Hanan Viljoen
Lees reeks by Evolusie - wat is dit en kan ek dit glo?
"Ons het almal die idee van evolusie gegryp omdat die idee van God met ons seksuele voorkeure ingemeng het." Om te glo dat daar wel 'n God is wat alles geskep het bring ook mee dat ek aan hierdie God verantwoordelik is en dat Hy van my rekenskap gaan vra! Die enigste 'uitweg' uit die dilemma is om God 'uit die pad te redeneer.
Waarom glo mense dan in evolusie?
In die lig van al die bogenoemde feite is dit onverstaanbaar waarom mense nog die teorie van evolusie probeer verdedig. Wat moet ons hieroor sê? Sou dit dalk wees dat hierdie mense nie wil hê dat daar 'n persoonlike Skepper-God moet wees wat ook rekenskap van hulle gaan vra nie? Trouens, dit wil voorkom of evolusie vir één doel ontwerp is, en dit is om van God ontslae te raak!
'n Dame het by geleentheid vir die baie bekende evolusionis, Sir Julian Huxley, gevra waarom hy dink dat evolusie so vinnig veld gewen het in die wêreld. Hy het toe die aap uit die mou gelaat en gesê: "Ons het almal die idee van evolusie gegryp omdat die idee van God met ons seksuele voorkeure ingemeng het." Om te glo dat daar wel 'n God is wat alles geskep het bring ook mee dat ek aan hierdie God verantwoordelik is en dat Hy van my rekenskap gaan vra! Die enigste 'uitweg' uit die dilemma is om God 'uit die pad te redeneer. Die idee van evolusie dien hierdie doel natuurlik uitstekend en boonop klink dit nog wetenskaplik ook!
Ons wonderlike skepping en ons wonderlike Skepper
Toe ek vanoggend vroeg toe dit nog donker was gaan stap het, het ek dit so geniet om na die pragtige volmaan te kyk wat besig was om onder te gaan. "Hoe wonderlik", het ek vir myself gesê, "dat God ook die maan gemaak het om met sy betowerende skoonheid soveel vreugde vir ons as mense te bring." Dit het my ook laat dink aan ons wonderlike aarde en alles wat so noukeurig geskep is om lewe, en in besonder menslike lewe op aarde, te onderhou. Alles kan vergelyk word met 'n wonderlike simfonie waarin elke noot in verhouding met ander note sy plek het en ons bekoor.
Nêrens in die eindelose heelal met sy miljoene sterrestelsels is daar 'n planeet wat enigsins met ons aarde vergelyk kan word nie. Al die unieke eienskappe van ons wêreld getuig van spesiale ontwerp en 'n Goddelike Ontwerper. Ons aarde wentel om die son in 'n feitlik volmaakte sirkel. Dit is presies ook op die regte afstand. As die wentelbaan van die aarde om die son ellipsvorming, óf verder, óf nader was, sou oormatige hitte of koue lewe hier onmoontlik gemaak het. Die aarde draai ook om sy eie as teen presies die regte spoed om die regte dag- en naglengtes vir ons te gee. So word ook die regte gemiddelde temperature vir ons lewe voorsien. Die skuins helling van die aarde in sy verhouding tot die son voorsien vir ons die nodige klimaatwisseling vir ons seisoene.
Ons aarde se atmosfeer het presies ook die regte hoeveelheid suurstof (21%). Dit maak lewe vir ons moontlik, As hierdie vlak hoër of laer was kon ons nie lewe nie. As die stikstofpersentasie laer as 78% was sou ons ook nie kon bestaan nie. Die aantrekkingskrag van die aarde is ook presies reg om alles op aarde in plek te hou. Water, wat ons Skepper in oorvloed oor die aarde versprei het, is 'n onuitputlike bron van lewe vir mens, plant en dier. Geen lewe sou daarsonder kon bly voortbestaan nie. As temperatuur-reguleerder is water in die regte hoeveelhede en verspreiding onontbeerlik. Alle water is ook waar dit moet wees; bo-op die aarde, óf in die holtes onder die aardoppervlakte, óf in die lug! Die besondere eienskappe van water maak dit 'n leefplek vir visse wat vir miljoene ander voedsel voorsien.
Wat jy hier gelees het is maar 'n paar eienskappe wat noodsaaklik is om lewe op aarde te onderhou. Sou hierdie unieke planeet met sy saamgestelde gespesifiseerde kompleksiteit die produk van 'toeval' kon wees? Alleen 'n dwaas sou so kon sê. Sien Psalm 14:1. Ons aarde en sonnestelsel vereis 'n oneindeig Wyse Ontwerper en 'n Almagtige Skepper. Hy alléén moet geëer en aanbid word!
"Hy het gespreek en dit was; Hy het gebied en dit staan" – Psalm 33:9.
Waarom is daar geen half-geëvolueerde diere nie?
Het dit jou al opgeval dat deur al die eeue heen tot vandag toe, niemand weet of geweet het, van halfpad of 'n ent-ver geëvolueerde diere nie? Ons het sulke diere nie in ons dieretuine, ons wildreservate, ons voëlparke, ons akwariums, ons damme of die see nie. Sou die proses van evolusie dan iewers tussen die tientalle soorte gestop het – ek bedoel nou ook dié soorte waarna Darwin met sy "evolusieboom" verwys? Die antwoord is duidelik: Daar wás nooit half-geëvolueerde diere nie! As half-geëvolueerde diere in pre-historiese tye wel bestaan het, moes hulle fossiele iewers te siene gewees het.
Evolusie is 'n versinsel van mense wat weier om die feit van die skepping deur 'n wyse en almagtige God te erken. Die antwoorde op die twee hoofvra van hierdie reeks is duidelik:
WAT IS EVOLUSIE? – DIT IS 'N LEUEN!
KAN JY DIT GLO? – NEE, JY KAN DIT NIE GLO NIE!
Ongetwyfeld is dit die grootste leuen van alle tye. Dit het die denke van miljoene mense in beslag geneem. Hier in die eindtyd van die wêreldgeskiedenis gebruik Satan hierdie leuen by uitstek. Dit herinner ons ook aan die waarheid wat in 2 Thessalonicense 2 verse 11 en 12 geleer word. Wanneer mense God en sy Waarheid verwerp, gee Hy hulle oor aan "die krag van die dwaling". Dan glo hulle die leuen en bring God se oordeel oor hulle.
'n Voorlaaste vraag:
Waar kom al die ellende vandaan?
Miskien is jy saam met my in vervoering oor al die wonders van God se skepping. Maar, aan die ander kant wonder jy soms waarom daar so baie ellendes soos oorloë, siektes, dood en rampe is. Hierop gee die Bybel óók die antwoord. Die mens, as kroon van God se skepping, het gesondig. Dít beteken dat ons teen God gerebelleer het, en só ons verhouding met God verbreek is. As gevolg van ons sonde rus die vloek van God ook op ons en op die skepping. Dit is soos wanneer 'n gesonde liggaam deur siekte aangetas is. Wanneer ons as mense se verhouding nie met God herstel word nie, bly die oordeel van God op ons. Uiteindelik gaan ons ook as straf 'n ewige verderf weg van God se aangesig af ondergaan. So staan dit geskryf in die Nuwe Testament in die tweede brief van Thessalonicense, hoofstuk 1 vers 9.
Ek wil 'n laaste en persoonlike vraag aan jou vra:
Is jy alreeds 'n kind van God? As jy nog nie in jou verhouding met God herstel is nie, is die enigste manier waarop dit kán gebeur, dat jy doen wat Jesus gesê het jy moet doen. Dít is dat jy jou bekeer en in Jesus glo. Dít staan geskrywe in die Evangelie van Markus in hoofstuk 1 verse 14 en 15. Wat hierdie twee verse beteken, beskrywe ek meer volledig in 'n klein boekie met die titel "Hoe word ek 'n Kind van God?" Bestel dit gerus teen R10 elk, posgeld ingesluit, by Lig Publikasies, Posbus 15754, Lynn East, 0039. Hierdie boekie kan ál die verskil in jou lewe maak!