JOHANNA WESSELS – GEBORE DE LA REY

Lees reeks by Heldedade in ons geskiedenis

HELDEDADE IN ONS GESKIEDENIS

Hoewel heldedade gewoonlik met doodsgevaar gepaard gaan, bly ‘n tikke humor tog nie altyd uit nie. So was daar die geval van die kranige Johanna Wessels, gebore De la Rey – ‘n eie tante van die latere beroemde Boeregeneraal. Die gebeure waarvan hier vertel word, het in die laat dertigerjare van die negentiende eeu afgespeel toe die Voortrekkers pas die landstreke anderkant die Groot- en Vaalrivier ingetrek het.

Buskruit is lewe as jy elke dag jou vryheid teen wilde dier en mens moet verdedig. Maar buskruit kry jy net in die ou Kolonie, en die vryheid is oorkant die Grootrivier. Nou wil die Kaapse regering nie meer toelaat dat die kruit oor die rivier geneem word nie. So probeer hulle om hul wederstrewige onderdane van weleer, wat in ‘n Groot Trek uit die land verhuis het, weer terug te dwing.

Mattheus Wessels en sy vrou, Johanna, het ook getrek, en hulle woon nou op die plaas Tafelkop naby Winburg. Maar die kruit raak min.

“Dan gaan haal ons,” sê Johanna. “Ons het buitendien negosiegoed ook nodig.”

Die Wesselse reis met die ossewa tot by Colesberg, die naaste dorp oorkant die grens. Hulle koop en laai. Daar is genoeg buskruit vir ‘n jaar.

“Ek verstaan die patrollies is deesdae baie bedrywig daar by die rivier rond,” sê Mattheus bekommerd. “As hulle ons net nie voorkeer met al die kruit nie, want dan vat hulle dit nog boonop.”

“Ons druk maar aan en hoop vir die beste,” antwoord Johanna. “Dalk is ons fortuinlik.”

Hulle kom veilig uit die dorp weg, maar sommer by die eerste uitspanplek, terwyl Johanna nog haar vuurtjie stook om die koffiewater aan die kook te kry, slaan daar stoffies net hier agter die bult uit. En voor Mattheus nog tot verhaal kan kom, duik die eerste ruiters op.

Dit is ‘n grenspatrollie.

Mattheus Wessels bly vasgenael agter die wa staan. Al waaraan hy kan dink, is: “My kruit – my kosbare buskruit! Nou is alles verlore.”

Maar daar is nog Johanna.

“Laai af die kruit,” beveel sy.

“Aflaai?,” vra Mattheus verslae. “Haai nee, Johanna! Dis te gevaarlik.”

“Dan sal die patrollie ook nie die kruit daar kom soek nie,” antwoord Johanna, en sy lê die eerste sakke so ‘n tree of twee van die vlamme af neer.

“Johanna..,” wil Mattheus nog protesteer, maar hy kom nie verder nie want Johanna vat al haar tweede sakkie. Toe sit hy ook hand by.

Die sakkies buskruit word netjies gestapel, Johanna gooi ‘n kombers daaroor en plaas ‘n kussing heel bo-op. Daar gaan sy hoog en droog sit.

Net toe trek die patrollie hulle perde agter die wa in.

“Ek het ‘n lasbrief om elke wa wat die Kolonie verlaat, te deursoek vir buskruit,” sê die offisier.

“Soek maar, Kaptein,” sê Johanna. “Ons ken die wet.”

Mattheus het nog nie sy stem teruggekry nie. Met groot oë staan hy na haar op haar gevaarlike troon en staar. Ewe doodluiters buk sy af en gooi nog ‘n paar takkies op die vuur. Die vlamme gryp gulsig daarna; dit knetter en kraak, en die vonk spat. Die water in die ketel begin sing.

Die patrollie soek die wa deeglik deur maar daar is niks te kry nie. “Jammer dat ons julle lastig geval het,” sê die kaptein, en hy wil sommer weer vertrek.

“Wat van ‘n bietjie koffie, Kaptein?” nooi Johanna vriendelik. “Die water is nou net reg.”

“Dit sal lekker wees, dankie,” antwoord die offisier, en hy stap nader.

“Maar Johanna..,” sê Mattheus, en sy oë rek nog ‘n bietjie groter.

“Sit sommer solank hier op my plek, Kaptein,” bied Johanna gul aan. “Ek wil net die koffie maak.”

“Dankie,” sê die kaptein, en hy skuif homself niksvermoedend op die stapeltjie buskruit reg.

Daar word koffie geskink en koffie gedrink. Galant wil die kaptein weer sy sitplek vir Johanna ontruim maar sy bring sommer vir haar ‘n voustoeltjie nader. Sy gesels land en sand. Net Mattheus sê nie boe of ba nie.

Met ‘n hartlike groet neem die patrollie eindelik afskeid, en die stofstreep veryl in die verte.

“Hemel, vrou,” sê Mattheus, en hy vee die sweet van sy voorkop af. “Jy kon dood gewees het. As daar net een vonkie in daardie buskruit gespat het, was dit verby met jou.”

“Toe nou maar, die vonkie het nie gespat nie, en ek lewe nog,” antwoord  Johanna.

“En toe laat jy daardie vent ook nog op die kruit sit,” mor Mattheus vir oulaas.

“Dis nie ek wat die moeilikheid begin het nie,” antwoord Johanna.

“Hoekom moes ek dan alleen in die gevaar wees? Kom ons laai dat ons kan ry.”

Die buskruit het veilig op Tafelkop aangekom.

 

Uit Die Afrikaanse Heldeboek – Pieter W Grobbelaar