OUERS VIR CHRISTUS (6)

Ds. André van den Berg

Reeks by  Ouers vir Christus

Ons het verlede keer op die gevaar van oorbeskerming gelet.  Vandag meer oor die regte ouerbegeleiding

Begeleiding

Die regte manier

Met die regte begeleiding kan ouers hul kinders na vroeë volwassenheid lei sonder om hulle van hul kindwees te ontneem.  ‘n Mens is net eenmaal jonk, maar jy kan ‘n leeftyd onvolwasse bly.  Die regte begeleiding is om ‘n kind te leer om die gevolge van sy optrede self te dra. As ‘n kind nie verantwoordelikheid aanvaar nie, bly hy onvolwasse.

Dissiplineer jou kind met liefde. Hy het jou aanmoediging meer as enigiets anders nodig ten einde volwasse te word.  Moenie hom onnodig kritiseer of met ander kinders vergelyk nie. Moenie onnodig negatief wees nie.

Laat jou arms sterk genoeg wees om jou kind in sy nood op te tel, jou skoot sag genoeg dat hy jou sal vertrou, jou oog verskonend genoeg om geringe oortredings oor te sien en jou oor oop genoeg dat hy jou met groot vrymoedigheid van al sy wedervarings en toekomsdrome kan vertel.

Wanneer ‘n kind weerbarstig is en hom groot hou, is hy juis op sy weerloosste. Wanneer jou kind jou op ‘n afstand wil hou, het hy jou aandag en liefde juis die nodigste.  Kinders het ouers se hulp nodiger as wat ouers ooit sal besef.  Om hulle egter te kan verstaan en te help, moet ons weet watter dinge hulle beïnvloed sowel as beïndruk.

Jou kind se hoërskooljare is jou laaste kans om die verhouding met hom te verstewig en hom na volwassenheid te begelei.  Dis daardie tyd wanneer jy jou hand stadig van hom moet begin wegneem en hom aan die liefdevolle hand van jou hemelse Vader oorlaat.

Die verkeerde manier

Voorbeelde van verkeerde kinderbegeleiding is legio.  Om die waarheid te sê, is die tronke vol van hulle!  Ek het al dikwels mense jammer gekry vir die kinders wat hulle het.  Maar aan die ander kant het ek meer male kinders jammer gekry vir die ouers wat hulle het!

Ouers met onvervulde lewensideale dryf hulle kinders dikwels verby die punt van uitbranding.  Vir sulke ouers wil ek sê: “Hou op om julle verlore jeug deur julle kinders te laat herleef!  Laat hulle toe om hulleself te wees”.

Behandel jou kind soos wat jy graag behandel wil wees.  Moenie gedurig in sy ore neul en met hom raas nie.  Jy sal nie daarvan hou as iemand dit met jou doen nie!  In ‘n sekere sin is ‘n mens wat ander van hom maak. As ons gedurig met ons kinders foutvind en hulle wantrou, moet ons nie verbaas wees as hulle later niks met ons wil deel nie.

Kinders het ‘n groter behoefte aan goeie voorbeelde as aan kritiek.  Prys jou kinders openlik as hulle dit verdien, maar wys hulle ook terreg wanneer hulle fouteer.  Moet hulle nooit, maar nooit voor ander mense verkleineer nie. ‘n Geskeurde kinderhart herstel bitter swaar!

Dis darem so jammer as ouers maar Gods water oor God's-akker laat loop!

Ouers durf stout kinders nie maar hul gang laat gaan nie.  Daardeur word ‘n ongedissi-plineerde kind gekweek.  Elke kind vat maar kanse en is van tyd tot tyd stout.  Hy moet getug word, eerstens deur vermaning en as as dit nie werk nie, deur ‘n deeglike loesing.  Dit moet hom leer om reg op te tree.  As ouers dit nie doen nie, raak hy ongedissiplineerd en word so ‘n kind ‘n ergernis vir almal.  Daarom: Praat net eenmaal, nie twee keer nie.  Hy sal gou leer wat met hom gebeur indien hy nie op jou eerste teregwysing agslaan nie!

Ouers wat twee, drie en viermaal praat, kweek ‘n ongedissiplineerde kind.  Sulke ouers het miskien die tug nodiger as daardie kind!  Kinders steur hulle nie aan leë dreigemente nie.  En niks doen ‘n kind soveel skade soos paraplegiese ouers nie – dis nou daardie ouers wie se hande lam is wanneer dit by tug kom!

‘n Ouer wat ‘n kind nie na reg tug nie, moes nooit ‘n ouer gewees het nie.  Kinderopvoe-ding sonder die nodige tug is soos ‘n worsbroodjie sonder die worsie.  Onthou: Tug is nie iets wat jy aan jou kind doen nie, maar vir jou kind doen.  Tug is in werklikheid ‘n liefdesdaad.  Daardeur sê jy vir jou kind: “Ek wil nie hê dat jy verkeerd optree nie”. Die Bybel sê dat selfs God elkeen wat Hy liefhet tug.  Tug rig ‘n mens se lewe. Ouers wat kinders nie behoorlik tug nie, stuur hul kinders na die verderf.

‘n Paar jaar gelede het die polisie in Houston(VSA) ‘n pamflet uitgegee met die opskrif: HOE OM JOU KINDERS TE RUÏNEER. Dit lui as volg:

  1. Gee hom van babadae af alles wat hy wil hê.  Moet nooit vir hom nee sê nie.
  2. (ii) Lag as hy vloekwoorde aanleer en laat hom dit herhaal veral as jy kuiermense kry sodat hulle dit ook ammusant kan vind.
  3. (iii) Moenie met hom oor geestelike sake praat nie.  Wag dat hy eers groot is dan kan hy self besluit.
  4. (iv) Moenie vir hom sê dat hy verkeerd is nie. Dit sal sy selfbeeld skaad en hom ‘n skuldkompleks gee.
  5. (v) Tel alles op wat hy rondgooi. Dit sal hom leer om sy verantwoordelikheid op ander oor te skuif.

Die Houston polisie het gewaarborg dat dit 99% effektief werk!

Volgende keer: Een van die grootste klagtes is dat ouers nie meer tyd vir hul kinders het nie...