DIE STRYD OM DIE TROON (10)

Dr JP Botha

Lees reeks by Die Stryd om die Troon

GESKROEI TUSSEN TWEE VURE

Die 10 stamme word deur die Assiriërs weggevoer

Ek is Jesaja, die profeet van die Here, wat saam met my volk Israel en sy konings die aanslae van die Assiriërs en hul vorste deurgemaak het.  Israel - en ook Juda – was nog besig om te herstel van al die verraderlike aanvalle wat die Arameërs of Siriërs onder hulle leier Hasael gemaak het, toe die Assiriërs as nuwe vyand verskyn.

Hulle was wreedaards, wat met hulle bloedige veldslae, brandstigting en wegvoering van buit, hele volke gedeporteer het.  Die Here het hulle as instrument gebruik om Israel vir sy ongehoorsaamheid te tugtig.  Maar daarna het Hy hierdie wrede, oorlogsugtige heidense volk van die aarde af weggevee deur gebruik te maak van die haat van die volke wat deur hulle onderdruk is.

Die Assiriërs het in die Mesopotamiese plein gewoon, met die Siriese woestyn aan die westekant.  Die Babiloniërs het in die suide gewoon.  Een van die latere Assiriese konings, Sanherib, het Ninevé die hoofstad van Assirië gemaak.  In daardie tyd is die profeet Jona na Ninevé gestuur om oor die stad se ondergang te gaan profeteer.

Een van sy eerste konings, Tiglat-Pileser I, het meer as ‘n duisend jaar voor Christus al van Assirië ‘n magtige ryk gemaak.  Later is die ryk vergroot toe Assurnasirpal II oor die Eufraat getrek en die Middellandse See bereik het.  Sy seun en opvolger, Salmaneser III, het in 854 vC by Karkar teen die bondgenootskap van Agab van Israel, Benhadad van Aram en Irguleni van Hamat slag gelewer.  In hierdie stryd het Agab 2 000 strydwaens in die veld gestoot en sy ander twee bondgenote ook omtrent soveel.  Hulle het die Assiriërs na Ninevé teruggedryf, maar Salmaneser het groorpraterig beweer dat sy krygers droogvoets oor ‘n brug van lyke van die vyand die Orontesrivier oorgesteek het.

Maar die selfde Salmaneser III se mag het ‘n bietjie meer as tien jaar later só toegeneem dat hy in 846 vC vir Benhadad van Aram verslaan het en vir Hasael ook in die hoek gedryf het.  Hy het Hasael in 842 vC verslaan en vir Jehu van Israel belastingpligtig gemaak.

In 839 vC was Salmaneser al weer in botsing met Damaskus.  Sy opvolger, Adad-Nirari III (809-782 vC) het Assirië se mag nog verder uitgebrei.  Hy het Damaskus onderwerp en van hulle belasting ontvang, ook van Sidon, Tirus en van Israel, wat sy onderdanigheid aan die nuwe opkomende wêreldmag daardeur erken het, net soos die ander nasies wat deur hulle onderwerp is.

Die Here het vir my as sy profeet, almal van hulle se ondergang aangekondig.  Oor Assirië het Hy gesê:  “Ek sal die Assiriërs verpletter in my land, hulle op my berge vertrap.  Die juk wat op my volk gedruk het, sal weggevat word,  die las wat Assirië hulle laat dra het, sal verwyder word.”

Die Here se uitspraak teen Damaskus was:  “Damaskus gaan ophou om’n stad te wees, hy word ‘n puinhoop.”  Maar Hy het ons volk ook skerp aangespreek:  “Jy, Israel, het die God wat jou altyd gehelp het, verlaat; jy het gemaak of die Rots wat jou toevlug was, nie meer daar is nie.”

Oor die Filistyne het die Here my laat profeteer dat Filistyneland gaan wegsmelt, want die Here gaan hulle nageslag van honger laat sterf.  Oor Moab het die Here my beveel om te voorspel en bekend te maak dat daar binne drie jaar van sy mag en van sy baie mense min oor sal wees.  Egipte, wat so dikwels teen die volk van die Here opgetree het, sal ook gestraf word.

Die Here het my beveel om oor die opkoms en einde van Babel te profeteer:  “Daar kom ‘n man op ‘n strydwa, ‘n strydwa met perde.  Hy hou aan roep:  Geval, geval het Babel; al sy afgodsbeelde lê stukkend op die grond!”

In Israel het die verval al vinniger plaasgevind nadat die dinasti van Jehu beëindig is.  Die Assiriese koning Tiglat-Pileser III, het hieraan die grootste aandeel gehad, want sy uitbreidingspolitiek het al die klein rykies in Aram en Palestina ingesluk.  Hy het nie net alleen hierdie nasies onderwerp en van hulle tribuut ontvang nie, maar hy het hulle geannekseer en by sy staat ingelyf as provinsies van Assirië en hulle deur Assiriese goewerneurs laat regeer.  Om te verhoed dat daar opstande teen sy gesag in hierdie verowerde gebiede sou uitbreek, het hy die vernaamste inwoners gereeld weggevoer na vreemde gebiede toe en hul plekke met immigrante van elders gevul.

Daar het nietemin tog maar gereeld opstande plaasgevind.  Tiglat-Pileser III moes in 738 vC in Noord-Sirië teen ‘n koalisie onder leiding van Asarja van Juda veg.  Juda het hier vir Israel teen die Assiriër, wat ook koning Pul genoem is, gehelp, maar die aanslag het misluk.  Koning Menahem het aan Pul 34 ton silwer betaal om hom te beweeg om weer Israel se grondgebied te verlaat en Pul het ook belowe om Menahem te ondersteun in die handhawing van sy koningskap in Israel.

Teen 738 vC het Tiglat-Pileser alreeds tot by die Libanonberge gevorder.  Hy het oral in die gebied van Hamat Assiriese provinsies gestig.  Die konings van Biblos en van Tirus en Resin van Damaskus, as ook Menahem van Samaria en selfs die koningin van Arabië moes nou aan hom tribuut (belasting) betaal.

In die jaar 734 vC was koning Agas op die troon van Juda en koning Peka het in Samaria oor Israel regeer.  Peka het begin om ‘n nuwe bondgenootskap teen die Assiriese oorheersing te organiseer.  Koning Resin van Damaskus was al te gewillig om saam te werk, maar koning Agas van Juda het geweier.  Israel en Aram verklaar toe oorlog teen Juda, met die doel om Agas te onttroon en die heiden Tabel, in sy plek koning van Juda te maak.

Die Here het my toe met ‘n boodskap na Agas toe gestuur, om hom gerus te stel.  Hy het gesê:  “Sê vir hom:  Bedaar!  Bly kalm!  Moenie bang wees nie!  Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net.  Moenie bang wees vir die dreigemente van Resin en sy Arameërs en van Peka seun van Remalja nie.  Die Arameërs en die Efraimiete onder leiding van die seun van Remalja beplan jou ondergang.  Hulle het vir mekaar gesê:  Kom ons val Juda aan en oorrompel hom.  Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda.  Maar so sê Ek, die Here jou God:  Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie.”  Ek moes ook vir hom sê dat Efraim (die Noordryk) binne vyf of ses jaar so verwoes sou word dat hy geen volk meer sou wees nie.

Maar die ongelowige Agas was baie bang.  Hy het maar min geglo van wat die Here vir hom deur my gesê het.  Daarom het die Here toegelaat dat Peka van Israel en Resin van Aram vir Juda aanval en met ‘n swaar slag feitlik verpletter het.  Resin het ‘n groot klomp krygsgevangenes gemaak en hulle na Damaskus gestuur.  Daar het op een dag 120 000 man van Juda gesneuwel en Peka se manne het van hulle broedervolk 200 000 vroue en kinders en ‘n groot buit na Samaria geneem. Die vroue en kinders is later weer teruggestuur.

Juda is deur hierdie onnodige en verraderlike aanslag wat sy noordelike buurstaat saam met sy Aramese vyand teen hom uitgevoer het, in ‘n groot mate verswak.  Een van sy ou vyande, die Edomiete, het ook toegeslaan en ‘n aantal gevangenes weggevoer.  Ook die Filistyne het ‘n strooptog gemaak deur die Laeveld en die Suidland van Juda en ses van die stede met hul buitedorpe beset.

Agas het hulp gesoek teen al hierdie vyande wat op hom toegesak en vir Juda so verrinneweer het.  Hy het in hierdie tyd van nood by Assirië gaan aanklop en vir Tiglat-Pileser met goud en silwer uit die paleis en die tempel betaal om hom te kom help.  Koning Pul het toe met sy hordes teen Aram opgeruk en daarna teen Israel.  Hy het eers Damaskus ingeneem en al die inwoners na Kir weggevoer en vir Resin doodgemaak.  Daarna was Israel aan die beurt.  Hy het met sy leër aangestoot na die Libanondal en die afgeleë vestings in die Jordaandal verower.  Daarna het sy leër in vier afdelings vanuit die noorde die land suidwaarts gefynkam en sy stede een na die ander ingeneem, vanaf Ijon, Abel-Bet-Maäga, Janoag, Kedes, Hasor, Gilead, Galilea, die hele land Naftali, Jisreël en Saron.  Feitlik die hele bevolking van al hierdie gebiede is na Assirië weggevoer. Daar het min oorgebly.

Hierdie groot neerlaag van Israel teen die Assiriërs en die onsekere en troebel toestand wat onmiddellik daarna geheers het, het aan ‘n sekere Hosea geleentheid gebied om teen Peka saam te sweer en hom te vermoor.  Dit het geskied met medewete en goedkeuring van Tiglat-Pileser, wat hom toe as koning van Israel aangestel het in die jaar 732 vC.

Hosea moes toe vir die bietjie wat van Israel nog oorgebly het, hoë belasting aan Assirië betaal.  Koning So van Egipte het hom gedurig aangepor om teen sy onderdrukker in opstand te kom.  Toe Tiglat-Pileser in 724 vC dood is, het Hosea dit as ‘n geskikte geleentheid beskou om te rebelleer.  Hy het opgehou om verder belastings te betaal en met Egipte onderhandel oor nog verdere opstand teen die Assiriese onderdrukker.

Tiglat-Pileser se opvolger, Salmaneser V het nie op hom laat wag om die broeiende rebellie te kom onderdruk nie.  Hy het in 724 vC met ‘n groot leër suidwaarts na Samaria opgeruk.  Hosea het dadelik oorgegee.  Hy is na Assirië geneem en in ‘n tronk geplaas.

Salmaneser het begin om Samaria te beleër, met die doel om die stad in te neem en te verwoes.  Die beleg het twee jaar geduur.  Salmaneser se opvolger, Sargon II het dit in 722 vC verower en daarna begin om die inwoners in ballingskap weg te voer.  ‘n Groot aantal van hulle is na ander Assiriese provinsies geneem, soos na die gebiede van die Gaborrivier en Ninevé en na die stede van Medië, wat ‘n rukkie vantevore deur Assirië verower is.  In hulle leë plekke in Samaria is mense uit Babilonië en Hamat gevestig.  Hulle het in 716 vC selfs Arabiere hierheen gebring.

Hierdie heidense volke wat in die verowerde Israel kom woon het, het hul gebruike, kultuur en godsdiens saamgebring en hier beoefen.  Die Israeliete wat nog in die land oorgebly het en nie deur die Assiriërs weggevoer is nie, het hierdie vreemde gewoontes oorgeneem.  Uit die vermenging van die verskillende bevolkingsgroepe het die Samaritane ontstaan.

Die Assiriese verowerings het nie by Samaria geëindig nie.  In 713 – 712 vC het Sargon opstand gaan onderdruk in Asdod, in die land van die Filistyne.  Die opstand is gesteun deur farao Sabaku van Etiopië.  Sargon het agtereenvolgens Gibbeton, Ekron, Aseka, Asdod en Gat verower.

Die Assiriese wegvoering van die tien stamme van Israel het nie net alleen ‘n einde gemaak aan die Noordelike Koninkryk nie, maar ook aan die bestaan van ‘n groot deel van die volk wat dit eeue lank bewoon het, sodat daar tot vandag toe geen sekerheid bestaan oor hul bestemming en wat van hulle geword het nie.