Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hierdie boodskap geld ook vandag vir Suid-Afrika: "...So spreek die HERE HERE aangaande die inwoners van Jerusalem, in die land Israel: Hulle sal hul brood met kommer eet en hul water in stomme smart drink, sodat hulle land, van sy volheid beroof, woes sal lê van weë die geweldpleging van almal wag daarin woon." Eségiël 12:19
17 FEBRUARIE 1838 - BLAAWKRANTZ
UIT DIE DAGBOEK VAN EERWAARDE ERASMUS SMIT
Die man sit en skryf in sy tent terwyl die vrou buite deur die laer stap. Sy is nog in die gloed van haar jare met hare en oë soos die nag, maar vir die man het dit reeds winter geword en skemer dit al witter in sy baard. Albei het uit die verre Europa hier na Afrika gekom: hy uit die koue Lae Lande by die see, sy uit die warm Italiaanse suide. Hulle is deur geen band aanmekaar gevind nie, en hul weë sal net eenmaal kruis. Die man se pad loop onder 'n ster, al is sy liggie ook maar flou, en sy aangenome volk sal hom nie vergeet nie; maar Therese, die vrou, verskyn soos 'n komeet en verdwyn.
Op hierdie middag toe die man daarbinne sit en die vrou buite stap, weet hy nog niks van haar nie. Hy is eerwaarde Erasmus Smit wat as sendeling na Suider-Afrika gekom en later onderwyser geword het, maar toe die groot landsverhuising begin, het hy saam met sy swaer Gerrit Maritz, die Voortrekker-leier, die onbekende aangedurf. Die Trekkers staan nou juis hier in Natal, en dit lyk asof alles sal regkom, want die land is vrugbaar, en daardie oggend het Pieter Retief, hul verkose goewerneur, met 'n groep manskappe na die Zoeloekoning, Dingane, vertrek om die transaksie te beklink waardeur 'n ruim stuk grondgebied aan hulle afgestaan sal word. Eerwaarde Smit buk oor sy dagboek en skryf:
"Donderdag, 25 Januarie 1838. In droë en stil weer het ons in die veldtent van die edele heer Retief vergader vir die oggenddiens, en in ons gebede het ons die goewerneur en almal wat saam met hom sou reis na die stat van die Zoeloe-koning, Dingane, aan God en aan sy veilige leiding, bewaring en beskerming asook hul gelukkige terugkeer, in genade opgedra."
Therese Viglione het nooit werklik 'n kans gehad nie maar sy het die armoedige bestaan in haar vaderland afgeskud en in 'n nuwe wêreld haar geluk kom beproef. Sy het hard gewerk hoewel daar altyd tyd was om te sing en dans ook, want sy is uit 'n vurige volk wat maklik hul vreugde en hartseer verkondig. Dis waarom sy die Boere nie kan verstaan nie. Hulle is so in hulleself gekeer. Maar sy respekteer hulle vir hul dapperheid.
Toe die hele Kaapkolonie gevul is met die gerug van die groot landsverhuising, het die besluit dadelik by haar posgevat: sy gaan saam om te kyk en handel te drywe. Dit het moeilik gegaan maar eindelik het sy drie waens vol negosieware gereed gemaak, met drie jong Italiaanse mans om haar te help, en hier is hulle nou tussen die Trekkers.
"Donderdag 1 Februarie 1838. Laasnag het hier twee reisigers te perd aangekom met die berig dat twee Zoeloes aan die oorkant van die Boesmansrivier vir 'n Zoeloe op die duskant geroep het dat die kommissiemense na Dingane almal dood is."
Daar is gerugte dat Dingane hom verraderlik teen goewerneur Retief en sy manne gekeer en hulle om die lewe laat bring het, maar niemand kan dit bevestig nie. Die mense wag.
Eerwaarde Smit bly besig met sy geestelike werk. 'n Kindjie word begrawe, twee pare trou, Sondag hou hy kerk, en daar is 'n groot opkoms. Nuwe lidmate word voorgestel en ingeseën, kinders gedoop. Donderdag is daar weer biduur vir die sending na Dingane.
Therese doen fluks sake, en die Trekkers ontvang haar vriendelik, maar tog bly sy vir hulle 'n vreemdeling. Bedags ry sy van laer tot laer met haar handelsware, maar saans span sy liefs eenkant uit.
"Saterdag, 17 Februarie 1838. Verlede nag en vandag was die droewigste van ons hele lange reistog. In die vroeë oggendure is ons skielik gewek met die alarm dat die Zoeloes vyandig aanval. So vinnig as wat ons kon, het ons al ons waens en die waens in ons nabyheid in 'n driedubbele laerkring getrek om die vyand af te wag. God verhoed dat hulle ons aanval!"
In die donkerste van die nag skrik Therese wakker van vreemde geluide wat op die stil lug na haar oorgedra word. Sy pluk haar tentflap oop om beter te kan luister. Ja, dis onmiskenbaar roepende stemme, honde wat wild blaf en hier en daar 'n geweerskoot tussenin.
Therese tyfel nie nog nie. Sy het die Trekkers hoor praat en gis, en sy weet nou: Retief is dood, en dis die Zoeloes wat aanval. Haar Italiaanse makkers is ook uit, en sy hoor hulle opgewonde redeneer oor waar hulle die veiligste kan gaan skuil.
"Die mense verder weg weet nog nie van die aanslag nie. Ons moet hulle waarsku!" roep Therese.
Die drie mans swyg, en dan bars hulle los:
"Waarsku in die nag met die Zoeloes oral? Jy is van jou sinne af!"
"Dan gaan ek alleen," sê Therese en sy stamp al klaar die swaar rystewels aan haar voete. Toe hardloop sy met haar saal om die wa. Haar geoefende hande vat raak, en sy praat met die perd in haar soetvloeiende taal wat vreemd onvanpas klink in hierdie nag van verskrikking. Die dier luister na haar stem, en die hoewe donder weg deur die duisternis.
Sy ry al langs 'n riviertjie op. Met die heen en weer trekkery om haar negosieware van die hand te sit, het sy 'n goeie idee hoe die waens in los groepies verspreid staan. Maar wie sal tog vir haar sê waar die Zoeloekrygers oral voorspoed en uit watter skuilplaas hulle op haar kan spring?
Therese dink daaraan, en die nabyheid van die gevaar laat haar vreemd ontbonde voel, soos wanneer sy sing en dans – en meer nog; dit verhit haar bloed en tintel op haar vel. In hierdie nag hou sy haar lot en dié van baie ander in haar hande.
Sy swaai by die eerste trek waens in en skree die mense wakker. Toe jaag sy verder.
"Sondag, 18 Februarie 1838. Dit het ons genadige en barmhartige God en Vader behaag dat Hy die son van hierdie geheiligde Sabbat, die dag van die HERE, oor ons en ons tente laat skyn. Met bitter kommer, droefheid, stille gebede en wakend het ons die nag deurgebring. Die laaste tydings van gister meld dat baie families uitgewis is. Die getal dooies, sover ons weet, van wit en bruin is in een dag meer as vierhonderd siele, mans, vrouens en kinders. Ag, God! Hoe gedug, hoe groot is u oordele nie oor ons nie!"
Daar koms slegs gedeeltelik stilte ná die stormagtige nag. In die plek van die wilde krygsrumoer klink nou die gedempter stemme van bedroefdes en gewondes. Ook Therese se dolle opwinding van haar gevaarvolle rit is uitgewoed. Sy voel leeg en 'n bietjie verleë en half gekul omdat alles so gou verbygegaan het, maar sy ry nader om haar hulp te gaan aanbied.
"Dinsdag, 20 Februarie 1838. Ons het deur 'n brief van 'n Engelsman van Gerrit Maritz tyding gekry dat ons waardige goewerneur Pieter Retief met al sestig sy manskappe deur die Zoeloes om die lewe gebring is. Ek het weer, soos die vorige dae, buite die laer gegaan om in ons nood tot God te bid... Hoe is ons dapper goewerneur en sy manne tog nie getref nie, en hul oorskot en gebeente lê soos gekloofde hout op die aarde. O, hoe het die helde geval en is die wapens van die kryg verstrooi!"
Toe Therese eers onder die gewondes begin rondbeweeg en die eindelose geduld sien waarmee andere hulle verpleeg, word 'n nuwe vreugde in haar wakker. Daar is ook moed nodig, dit besef sy nou, vir die stille diens van elke dag.
"Maandag, 26 Februarie 1838. Hier is 'n Italiaanse juffrou Therese Viglione met drie Italiaanse mans by haar drie negosiewaens in ons laer. Sy het haar tydens die aanval van die Zoeloes heldhaftig soos 'n man gedra. Hulle vertel dat sy blitsvinnig haar perd opgesaal en tussen die mense die rondte gedoen het om hulle te waarsku sodat hulle op hul hoede kon wees. Sy het ook daarna die gewonde kinders na haar tent geneem en met haar medisynes, salwe en balsems behandel, waarvoor sy veel lof in die laers verwerf het."