DIE STRYD OM DIE TROON (2)

Dr JP Botha

Lees reeks by Die Stryd om die Troon

OP 'N ARENDSVLUG DEUR DIE EEUE

Die 42 konings wat oor Israel en Juda regeer het

Saul was baie verbaas toe Samuel hom as die eerste koning van die twaalf stamme gesalf het.  Maar in die eerste oorlog daarna teen die Ammoniete, het hy sy staal gewys.  Hy het gedurende sy hele regeringstydperk vanaf 1032 tot 1012 vC stryd gevoer teen Israel se vyande.  Na sy dood was sy seun Isboset twee jaar lank koning oor die noordelike stamme, maar intussen is Dawid gekroon as koning van Juda en kort daarna van die hele Israel.  Hy het gedurende sy 40-jaarlange regering ‘n groot ryk opgebou.  Sy seun Salomo het die troon in 972 vC bestyg.  Hierdie ryk en slim koning het die volk so swaar belas dat Israel na sy dood in 932 vC teen sy seun en opvolger Rehabeam in opstand gekom het omdat hy nie hulle las wou verlig nie. Jerobeam het met  tien stamme van Israel weggebreek en net die twee stamme, Juda en Benjamin, het aan die huis van Dawid getrou gebly.

Die tien stamme met die goddelose afgodsdienaar Jerobeam as koning, is daarna “Israel” genoem en die twee stamme wat vir Rehabeam as koning erken het, is voortaan “Juda” genoem.  In Juda het Abia, die seun van Rehabeam, in 915 vC die troon bestyg.  Gedurende die drie jaar wat hy tot 912 vC regeer het, het hy goed begin, maar spoedig in afgodery versink, maar tog het die Here hom in sy oorloë teen Jerobeam ondersteun, want die Here het aan Dawid beloof dat daar altyd ‘n nakomeling van hom op die troon sou wees.

In Israel het Jerobeam se seun Nadab (911- 910 vC) sy pa se gruwelike afgodery voortgesit, totdat hy na slegs twee jaar op die troon, na ‘n sameswering deur Baesa (910 – 887 vC) vermoor is.  Toe Baesa koning word, het hy Jerobeam se nakomelinge almal uitgeroei.  Baesa het net sulke gruwelike afgodediens soos sy voorgangers beoefen.  Sy goddelose seun Ela het hom in 887 vC opgevolg.  Hy het daarin geslaag om twee jaar lank op die troon te bly, totdat hy in 886 vC deur Simri, ‘n offisier by die strydwaens, vermoor is.  Die “genot” wat Simri gesmaak het om koning van Israel te wees, was baie kort.  Hy is sewe dae later deur die leërowerste, Omri om die lewe gebring.  Hierdie Omri is deur Israel in 885 vC tot koning uitgeroep.  Hy was erger en slegter as al sy voorgangers met sy afgodediens.  Hy was twaalf jaar lank op die troon en het vir Israel ‘n nuwe hoofstad, Samaria, gebou.  Sy seun Agab het hom in die jaar 873 vC as koning opgevolg.  Gedurende sy lang regering tot 854 vC, het hy saam met sy heidense vrou Isébel, Israel tot gruwelike afgodediens verlei.

Onderwyl die vyf konings van Israel vanaf Baesa tot by Agab mekaar na redelik kort tydperke opgevolg het, het daar in die ooreenstemmende tyd net twee konings in Juda regeer.  Abia is in die jaar 912 vC deur sy seun Asa opgevolg.  Asa het getrou gebly aan die Here.  Hy het die afgodsbeelde stukkend gekap, maar teen die einde van sy lang koningskap het hy hulp gesoek by die Arameërs teen Baesa van Israel, wat hom aangeval het.  Hy is in 871 vC opgevolg deur sy seun Josafat. Hierdie goeie koning het die afgodediens in Juda uitgeroei.  Hy was ‘n vroom koning wat die heilige boomstamme in Juda verwyder het.  Die Here het hom ‘n oorwinning laat behaal in ‘n oorlog teen die Moabiete en Ammoniete.  Sy seun Joram het in 854 koning van Juda geword.  Joram was getroud met Atalia, die dogter van Agab en Isébel van Israel.  Hierdie goddelose koning het al sy jonger broers vermoor en die Baäl-diens in Juda ingevoer.  Die Here het buitelandse vyande gebruik om hom te teister en Elia gestuur om ‘n oordeel oor hom uit te spreek.  Hy het van ‘n vretende siekte in sy ingewande ‘n aaklige dood gesterf.

Een van sy tydgenote was Ahasia, seun van Agab, wat in 854 vC koning oor Israel geword het.  Hy was soos sy pa ‘n Baäl-aanbidder wat die goue kalwers gedien het.  Hy het deur sy paleisvenster geval en is noodlottig beseer.  Elia het sy dood aangekondig.  Sy broer Joram het hom as koning van Israel opgevolg.  In sy regeringstyd, wat van 853 tot 842 vC geduur het, het die Arameërs Samaria beleër, maar die Here het die stad op ‘n wonderbaarlike wyse gered.  Die genesing van Naäman die Arameër, het ook in sy tyd plaasgevind.  Gedurende Joram se stryd teen die Arameërs wou hulle vir Elisa vang, maar hy het hulle Samaria binnegelei, nadat die Here hulle verblind het.  Koning Joram het hulle feestelik onthaal en huis toe gestuur.

Joram was ‘n tydgenoot van koning Ahasia van Juda, saam met wie hy teen koning Hasael van Aram opgetrek het.  Daarna het Ahasia vir Joram wat gewond was, in Jisreël gaan besoek.  Jehu, wat pas in 842 vC tot koning van Israel gesalf is, het albei van hulle om die lewe gebring, ook vir Isébel en al die afstammelinge van Agab.  Jehu het van 842 tot 814 vC oor Israel regeer.  Hy het die afgodery uitgeroei en al die Baäl-aanbidders in hul tempel om die lewe gebring.

Intussen het die jong koning Joas op sewejarige ouderdom in 836 vC in Juda aan bewind gekom.  Hy was die seun van Ahasia.  Hy is deur sy tante Joséba en die priester Jójada gered, toe Atalia, na die dood van haar seun Ahasia, al die kleinkinders wat op die troon kon aanspraak maak, laat doodmaak het.  Joas was aan die begin ‘n wonderlike koning vir Juda, maar hy het as ‘n afgodedienaar geëindig en is in 797 vC vermoor.  In Israel is Jehu in 814 vC deur sy seun Joahas opgevolg.  Die Here het hierdie goddelose koning gestraf deur Israel se gebied aanhoudend deur Aramese bendes te laat plunder.

In 798 vC het die volgende afstammeling van Jehu koning van Israel geword.  Dit was Joas, seun van Joahas.  Hy het met sy goddeloosheid en afgodedienary Israel verder op hierdie verderflike pad gelei.  Gedurende die laaste dae van Elisa, het Joas teen die Arameërs opgetrek en hulle drie maal verslaan.

Onderwyl hierdie Joas koning van Israel was, het Joas van Juda se seun Amasia in 797 vC die troon in Juda bestyg.  Hy het die Here so half en half gedien en ‘n oorwinning oor die Edomiete behaal, maar toe vir Joas van Israel aangeval en die onderspit gedelf.  Hy is deur samesweerders om die lewe gebring.

Gedurende die volgende halfeeu, vanaf 788 tot 734 vC het daar drie konings in Juda geheers.  Amasia is deur sy seun Asarja opgevolg.  Hy is ook Ussia genoem.  Hy was vroom en het die wil van die Here gedoen, maar toe hy hoogmoedig word, wou hy self die wierookoffer op die altaar bring.  Die Here het hom met melaatsheid getref.  Sy seun Jotam het hom in 737 vC as koning van Juda opgevolg.  Hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here.  Hy het die Ammoniete verslaan en hoë belasting van hulle geëis.  Juda het weer magtig geword.  Maar na sy dood word sy seun Agas toe koning van Juda.  Hy het van 734 tot 727 vC regeer en was ‘n afgodsdienaar by uitstek.  Hy het selfs beelde van die Baäls laat giet en sy kinders as offers aan hulle verbrand.  Die Here het hom gestraf.  Juda is deur Aram aangeval, wat baie krygsgevangenes na Damaskus weggevoer het.  Ook die Edomiete het hom aangeval en baie gevangenes geneem.  Agas het hulp by Assirië gesoek, maar nie gekry nie.  Hy het ‘n verpletterende neerlaag teen Peka van Israel gely, maar het die Here met sy verskriklike afgodediens bly uittart tot sy dood in 727 vC.

Gedurende die gesamentlike regeringstydperk van Juda se vier konings, Amasia, Asarja, Jotam en Agas, het Israel se laaste sewe konings gekom en gegaan.  Die goddelose Joas se goddelose seun Jerobeam II het hom in 783 vC opgevolg.  Hy het dapper geveg teen Damaskus en Hamat en Israel se grense weer herstel.  Hy is in 743 vC deur sy goddelose seun Sagaria opgevolg.  Hy het Israel se troon na ses maande nog skaars warm gesit, toe Sallum hom aangeval, doodgemaak en as koning opgevolg het.  ‘n Maand en ‘n paar dae daarna is hy op sy beurt weer deur Menáhem in Samaria aangeval en vermoor.  Hy het regeer van 742 tot 738 vC.  Tiglat-Pileser het met sy Assiriërs teen hom opgetrek en Samaria bedreig.  Menáhem het hom onderwerp en moes toe ‘n belasting van  1 000 talente silwer betaal.

Sy seun Pekahia was die volgende goddelose koning van Israel.  Hy het net een jaar lank regeer.  Sy adjudant Peka het hom met behulp van ‘n klompie samesweerders in sy huis doodgemaak en hom self koning gemaak.  Hy het regeer vanaf 737 tot 732 vC.  Toe die Assiriërs se bedreiging teen Israel te heftig word, het Peka tevergeefs gaan hulp soek by koning Resin van Aram in Damaskus en ook by koning Agas van Juda.  Tiglat-Pileser III het Israel binnegeval en die inwoners van al tien noordelike stamme van Israel na Assirië weggevoer.  Met die Assiriese vors se medewete is Peka in Samaria deur Hosea vermoor.  Die Assiriër het toegelaat dat Hosea in 732 vC koning word van die verflenterde Israel wat feitlik nog net uit die inwoners van die stad Samaria bestaan het.  Hosea het egter opstandig geword teen Salmaneser, die volgende koning van Assirië.  Toe hy probeer hulp soek by koning So van Egipte, het Salmaneser die stad kom beleër en na drie jaar ingeneem.  Hosea is as gevangene saam met die inwoners na Ninevé weggevoer.

So het die koninkryk van Israel (die Noordryk) in 722 vC finaal aan sy einde gekom.  Dit het plaasgevind toe die goddelose koning Agas op die troon van Juda was.  Die Suidryk was bevoorreg om daarna nog deur agt verdere konings regeer te word.  Agas se opvolger was sy seun, die vrome Hiskia, wat van 714 tot 685 vC regeer het.  Toe hy koning was, het Sanherib met sy Assiriërs Jerusalem bedreig, maar die Here het self die Assiriese leër verslaan en vir Hiskia en Jerusalem gered.  Toe Hiskia siek word en sou sterf, het die Here sy lewe met 15 jaar verleng.  Sy opvolger was sy goddelose seun Manasse wat van 685 tot 642 vC met sy stinkende afgodediens vir Juda meer as ooit besoedel en laat sondig het.  Hy het sy eie seun as offer verbrand en hom besig gehou met goëlery, waarsêery en toordery en het baie onskuldige mense om die lewe gebring.

Na hom het sy ewe goddelose seun Amon in 641 vC koning geword..  Hy was as 24-jarige koning net twee jaar op die troon, toe sy amptenare teen hom saamsweer en hom vermoor.  Voordat een van hulle kon koning word, het die volk ingegryp en al hierdie samesweerders om die lewe gebring en Amon se agtjarige seuntjie Josia as koning gekroon Hy het vanaf 639 tot 608 vC oor die reeds wankelende Juda regeer en was die laaste vroom koning van die suidelike ryk.  Hy het alle afgodediens vernietig, die tempel en tempeldiens herstel en hom met hart en siel tot die Here bekeer en die volk in die wet van die Here onderrig en gelei.  Maar hierdie goeie koning Hosea se lewe het tragies geëindig.  Hy het hom bemoei met die stryd tussen Egipte en Assirië en het in die geveg by Megiddo teen farao Nego gesneuwel.

Die koninglose volk het weer ingegryp en ‘n seun van Josia, die 23-jarige Joahas hulle volgende goddelose koning gemaak.  Maar farao Nego het drie maande later vir Joahas gevang en hom in Egipte in die tronk gestop.  Hy het vir Eljakim, ‘n ander seun van Josia, aangestel om in Jerusalem te regeer en sy naam verander na Jojakim, wat van 608 tot 597 vC regeer het.  Hierdie 25-jarige goddelose koning moes hoë belasting aan die farao betaal.

Die Egiptiese en Assiriese magte se bloeityd was egter verby met die opkoms van die Babiloniërs onder Nebukadnesar.  Juda, met Jojakim aan die hoof, het onder die hiel gekom van hierdie nuwe Galdese mag.  Drie jaar later het hy afvallig geword van Babel.  Nebukadnesar het hom gestraf deur aanhoudend bendes op strooptogte deur Juda se grondgebied te stuur en hom uiteindelik self aan te val.  Jojakim het in een van die gevegte gesneuwel.

Sy 18-jarige seun Jojagin het hom in 597 vC opgevolg en drie maande lank in Jerusalem regeer.  Nebukadnesar het hom saam met ‘n groot gevolg en al die skatte van die tempel, na Babel weggevoer.  Na ‘n gevangenskap van 37 jaar is hy begenadig en verhef en lewenslank deur die koning van Babel onderhou.  Nebukadnesar het Jojagin se oom Mattanja, in sy plek koning gemaak en sy naam verander in Sedekia. Hy was die laaste goddelose koning van Juda wat van 597 tot 586 vC in Jerusalem regeer het.  Toe hy dit na elf jaar waag om in opstand te kom, het Nebukadnesar opgetrek en Jerusalem totaal verwoes.  Die vlugtende Sedekia is gevang en na Babel geneem.  Hy moes toekyk hoe sy seuns geslag word.  Daarna het hulle sy oë uitgesteek en hom verder geboeid tot sy dood in die gevangenis geplaas.

Jerusalem is letterlik vernietig.  Sy muur is afgebreek, ook die tempel, al die huise en die paleise.  Al die inwoners, met uitsondering van die heel armstes, is na Babel weggevoer.  Hierdie Babiloniese ballingskap van die Jode sou 70 jaar lank duur, voordat die Here ‘n deel van hulle weer teruggestuur het, om onder leiding van Serubbabel en Nehemia die tempel te herbou en die muur om Jerusalem weer op te rig.