitiese bende wat noordwaarts op pad is, te gaan slag lewer.”

Elimeleg het net soos Hananja geweet dat weiering om aan die kommandering gehoor te gee, net één ding sou beteken, naamlik die doodstraf.

Hoe kan alles nie in een dag verander nie!  Na ‘n hartverskeurende afskeid van hul geliefdes is die drie manne weg en Hananja saam met hulle.  Die dae wat daarop gevolg het, was vir die vroue vol angs en kommer en vrees vir die ergste, totdat hulle na weke van wanhoop berig ontvang het dat al drie manne en ook Hananja in ‘n verwoede skermutseling met die Edomitiese vyand gesneuwel het.

Naomi keer terug na Betlehem

Toe Naomi en die twee jong vroue uit die waas van hulle smart en ellende weer tot hulself kom, het Naomi deur haar trane heen verklaar:  “Die Here het gegee, maar die Here het weer geneem.”  Sy het haar gereedgemaak met haar skoondogters om die veld van Moab te verlaat en weer na Betlehem terug te gaan, want sy het verneem dat die Here op sy lydende volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee.  Sy het haar woonplek verlaat en haar twee skoondogters saam met haar. Maar toe hulle reeds ‘n entjie weg was, het Naomi haar bedink en aan haar twee skoondogters gesê:  “Nee, julle kan nie saam met my gaan nie. Draai om en gaan terug na julle eie moeders se huise toe.  Mag die Here aan julle guns bewys, soos julle aan die dode en aan my bewys het.  En mag julle binnekort weer elkeen ‘n veilige rusplek vind in die huis van die man met wie julle elkeen weer gaan trou.”

Toe het daar ‘n baie aandoenlike toneel gevolg.  Albei het onder trane vir Naomi gesê dat hulle liewer saam met haar wil teruggaan na haar volk, onderwyl Naomi aanhoudend pleit:  “Ag nee, draai om my dogters! Waarom sou julle met my saamgaan? Het ek nog seuns in my liggaam dat hulle julle mans kan word? Ag toe, draai om my dogters, gaan terug, want ek is te oud om ‘n man te hê. Al sou ek sê ek het hoop en nog vannag aan ‘n man mag behoort en ook seuns baar, sou julle dan kon wag totdat hulle groot geword het? Sou julle in dié geval julle self opsluit om nie aan ‘n man te behoort nie? Ag nee, my dogters,  luister na my, want dit is vir my baie bitterder as vir julle dat die hand van die Here teen my uitgestrek is.”

Daarna het Orpa onder trane haar skoonmoeder gegroet, omgedraai en snikkend begin terugstap. Hulle het vir haar vaarwel gewuif, totdat sy uit die gesig vervaag het.

Naomi kyk Rut aan en sê: “Ag my kind, wil jy dan nie ook soos Orpa omdraai en teruggaan na julle volk en na julle gode toe nie?”  Toe draai om agter jou skoonsuster aan.

Rut volg Naomi

Naomi is half verbaas oor Rut se helder en kalm antwoord:  “Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.  Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word!  Mag die Here so aan my doen en so daaraan toedoen.  Net die dood sal skeiding maak tussen my en u.”

Daarna het Naomi nie meer daarop aangedring dat Rut na Moab moes teruggaan nie.  Die twee vroue het in stilte verder gestap en die volgende namddag vermoeid die eerste huise van Betlehem genader. ‘n Vrou wat by die naaste fontein kom water skep het, het hulle gewaar en vir Naomi herken. Sy het tussen die woonhuise deur gestorm en uitgeroep:  “Kom kyk! Naomi is terug! Naomi is terug!”

Naomi terug in Betlehem... vervolg